Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Dataskool het ‘mededingende voorsprong’, sê nuwe stuurman
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel & Sonika Lamprecht]
Gepubliseer: 09/07/2020


Prof Kanshukan Rajaratnam het onlangs by die Universiteit Stellenbosch aangesluit as die nuwe direkteur van die US se nuutgevestigde Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke. En hy was van die afskop af bemoedig deur “hoe belangrik die sukses van die skool vir almal is".

Met 'n PhD in Stelselsingenieurswese en bestuursondervinding van die Universiteit van Kaapstad (UK) waar hy onder andere adjunkdekaan: Transformasie en Strategiese Projekte en waarnemende dekaan van die Fakulteit Handel was, beskik hy oor 'n magdom kennis en ondervinding vir sy nuwe rol.

Rajaratnam sê baie universiteite wêreldwyd het datawetenskap as 'n baie belangrike veld geïdentifiseer weens die dataryke wêreld waarin ons onsself bevind. Dit het die wedloop vir die vestiging van skole wat op datawetenskap fokus, aangevuur, en hy is die persoon wat die US uit die wegspringblokke moet kry.

Volgens Rajaratnam het die US 'n mededingende voorsprong. “Danksy ons leierskap het die US op 'n unieke wyse van die norm afgewyk. Die skool is gevestig om nie net op datawetenskap nie, maar ook op rekenaardenke te fokus. Ons bied dus 'n unieke waardeproposisie aan studente, navorsers en die bedryf. Ek is opgewonde om deel van die vorming en groei van 'n belangrike deel van die Universiteit se toekoms te wees."

Hy het reeds die eerste twee mylpale op die pad na die vestiging van die skool geïdentifiseer. Die eerste is om die skool eerste beheerraadvergadering te hou en ooreenstemming oor die pad vorentoe te bereik in die vorm van 'n bedryfsplan. “Gegewe die uiteenlopende verteenwoordiging in die beheerraad, sal die plan een wees wat wyd aanvaar word deur die verskeie rolspelers wat belangrik is vir die skool," sê hy. Die beheerraad het vroeg in April vergader om die pad vorentoe te bespreek.

Die tweede mylpaal is om so gou as moontlik kortkursusse en werksessies te begin aanbied. “Dit is 'n goeie manier om vir studente, die navorsingsgemeenskap en die bedryf van nut te wees. Dit is ook 'n manier om mense bymekaar te bring." Met dit in gedagte, het die skool in Junie die Afrika Datawetenskapakademie (ADSA) bekendgestel en sal hulle in Julie twee kortkursusse aanbied. Die kursusse word deur die Afrika Doktorale Akademie (ADA) geadministreer. Die wêreldbekende ADA het baie ondervinding in die aanbieding van sulke kursusse. Die vraag na hierdie kortkursusse beteken dat ADSA binnekort hierdie kursusse sal moet herhaal. “Die bekendstelling van ADSA en die kortkursusse is 'n belangrike mylpaal vir die skool."

Rajaratnam is vol vertroue dat hy gedurende sy tyd as adjunkdekaan en as waarnemende dekaan die nodige ondervinding opgedoen het om verhoudinge regoor verskillende eenhede te bou om 'n gemeenskaplike doel te bereik. “Hierdie ondervinding sal handig te pas kom wanneer jy 'n skool wil opbou wat by die verskillende aktiwiteite wat met datawetenskap en rekenaardenke by 'n verskeidenheid fakulteite verband hou, inskakel.

“Dit was baie opwindend om hier aan te land en om regoor die Universiteit verskeie navorsingsaktiwiteite in hierdie veld te vind. Die resultate van hierdie aktiwiteite gaan 'n betekenisvolle uitwerking op Afrika hê. En ek kan op 'n baie klein manier deel daarvan wees."