Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is dit die einde van die residensiële universiteit?
Outeur: Leslie van Rooi
Gepubliseer: 29/06/2020

Sal die residensiële universiteit die COVID-19-pandemie oorleef? Dit is die vraag wat dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, probeer beantwoord in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (26 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Leslie van Rooi*

Die COVID-19-pandemie het ons lewens aanlyn geslinger teen 'n spoed waarvan ons nie eens aan die einde van 2019 kom droom nie. Toegang tot 'n betroubare internetverbinding was nog nooit so belangrik in 'n verskeidenheid sektore nie. Dit het veral die meeste van ons openbare universiteite op 'n baie spesifieke manier 'n nuwe rigting laat inslaan. Skielik lyk 'n gesprek oor die toekomstige implikasies van die Vierde Industriële Rewolusie baie anders – die toekoms is nie meer so ver nie.

En terwyl tradisionele of kontakuniversiteite gedink het hulle kon die moontlikheid van aanlyn- en/of gemengde leergeleentheid stelselmatig bekend stel met 'n fokus op die sogenaamde leer-en-verdien-mark, was die inwerkingstelling van afstandsnoodsleer (gegrond op die beginsels van aanlynleer) feitlik onmiddellik. 

By ons hoëronderwysinstellings is die fokus nou vierkantig op bevorderlike IT-infrastruktuur, studenteverbinding en die moontlikheid om kontakklasse ten volle aanlyn aan te bied. Terwyl dit nie so vreemd is vir die nagraadse sektor nie, is dit beslis iets nuuts vir die groter gedeelte op 'n voorgraadse, volle graad-vlak.

Toegegee, hierdie aanpassings is in die eerste plek gemaak om ons deur die onmiddellike uitdagings te begelei. Maar dit is feitlik seker dat die lesse wat geleer is en die verandering wat in werking gestel is, 'n uitwerking op die toekomstige agenda sal hê. Net tyd sal leer wat die spesifieke toekomstige implikasies in die hoëronderwyskonteks op die lange duur sal wees.

Hoe moet ons 'n residensiële universiteit definieer?

Residensiële universiteite word losweg gedefinieer as instellings waar klasse op kampus/kontakklasse en inwoning bevorder word en waar die leerervaring van studente binne 'n model verpak word wat op holistiese kontakleer fokus. Sommige studente woon op kampus en het ko-kurrikulêre programme soos leierskapsontwikkeling, sport, kulturele aktiwiteite, studenteverenigings, vrywillige werk, ensovoorts as fokus.

Dit moenie verwar word met koshuise/studenteverblyf as 'n 100%-faktor – 'n konteks waar alle studente by universiteitskoshuise inwoon – nie. Dit is eenvoudig net nie moontlik in die suid-Afrikaanse konteks nie. Ons modelle is egter gerat om voltydse studente te dien wat op of naby die kampus woon en voltydse studie kan bekostig.

Wat het ons gedurende hierdie tydperk geleer?

Die belangrikste les wat geleer is, is dat selfs ou, burokratiese instellings vinniger kan aanpas as wat ons gedink het moontlik is. En ons was moontlik meer voorbereid op die sprong as wat ons gedink het.

Ons het IT-voordele en nadele waaraan ons onder ander omstandighede nie noodwendig sou gedink het nie, gesien. Ons het ons stelsels getoets en bandwydte-kapasiteit gebruik wat ons andersins nie noodwendig sou probeer het nie.

Sommige van die ander lesse sluit in veranderinge in institusionele strukture, ander (nuwe) maniere van konsultasie, nuwe middele vir kommunikasie, ondersteuning en natuurlik die behendigheid om nie het by kontekstuele veranderinge en uitdagings aan te pas nie, maar ook by nuwe personeel- en studente-eise, behoeftes en moontlikhede.

Ons het in 'n konteks ingespring waar ons vinniger moet leer en afleer en waar besluite van een week tot die volgende kan verander.

Hierdie veranderinge was vir beide die studente en personeel 'n uitdaging. Dit is miskien die eerste keer in die onlangse geskiedenis dat die professor en studente op feitlik presies dieselfde tyd by dieselfde metode van onderrig en leer moes aanpas.

Ons sal binnekort besin oor wat ons geleer het en dit mag dalk net wees dat ons in die proses ons hand aan 'n eksemplaar van Aldous Huxley se beroemde roman, A Brave New World, slaan.

Internasionale voorbeelde?

Dit is belangrik om te besef dat wat in ons konteks gebeur, eie is aan ons konteks, maar nie noodwendig altyd so uniek is as wat ons dink nie. Dit is duidelik dat van die wêreld se voorste universiteite – sommige Suid-Afrikaanse universiteit se eweknieë – presies dieselfde uitdagings beleef. Die aanpassing van kontakklasse na aanlyn-moontlikhede was nie maklik nie. En ook nie ideaal nie. En universiteite wêreldwyd moes die onmiddellike uitdagings op soortgelyke maniere hanteer.

Dit wil lyk asof private universiteit oorsee tot op hede finansieel harder getref is met begrotings wat gesny is of gaan word. Nie eens die toonaangewende Harvard-universiteit in die VSA is onaangeraak gelaat nie.

