Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-kenner help Covid-19-taakspan om sportgeleenthede veiliger te maak
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 02/07/2020

ʼn Sport- en oefeningkenner van die Universiteit Stellenbosch (US) is ʼn lid van ʼn hoëvlak- internasionale Uitbreekvoorkomingstaakspan wat ʼn gratis aanlyn instrument ontwikkel het om geleentheidsorganiseerders te help om die Covid-19-risiko gedurende uithousportgeleenthede te takseer en te verlaag.

Dié aanlyn instrument is in rekordtyd ontwikkel deur ʼn groep kenners van sommige van die wêreld se vooraanstaande sportorganisasies, insluitende World Athletics, die International Cycling Union en die International Institute for Race Medicine. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) was ook in ʼn waarnemershoedanigheid by die projek betrokke.

“Nood leer bid, lui die spreekwoord. Aan die begin van 2020 het niemand van ons gedink ʼn pandemie sou talle vorme van liggaamlike aktiwiteit en die sportbedryf skielik tot stilstand dwing nie," het prof Wayne Derman, Direkteur van die Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde (Isog) aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), gesê. “Om aktief te wees hou mense gesond en baie mense word ook deur uithousport in diens geneem – van professionele atlete tot die organisasies wat massabyeenkomste reël. Die afgelope drie maande het diegene van ons verantwoordelik vir uithousport derhalwe probeer help om sport te laat terugkeer in ʼn omgewing wat so veilig moontlik is," aldus Derman, wat ook ʼn verteenwoordiger van die Internasionale Paralimpiese Komitee is.

“Die instrument het ten doel om organiseerders te help om die risiko van ʼn beplande geleentheid te takseer, die gemeenskap en die geleentheidsorganiseerders se gereedheid vir die risiko van Covid-19 vas te stel en enige stappe uit te stippel wat nodig is om die risiko verder te verlaag," het Derman gesê oor die Aansteeklike Siekte-uitbreekbestuursintrument (Asub) wat verlede week internasionaal van stapel gestuur is.

Om die instrument te gebruik vul geleentheidsorganiseerders besonderhede daaroor aanlyn in, wat dan ʼn pasgemaakte verslag genereer wat hulle kan help om besluite te neem om die plaaslike gemeenskap, deelnemers, vrywilligers, die werkmag en die betrokke personeel te beskerm. Dit bied nie raad oor toeskouerdeelname nie. Die instrument is deur die mediese taakspan ontwikkel en is gegrond op WGO-instrumente en -dokumente.

“Ons wou organiseerders help om die uiteenlopende risiko's van die pandemie te verstaan. Die instrument bepaal die status van die pandemie waar die geleentheid plaasvind, byvoorbeeld of dit aktief is, afneem of aan bykomende golwe onderhewig is. Voor ʼn entstof gevind is, gaan daar nooit ʼn nul-risiko wees nie. Pleks daarvan het ons gekyk na die strategieë wat gebruik kan word om daardie risiko so veel as moontlik te verlaag," het hy gesê.

Die instrument is van toepassing op en gratis vir alle massadeelname-uithougeleenthede, ongeag watter sport, mededingingsvlak of omvang. Dit stippel verpligte temperingsmaatreëls uit wat deur geleentheidsorganiseerders ooreenkomstig hulle spesifieke omstandighede onderneem moet word, asook aanbevole en wenslike maatreëls, en benadruk dat al die verpligte en die meeste van die wenslike maatreëls aanvaar moet word as die geleentheid sou plaasvind.

“Dis ʼn instrument wat vrae vra soos: Sluit die geleentheid atlete in van wêrelddele waar die pandemie dalk meer aktief is, of is dit net ʼn plaaslike geleentheid? Sal toeskouers teenwoordig wees of nie? Watter planne is beraam vir die moontlikheid van ʼn uitbreking tydens die geleentheid en kan mense veilig na die plaaslike hospitaal verwys word? Is die kos- en watertafels en die mense wat dit gebruik voldoende beskerm? Dit is derhalwe ʼn instrument van onderrig en van risikovermindering.

“Die gebruik van die instrument waarborg nie dat ʼn geleentheid sal kan plaasvind nie, want elke geleentheid sal aan plaaslike toestande, wette en goedkeuring deur die nodige owerhede onderhewig wees. Ingevolge huidige regulasies in Suid-Afrika word geen massa-uithousport toegelaat nie. Maar wanneer hierdie regulasies opgehef word, kan geleentheidsorganiseerders die instrument gebruik om die risiko te takseer en plaaslike owerhede met ʼn oorwoë plan te nader," het Derman gesê.

Die templaat vir hierdie aanlyn instrument kan deur ander uithou-sportsoorte gebruik word.

“Die gebruik van die instrument is nie ʼn oplossing vir die Covid-19-uitbreking of vir ander aansteeklike siektes nie, maar dit sal riglyne aan geleentheidsorganiseerders verskaf deur ʼn proses wat gewoontevormend moet word en voor elke geleentheid gevolg moet word," het dr Paolo Emilio Adami, mediese bestuurder van World Athletics, gesê. “Daar sal nooit ʼn nul-risiko vir aansteeklike siektes wees nie, maar ons wil geleentheidsorganiseerders help om die risiko tot ʼn aanvaarbare vlak te verlaag."

Die instrument is by idom.worldathletics.org beskikbaar.


Foto-erkenning: Stefan Els