Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoekom was Afrikaner Ekonomiese Bemagtiging meer effektief as Swart Ekonomiese Bemagtiging?
Outeur: Jantjie Xaba
Gepubliseer: 30/06/2020

Daar was verskeie redes waarom Afrikaner Ekonomiese Bemagtiging meer effektief was as Swart Ekonomiese Bemagtiging, skryf dr Jantjie Xaba (Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie) in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (29 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Jantjie Xaba*

Ondanks baie beloftes, het Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BSEB) ná 1994 nie dieselfde voordele gebring as wat die ekonomiese bemagtiging van Afrikaners (AEB) ná die Groot Depressie van 1930 opgelewer het nie. Albei programme was op werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en welsynsdienste gegrond.

Anders as BSEB, het AEB egter verder as dit gestrek deur op die Helpmekaarvereniging-tradisie om kapitaal te mobiliseer wat tot volkskapitalisme aanleiding gegee het. Sedert 1994, het BSEB soortgelyke strategieë – binne 'n ander politiese en ekonomiese omgewing met 'n groot, diverse bevolking as teiken – ingespan, maar dit het daarin misluk om die voordele vir swart mense te op te lewer weens verskeie makro- en mikro-faktore.

In my onlangse doktorale studie fokus ek op hoe die vier dimensies van bemagtiging, naamlik ekonomie, polities, maatskaplik en kultureel op makro-vlak opereer en hoe hulle op 'n mikro-vlak toegepas is. Om BSEB en AEB te vergelyk, het ek Yskor – wat sedert 2004 as ArcelorMittal Suid-Afrika (AMSA) bekend staan – as 'n gevallestudie gebruik deur toepaslike dokumente te ontleed, in-diepte onderhoude te voer en fokusgroepbesprekings met huidige en oudwerknemers en bestuurders, asook vakbondamptenare te hou.

Wanneer 'n mens hierdie twee programme vergelyk, moet 'n mens die aard en die rol van die welsynstaat verstaan. Sedert 1924 het die Nasionale Party (NP) onder AEB 'n welsynstaat met die ondersteuning van Afrikaner Nasionaliste gevestig wat maatskaplike dienste ontplooi het. Dit is deur wetgewing, fiskale stappe en 'n groot netwerk van semi-staatsinstellings in stand gehou om arm blankes te bemagtig.

Met Keynesianisme as grondslag, is hierdie semi-staatsinstellings, insluitende Yskor, gebruik om die staat se ontwikkelingsagenda te ondersteun wat die verskaffing van beskermde werkverskaffing, behuising, onderwys en mediese dienste aan wit werknemers en hul gesinne behels het. In Vanderbijlpark, het die Yskor Behuisingsmaatskappy en VESCO hierdie funksies verrig. Onder BSEB, het die ANCE 'n ontwikkelingstaat gegrond op 'n liberale model gevorm wat mark-gebaseerde, privaat bydraende skemas met minimum regeringsondersteuning vir maatskaplike dienste gebruik. In vergeleke met AEB, het dit min uitwerking gehad.

Wanneer 'n mens die vier dimensies van bemagtiging, soos hierbo genoem, van nader bestudeer, word dit duidelik dat politieke bemagtiging 'n kollektiewe stryd is om armes se beheer oor hulpbronne en regulerende instellings en die transformasie van bestaande magsverhoudings uit te brei.

Afrikaner nasionaliste het apartheid as polities-wetlike raamwerk aanvaar om wit Afrikaners te mobiliseer en die grondslag vir AEB te verskaf. Die Afrikaners Broederbond het begunstiging gebruik om Afrikaners stelselmatig in beherende poste en as eienaars in staats- en semi-staatsinstellings aan te stel om die mag en beheer van Engelsesprekende wittes te verminder en om Afrikaners wat nie by die NP geaffilieer was nie, meer gematigd te maak. Ná 1948 het Afrikaner Nasionalisme 'n kragtige politieke mag gebly wat werksgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling binne die openbare sektor en staatsdiens bepaal het.

