Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Taryn Young: New hoof se visie vir Globale Gesondheid
Outeur: Tyrone August
Gepubliseer: 07/07/2020

Leierskap neem baie verskillende vorme aan. Party mense streef na individuele uitnemendheid sodat ander hulle voorbeeld kan volg; ander verkies om op samewerkende inisiatiewe te fokus om sodoende ʼn hoogsbekwame span te bou. En dan is daar diegene wat daarna streef om albei benaderings gesamentlik te volg.

Professor Taryn Young, die nuut-aangestelde uitvoerende hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement Globale Gesondheid, is in hierdie innoverende kategorie.

“Ek glo vas daarin om ʼn goeie voorbeeld te stel wat ander kan volg, en poog om ʼn Departement te skep wat leer en navorsing vir impak bevorder," sê sy. “Ek voel dat as hoof van die departement ek as ʼn rolmodel moet dien vir wat ons gedoen wil kry."

Young het terselfdertyd baie breër doelwitte: “Toe die pos beskikbaar geraak het, was dit die natuurlike volgende stap om die groei voort te sit wat ons [in die departement] doen om kapasiteit te bou, om die volgende generasie te bemagtig om in staat te wees om die verskeie gesondheidsprobleme wat ons het aan te spreek. Vir my was dit die volgende stap om in staat te wees om ʼn verskil te maak."

Sy is beslis goed geplaas om hierdie parallelle doelwitte na te volg. Vandat sy in 2008 by die universiteit se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangesluit het, het sy in verskeie velde uitgeblink – van navorsing tot onderrig tot die inlig van gesondheidsbeleide en -praktyke.

Young se spesifieke spesialisveld is epidemiologie, en sluit uitgebreide navorsing oor MIV/Vigs, seksueel-oordraagbare siektes en openbare gesondheid in. Ter erkenning van haar aansienlike kundigheid, sal sy aan die hoof bly van die departement se Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek, asook die direkteurskap van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (CEBHC) behou, bykomend tot haar nuwe posisie.

“Ek dink dit is baie belangrik om relevante navorsing met impak te doen," sê sy. “En as ons daardie navorsing doen moet ons verseker dat ons metodes van goeie gehalte gebruik, en die navorsing in ʼn tydige wyse lewer sodat dit die ontwikkeling van riglyne op WGO- [Wêreldgesondheidsorganisasie] of nasionale vlak inlig."

In hierdie opsig stel Young duidelik ʼn goeie voorbeeld. As ʼn C1 Nasionale Navorsingstiging-gegradeerde wetenskaplike, is sy die outeur of mede-outeur van meer as 100 portuurbeoordeelde artikels en boekhoofstukke, sy is ʼn lid van die Akademie van Wetenskap vir Suid-Afrika, en het sopas by die Suid-Afrikaanse Nasionale Gesondheidsnavorsingskomitee aangesluit.

Verder weg is sy ook ʼn lid van verskeie internasionale advies- en tegniese komitees, en het sy onlangs aangesluit by die WGO Riglyn-hersieningskomitee vir ʼn drie-jaar lange termyn.

Benewens navorsing is vaardigheidsontwikkeling Young se ander jarelange passie – “die bou en bemagtiging van die volgende generasie". Sy beklemtoon dat bemagtiging, en wat sy beskryf as navorsing vir impak, hand-aan-hand gaan vir haar.

“As ons van globale gesondheid praat in die departement, praat ons oor ʼn veld wat billikheid in gesondheid probeer bevorder," verduidelik Young. “En ons doen dit deur oor dissiplines en sektore heen te werk, en die bevordering van ʼn sterk samewerkende benadering om in staat te wees om globale probleme aan te pak.

​“Om dit te kan doen, moet ons kapasiteit bou. Ons beplan verskeie aktiwiteite, insluitend om die konsep van globale gesondheid by alle voorgraadse programme in te sluit, sodat studente ʼn verskil kan maak aan globale gesondheid in watter loopbaan hulle ook al navolg as hulle klaar graad gevang het. Voorts beplan ons ook ʼn paar nagraadse inisiatiewe om meer gevorderde vaardighede te bou wat gekoppel is aan globale gesondheid."

Hierdie doelwitte is in lyn met ʼn vyfjaarplan wat verlede jaar ontwikkel is toe sy die waarnemende hoof van die departement was terwyl haar voorganger, prof Usuf Chikte, met sabbatsverlof was. Die departement se kernbeginsel – die bevordering van billikheid in gesondheid deur kruisdissiplinêre, intersektorale en samewerkende benaderings – beklemtoon hierdie doelwitte.

“Ons werk nie net in die departement nie, maar ook oor die fakulteit, oor al die ander departemente in die fakulteit, en ook buite die fakulteit," verduidelik Young. “Ons werk met verskeie ander belanghebbendes. Byvoorbeeld, binne die Universiteit Stellenbosch werk ons met eenhede by ander kampusse soos die sielkunde departement en die Besigheidskool.

“Dan het ons ook verskeie samewerkende projekte buite die universiteit waar ons by ander akademiese instansie aansluit, binne in Suid-Afrika (soos Wits Universiteit of die Universiteit van Kaapstad) asook oorsee (byvoorbeeld die Liverpool Skool vir Tropiese Geneeskunde).

“Ons werk ook saam met ons provinsiale en nasionale gesondheidsdepartemente, ons skakel met die WGO, asook ander entiteite. Vennootskappe en samewerking is die kern van wat ons doen."

Young se nuwe rol as hoof van die departement – saam met haar ander twee posisies – sal vanselfsprekend enorme eise op haar tyd maak. Maar sy is vol vertroue dat meer as genoeg voldoende vaardighede en stelsels in plek is om haar te ondersteun: “Om ʼn goeie en sterk span te hê maak dit makliker.

“Ons het die afgelope paar jaar as ʼn sterk span saamgewerk by die CEBHC en die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek. So ek kan met gemak baie aktiwiteite delegeer of opdeel tussen die verskillende spanlede. 

“Ek het verlede jaar en hierdie jaar baie tyd daaraan spandeer om seker te maak dat ons goeie stelsels en prosesse in plek het. Dit stel mens in staat om meer tyd te hê om leierskap te verskaf, om in nuwe areas te ondersoek en om die implementasie van die strategiese plan te dryf."


Foto-erkenning: Damien Schumann