Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MGD bied 67-minuut virtuele Mandeladag-viering
Outeur: Maties Gemeenskapsdiens / Maties Community Service
Gepubliseer: 10/07/2020

​Matie Gemeenskapsdiens (MGD) neem sy Mandeladag-aktiwiteite vandeesmaand aanlyn met 'n virtuele bespreking van 67 minute oor “Personeel-welstand tydens COVID-19 en daarna" wat dit afskop op 17 Julie. MGD is in die Afdeling vir Sosiale Impak gebaseer.​

“Vanjaar, ter ere van Mandeladag, nooi ons US-personeel om vir 67 minute te stop en te besin oor ons huidige meganismes om die ongekende onsekerheid in hierdie tyd te hanteer. Personeel en studente sal genooi word om aan ons universiteit-gemeenskap van hul wysheid, kundigheid en ondervinding terug te gee oor prioritisering van welstand en geestesgesondheid tydens die pandemie met al sy gepaardgaande uitdagings en angs," sê me Renee Hector-Kannemeyer, Hoof van MGD en Adjunk-Direkteur van die Sosiale Impak-divisie.

Die aanlyn-gesprek, tussen 12:30 en 13:37, vind plaas onder die voorsitterskap van dr Gillian Arendse, voormalige Adjunk-Direkteur van die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies by die Universiteit Stellenbosch (US). Paneellede sluit in prof Soraya Seedat, Uitgelese Professor van Psigiatrie en Uitvoerende Hoof van die Departement Psigiatrie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die US; dr Lynne Damons, sielkundige en lektor in die Departement Opvoedkundige Sielkunde in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US; en me Shibu Mamabolo, Hoof: Werknemer Welwees aan die US.

“Daar is 'n tasbare gevoel van angs in Suid-Afrika en die res van die wêreld soos ons die globale pandemie en grendeltye ervaar. Ons nuusopskrifte is gevul met stories oor die toename in infeksies en sterftes wêreldwyd en in ons eie land. Hierdie werklikheid is uitgelig deur ons Rektor, prof Wim de Villiers, wat erken het dat die Universiteit Stellenbosch, 'soos alle ander akademiese instellings in die land en wêreldwyd, hom bevind in 'n snelveranderende en onthutsende omgewing' sowel as die bestaande onsekerheid, vrees en kommer wat bestaan op 'n institusionele en persoonlike vlak."

Deur hierdie virtuele verbinding sal MGD die kundigheid van die paneellede deel met personeel en besprekings loods oor praktiese metodes waarop deelnemers geestesgesondheid en welstand kan prioritiseer. Personeel sal ook die geleentheid kry om hul ondervindings tydens die pandemie en grendeltyd te deel.

“Vir baie personeellede dwing die nuwe normaal tydens hierdie krisis ons om aanlyn te werk in 'n poging om ons ooreengekome uitkomste te lewer, terwyl ons ons kinders tuis onderrig, kindersorg verskaf vir klein kinders, en sorg vir bejaarde familielede, en dit alles terwyl ons ander aspekte van die huishouding aan die gang hou," sê Hector-Kannemeyer

Hierdie krisis word vererger deur ander faktore in Suid-Afrika en in die wêreld.

“Daar is 'n voortdurende toename in buitensporige en wrede geweld teen vroue en kinders en 'n groeiende aantal moorde op vroue in Suid-Afrika, wat nou deur ons President die tweede pandemie genoem word. Ons het ook die verpligte verskuiwing van sowat 2000 huislose Suid-Afrikaners gesien na wat geblyk het 'n onbewoonbare kamp te wees in 'n poging om infeksies hok te slaan, 'n wêreldwye ekonomiese afswaai wat reeds tot werkverliese gelei het, insidente van polisiewreedheid in ons gemeenskappe, en die voortgesette strukturele rassisme in alle sfere van die gemeenskap wat weer in die kollig gekom het met die #BlackLivesMatter beweging.

MGD sal ook twee geleenthede aanbied vir personeel en studente op 29 en 31 Julie.

Hierdie geleenthede sal fokus op die kunste, poësie en musiek en ook webinare en gesprekke insluit.

“Hierdie virtuele kontaksessies is bedoel om ons te help om vir mekaar ruimte te skep tydens hierdie krisis. Ons moet stop, asemhaal en weer kontak maak met ander in ons universiteitsgemeenskap terwyl ons poog om 'n 'goedgebalanseerde werksmag te bevorder wat in staat is om optimaal te funksioneer in 'n bemagtigende, sorgsame en ondersteunende werkomgewing.'