Die ANC het regstellende aksie en BSEB aanvaar om demografiese wanverteenwoordiging in aanstellings en bevorderings binne semi-staatsinstellings aan te spreek. Die party het sy kader-ontplooiingstrategie gebruik om swart mense en vroue in senior bestuursposte en as nie-uitvoerende direkteure van die Yskor-raad aan te stel. Diepe rasse verdeling het egter hierdie beleid oorskadu aangesien wit werknemers by AMSA steeds meer mag gehad het. Daarby is senior bestuurs-, middelbestuur-, opsiener- en geskoolde poste steeds deur wit mense oorheers, terwyl swart mense tussen 83 en 96 persent van die ongeskoolde en halgeskoolde werksmag uitgemaak het.

Ekonomiese bemagtiging is daarop gemik om mense die toepaslike vaardighede en toegang tot veilige, volhoubare inkomstes en 'n bestaan het. Sedert die depressie het makro-ekonomiese beleid op openbare herverspreidingsbeleide soos belasting, oorplasings en regeringspandering gefokus. Tot vandag toe is ekonomiese bemagtiging tot telkaarte, grafieke, indekse en tellings verminder. Sedert 1924 was die AEB met die ondersteuning van wit vakbonde 'n projek van die nasionalistiese regering om welsynsvoordele te verskaf, om standaard indiensneming met gereelde ure, pensioene en diensvoordele aan arm blankes te verskaf. Hierdie kombinasie van rassistiese arbeidsmarkbeleide, maatskaplike welsyn en gunstige kredietreëlings het die wit elite in staat gestel om professioneel en opsieners te word en om hul reële salarisse te verhoog. Dit het vir baie wit mense tot sosiale beweeglikheid gelei aangesien baie by loopbaanbevordering binne en buite Yskor gebaat het.

Sedert die sewentigerjare is staatsinstellings daarvoor gekritiseer dat hulle te groot en ondoeltreffend was om die groeiende skuld te hanteer. Die NP-regering se reaksie op die krisis was die aanvaarding van 'n landswye program vir die privatisering van staatsinstellings te aanvaar, insluitende Yskor in 1989. In 1994 het die ANC dieselfde strategie toegepas deur die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (GOP) te aanvaar om besteding aan maatskaplike ontwikkeling te verhoog, maar het dit later omgekeer toe die party sy inisiatief vir Groei, Indiensneming en Herverdeling (GEAR) in werking gestel het. GEAR het op die bespoediging van fiskale groei, die bevordering van tariefhervorming, die herstrukturering van die openbare sektor en die voortsetting van die heroriëntasie van besteding aan dienslewering aan die armes gefokus. Ná die bevryding van handel, het staaltariewe van 30 persent tot 5 persent gedaal, wat 'n ooraanbod van goedkoop Chinese staalprodukte in die Suid-Afrikaanse mark veroorsaak het. Dit het tot 'n vermindering in verkope en produksie, asook kapasiteitsbenutting gelei.

Onder die nuwe ekonomiese beleid en nuwe bestuur, het AMSA se aantal voltydse werkers van 14 000 in 1990 tot 8 500 in 1998 en tot 6 000 in 2016 gedaal. AMSA het ook 'n strategie van arbeidsmarkbuigbaarheid aanvaar met 50% van sy werknemers wat tydelike, deeltydse werkers en subkontrakteurs was wat deur Monyetla Arbeidsmakelaars, 'n filiaal van VESCO, verskaf is. Verder het AMSA ook funksies en dienste soos brandbestryding, spyseniering, sekerheid, fasiliteitsbestuur en skoonmaakdienste wat nie deel van die maatskappy se kerndienste was nie, uitgekontrakteer wat wit werknemers bevoordeel het en onbestendige werksgeleenthede vir die meerderheid swart werkers geskep het.

Die rol van kultuur in instaatstellende bemagtiging word al lank deur sosiale wetenskaplikes gedebatteer. Die Franse sosioloog Pierre Boudieu het kultuur as 'n vorm van “kapitaal" erken wat materiële voordele inhou en in 'n wye reeks bates soos taaldienste, wetenskaplike kennis en opvoedkundige kwalifikasies omskep kan word. Sosiale wetenskaplikes het in onlangse debatte sosiale kapitaal gebruik om te verduidelik hoe arm mense koppelings-, oorbruggings- en skakelkapitaal deur sosiale netwerke ontwikkel om morele verantwoordelikheide en norme en sosiale waardes te kweek ten einde sosiale bemagtiging te bevorder.

