Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente speel ʼn integrale rol in die lewering van gesondheidsorg: bevindinge van Suid-Afrika
Outeur: Ian Couper, Julia Blitz, Susan van Schalkwyk & Jana Müller
Gepubliseer: 09/07/2020

Hierdie artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. Lees die volle artikel hier.

​Berigte van regoor die wêreld dui daarop dat die tekort aan professionele gesondheidsorgpraktisyns in openbare gesondheidsorgstelsels vererger sal word deur die toenemende vraag na gesondheidsdienste weens die COVID-19-pandemie. Namate die pandemie nader aan die verwagte hoogtepunt beweeg, sal dit 'n merkbare uitwerking op die voorsiening van gesondheidsorg regoor alle sektore hê.

Navorsing in Afrika suid van die Sahara toon watter waardevolle rol mediese studente kan speel om die lewering van gesondheidsorg te ondersteun. Dit sluit die verbetering van die gehalte van pasiëntesorg in.

Vrae word soms geopper of studente wat met hul opleiding besig is, 'n las op die gesondheidstelsel kan wees. 'n Ugandese navorsingstudie het byvoorbeeld bevind dat sommige bestuurders glo studente kan hulpbronne uitput.

Ons siening is egter dat voorgraadse studente wat met hul gesondheidsorgopleiding besig is, 'n onontginde bron is. Ons het navorsing oor hierdie kwessie gedoen deur bestuurders en klinikusse se ondervinding met studente wat met hul opleiding in hul gesondheidsinrigtings in Suid-Afrika besig is, te ondersoek.

Ons het onderhoude gevoer met die personeel by agt inrigtings wat al vir jare 'n wye verskeidenheid studente uit verskillende studierigtings ontvang. Die studente was deel van 'n program wat in die negentigerjare deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch begin is om studente op te lei om primêre gesondheidsdienste te lewer.

Die program het die plasing van voorgraadse gesondheidspraktisyns by meer as 80 landelike en stedelike openbare gesondheidsinrigtings behels. Hulle het onder die toesig van 'n klinikus wat reeds by die inrigting was, gewerk. Dit inrigtings het streeks- en distrikshospitale, gemeenskapsgesondheidsentrums, rehabilitasiesentrums, hospiese en ander nieregeringsorganisasies ingesluit. Studente uit verskillende studierigtings – dieetkunde, geneeskunde, verpleging, arbeidsterapie, fisioterapie en spraaktaal- en gehoorterapie – gekom.

Ons navorsing het getoon dat dit verskeie positiewe uitkomste gehad het om senior gesondheidswetenskapstudente by die alledaagse beoefening van gesondheidsorg te betrek. Die studente het gehelp om die werkslading in gesondheidsinstellings te verlig en het die gehalte van pasiëntesorg verbeter. Hulle het pasiënt- en personeelbevrediging bevorder en het 'n leerkultuur aangemoedig.

Ons bevindinge

Ons het bevind dat studente 'n baie groot bydrae tot gesondheidsorg kan lewer, veral in tye soos nou.

Die studente in die proefinrigtings was besig met hul opleiding in die geneeskunde, arbeidsterapie, fisioterapie en dieetkunde.

Personeel by die inrigtings het die studentebetrokkenheid as voordelig vir gesondheidsorgdienste vir beide die personeel en pasiënte beskryf. Hulle het ook gesê dit was vir die fasiliteit self voordelig om hulle daar te hê. Studente se bydrae is soos volg beskryf: help met werkslading, bevorder pasiëntbevrediging, verbeterde pasiëntsorg en bevorder gemeenskap se siening van die diens.

Die studente het ook 'n bydrae gelewer deur die ontwikkeling van 'n leeromgewing te fasiliteer. Dit het byvoorbeeld klinikusse gestimuleer om op hoogte van bewyse te bly, en dit het die gebruik van huidige protokols aangemoedig. Individue het se werksbevrediging en persoonlike groei het verbeter deur hierdie skakeling. Studente is nie as 'n las gesien nie.

Ons het egter bevind dat studente by roetine-aktiwiteite betrokke moes wees om hierdie voordele te geniet. Dit het aan hulle die geleentheid gegee om deur alledaagse praktyke meer te leer.

Ander faktore wat tot die studente se doeltreffendheid bygedra het, was: hul vaardighede en kennis, hul senioriteit en duidelike leiding van die universiteit.

Ons bevindinge is soortgelyk aan vroeëre navorsing. 'n Suid-Afrikaanse studie wat voorheen in landelike gebiede onderneem is, het beskryf hoe gesondheidsorgpersoneel, pasiënte en gemeenskapslede almal gevind het dat die studente voordelig is vir gesondheidsorg deur bykomende hulp te verleen en die pasiëntelading te verlig.

In Uganda, het gemeenskappe die bydrae van gesondheidswetenskapstudente by omliggende gesondheidsinrigtings baie waardeer en geloof vir hul omgee, deernis en beskikbaarheid.

In Swede het mediese studente by 'n hospitaal wat voorheen op die lewering van gesondheidsdienste gefokus het, die leerklimaat van die organisasie verbeter het en die struktuur van die kliniese werk versterk.

Wat is volgende?

Suid-Afrikaanse studente is die afgelope 15 jaar al hoe meer by 'n aantal opleidingsfasiliteite buite die sentrale akademiese hospitale betrek. Die gevolg was dat riglyne oor hul plasing in 'n groter verskeidenheid gesondheidsorgfasiliteite uitgereik is. Dit doen 'n beroep op hoëronderwysinrigtings en gesondheidsdienste om saam te werk om verspreide opleiding te bewerkstellig.

Alle gesondheidswetenskapstudente het gesondheidsdiensfasiliteite verlaat toe universiteite aan die begin van die COVID-19-staat van inperking met 'n verpligte reses begin het. Senior studente kan nie in die klaskamer leer nie, aangesien hul opleiding baie prakties is. En dit was nie altyd so eenvoudig om hulle na hul kliniese plasings te laat terugkeer nie.

Ons hoop gesondheidsorgfasiliteite sal senior studente terug verwelkom in hierdie omgewings. Ons hoop dat die bestuur van hierdie inrigtings die plasing van studente aktief sal aanmoedig. Dit geld veral noudat die land COVID-19 moet beveg.

Sommige aspekte van gesondheidsorg ontvang egter ook minder aandag omdat hulpbronne benodig word om die pandemie aan te spreek. Dit sluit die voorkoming van TB en naspeuring van TB-gevalle in, asook roetine-gesondheidsdienste vir kinders jonger as vyf jaar, ondersteuning en rehabilitasie van mense met gestremdhede en die bestuur van chroniese siektes.

Gegewe die huidige eise wat aan bestuurders en klinikusse by gesondheidsorginrigtings gestel word, sal dit waardevol wees indien universiteite hul opleidingsvennote kan herinner aan die rol wat studente kan speel ter ondersteuning van die lewering van gesondheidsorg.

Meer oor die outeurs

*Prof Ian Couper is die Direkteur by die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid en professor in Landelike Gesondheid in die departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US); 

Jana Müller is die Samewerkende Sorgkoördineerder by die US se Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid; 

Prof Julia Blitz is die Vise-dekaan: Onderrig en Leer aan die US; en 

Prof Susan van Schalkwyk is 'n professor in Gesondheidsberoepe-onderwys aan die US. 


Foto: n Arbeidsterapie-student help n pasient by n gesondheidsentrum in Bishop Lavis.

Foto krediet: Nardus Engelbrecht