Ons moet nog die moontlike finansiële uitwerkings binne ons eie hoëronderwyssektor bepaal.

Verskillende debatte

Twee besprekingspunte het uitgestaan in 'n onlangse aanlyn-gesprek oor hoe uitdagings en gebeurlikheidsprosedures wat met COVID-19 verband hou, tans universiteite in Suid-Afrika raak.

Die eerste het met transformasie op Suid-Afrikaanse kampusse in die algemeen te doen. Hier is die vrees gedeel dat huidige debatte en gebeurlikheidsplanne die behoefte aan diepgaande en ware institusionele veranderinge, wat inderdaad sommige van ons historiese uitdagings moes aanspreek, sal oorskadu.

Sprekers het ons daaraan herinner dat COVID-19 net die ongelykhede uitgelig het – dit loop parallel met hoe dinge in die konteks van ons land en verder uitspeel.

Die tweede hou verband met diegene wat moontlik agtergelaat is. Deelnemers het duidelik die vrees uitgespreek dat terwyl sommige universiteite die “sukses" van die aanpassing na aanlynleer vier – in sommige kringe noodafstandsleer genoem, sal hierdie metode beslis 'n invloed op studente hê wat nie toegang tot die infrastruktuur het wat nodig is om die akademiese program te voltooi nie, asook studente wie se omstandighede moontlik nie hierdie metode van leer toelaat nie.

Wie word agtergelaat?

Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), dr Blade Nzimande, het opgemerk dat sover as wat sy departement dit kan voorkom, sal geen studente agtergelaat word nie. Dit is egter baie duidelik dat die uitdagings wat met infrastruktuur en verbinding verband hou, baie groot is. En, soos in ander sektore, beklemtoon die krisis die ongelykheid in ons hoëronderwysstelsel.

Die feit dat die akademiese jaar by ons universiteite op verskillende maniere verloop, beklemtoon hierdie ongelykheid. Sommige het n paar weke gelede eers met die tweede kwartaal begin, terwyl ander reeds amper gereed is vir semestereksamens. En by anders instellings is eksamens feitlik voltooi.

Om te verseker dat geen studente agtergelaat word nie, sal die departement moet verseker dat alle universiteite, en dus alle studente, toegang tot die nodige infrastruktuur (nie net skootrekenaar nie) het. En gegewe die plaaslike uitdagings wat ons in ons gemeenskappe in die gesig staar, is dit duidelik dat bykomende ondersteuning byvoorbeeld aan studente in landelike gemeenskappe gegee sal moet word. Dit sal duur wees. En in 'n ekonomie wat erg geraak is, sal bykomende geld baie skaars wees, om die minste te sê.

Net tyd sal leer of die DHOO, met die ondersteuning van ander nasionale departemente en universiteite, die middele en die doelgerigtheid sal hê om inderdaad te verseker dat geen student agtergelaat word nie.

Sal die residensiële universiteit oorleef?

Die vraag bly egter staan: Sal die residensiële universiteit ná COVID-19 oorleef? En sal hierdie uitdaging die einde van die residensiële universiteit soos ons dit verstaan, noodsaak?

Net die tyd sal leer. Maar wat duidelik is, is dat ons begin het om 'n nuwe model te toets. En die vroeë aanduidings is dat hierdie model, in verskeie weergawes, moontlik meer bekostigbaar en dus selfs meer volhoubaar kan wees. Hoewel ons 'n aanvanklike finansiële las wat met die infrastruktuur verband hou, sal sien, mag ons moontlik 'n beperkte behoefte aan byvoorbeeld studenteverblyf op kampus asook die immerteenwoordige behoefte aan bykomende klaskamers, laboratoriums, biblioteke, ensovoorts hê.

Maar voor ons te gretig en te seker raak, moet ons daaraan dink dat ons nog nie begin het om die bykomende leervoordeel wat deur die koshuiservaring verskaf word, te bereken nie en wat die uitwerking mag wees indien ons die koshuiservaring moet beperk (soos ons tans moet doen).

Tot op hede was die aptyt vir aanlyn-, gemengde en residensiële programme binne die konteks van voltydse voorgraadse programme nie baie groot nie. En in Suid-Afrika is die sogenaamde leer-en-verdien-mark redelik klein. Enige vaste nuwe model moet dit ook in aanmerking neem.

Met al die groot verskuiwings in die wêreld, is ons meer gereed om nuwe grense oor te steek. Dit beweeg ons dikwels vinniger vorentoe as wat ons ons ooit so kon indink. Die COVID-19-pandemie mag dalk dieselfde uitwerking op Suid-Afrika se openbare universiteite hê. Wat ons te doen staan, is om te bepaal wat moontlik is, wat bekostigbaar is en wat die uitwerking op die leerervaring en moontlikhede vir ons gegradueerdes sal wees.

Gelukkig is hierdie vrae nou nog meer as tevore nie net tot Suid-Afrika beperk nie en ons is as sulks deel van 'n wêreldwye gesprek oor kwessies wat ons inderdaad fundamenteel kan raak.

*Dr Leslie van Rooi is Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.