My studie het gebind dat burgerlike organisasies soos die Broederbond, die Helpmekaarvereniging en die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) 'n belangrike rol in AEB gespeel het om wit Afrikaners te organiseer en hul verskillende belange in die samelewing uit te spreek, asook om kapasiteit te bou en bewustheid te kweek oor die mobilisasie van hulpbronne. Dit beklemtoon die rol van mense, burgerlike organisasies en netwerke as hulpbronne om bemagtiging te bevorder. AEB-leiers in Vanderbijlpark het die helpmekaar-tradisie gebruik om aan arm wit mense 'n vorm van opleiding, beurse en ondersteuning vir die vestiging van Afrikaanse ondernemings te gee.

Die Broederbond het die Sakekamer gevestig om sosiale netwerke en samewerking tussen wit sakelui te fasiliteer en gemeenskaplike voordele tussen Afrikaners en sakelui en die regering te ontgin. Yskor het die Yskor-klub gestig met lidmaatskap wat tot wit mense beperk was om die ontwikkeling van “gemeenskap" te kweek en die ontwikkeling van sosiale kapitaal te bevorder.

Ondanks hul berugte rassebeleid, het die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) tot die maatskaplike bemagtiging van die Afrikaner in Vanderbijlpark bygedra deur die Calvinistiese leerstellings van die Protestante uit die laat agtiende eeu te verkondig en toe te pas. Die NGK het die Afrikaner-gemeenskap in 'n kulturele stelsel georganiseer en die beginsels van harde werk, respek vir die owerhede en 'n onverdraagsaamheid jeens oneerlikheid of korrupsie aangemoedig. Ten opsigte van taal, het die wit Afrikaners geglo dat die Britse Ryk se beleid van anglisasie hul taal vernietig het. Die Broederbond het deur sy Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) Afrikaans gebruik om 'n homogene groepsidentiteit te ontwikkel, nasionalisme uit te bou en groepskohesie onder wit mense te kweek.

Onder BSEB is sosiale bemagtiging vernietig deur die gebrek aan samewerking tussen die politiek, ekonomie en burgerlike organisasies. Die probleem is verder vererger deur die feit dat burgerlike organisasies voor 1994 op die voorgrond van maatskaplike verandering was deur vir die demokratiese regte en sosiale geregtigheid te veg, maar ná 1994 is hulle deur die regering op die kantlyn geplaas. Ondanks die Ubuntu-kultuur en stokvels in swart gemeenskappe, het baie min organisasies behalwe forums in die werksplek in swart woongebiede bestaan om sosiale bemagtiging te bevorder. AMSA het Afrikatale onderdruk, met Engels en Afrikaans wat die oorheersende tale was. Godsdiens in Vanderbijlpark het sekularisasie ondergaan met die disintegrasie van ou kerkverbande en die opkoms van nuwe charismatiese kerke.

Dit is duidelik dat AEB meer doeltreffend as BSEB was. Hoewel ekonomiese bemagtiging AEB se uiteindelike doelwit was, is dit deur polities-regs- en sosiokulturele dimensies ondersteun. Tweedens is die AEB se makro-ekonomiese beleid deur 'n Keynesiaanse denkskool ondersteun waar die staat, handel en wit vakbonde 'n sosiale kontrak gesluit het om die armes op te hef. Laastens het burgerlike organisasies 'n belangrike rol in die ondersteuning van AEB en die ontwikkeling van sosiale kapitaal gespeel deur die gebruik van taal, godsdiens en nasionalisme. Onder BSEB is burgerlike organisasies egter van die staat vervreem, met die gevolg dat hulle nie kon voortgaan om 'n sleutelrol te speel om maatskaplike verandering en sosiale geregtigheid teweeg te bring nie.

  • Foto: ʼn Plakkerskamp in Kaapstad: Krediet: Wikimedia Commons

 *Dr Jantjie Xaba is ʼn dosent in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hierdie artikel is gebaseer op sy onlangse doktorsgraad in Sosiologie aan die US.