Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente kan steeds loopbane beplan gedurende en ná COVID-19
Outeur: Marquard Timmey and Rozanne Engel
Gepubliseer: 25/06/2020

Nuusflitse oor werkloosheidsyfers, 'n kwynende Suid-Afrikaanse ekonomie, die gebrek aan nuwe werksgeleenthede wat daaruit voortvloei – al hierdie faktore rus waarskynlik swaar op gegradueerdes wat pas hul studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het.

Die COVID-19-pandemie het elke aspek van ons daaglikse lewe ontwrig. Maar hoewel ons nie die langdurige uitwerking van die pandemie op ons ekonomie kan voorspel of wanneer dinge weer tot 'n mate na normaal sal terugkeer nie, word onlangs gegradueerdes en finalejaarstudente aangemoedig om steeds met hul loopbaanbeplanning voort te gaan. 

Marquard Timmey, Hoof: Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) aan die US, verskaf hier 'n paar wenke – veral vir ons finalejaarstudente – oor hoe om hul loopbaankeuses tydens en ná die COVID-19-pandemie te bestuur en aan te pas.  

Maak jou gesondheid en die gesondheid van diegene rondom jou 'n prioriteit

​Die feit dat ons voortdurend daaraan herinner word hoe belangrik dit is om ons hande te ontsmet, 'n gesigsmasker te dra en aan sosiale afstandskepping en ander veiligheidsprotokolle gehoor te gee, maak dit 'n gegewe. Dit is egter belangrik om gedurende en ná die COVID-19-pandemie aan beide jou liggaamlike en geestelike gesondheid aandag te gee.

Doen jou bes om met 'n veilige oefenroetine en gesonde dieet vol te hou – en maak tyd vir oordenking en/of meditasie. Om oor jou geesteswelstand, jou dade en jou reaksie op die pandemie na te dink, help jou om van jouself bewus te word en mag 'n behoefte by jou laat onstaan om nuwe vaardighede aan te leer om die angs en frustrasie wat jy moontlik ervaar, te hanteer. Reik uit na die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste deur 'n e-pos na support@sun.ac.za te stuur indien jy hulp met sielkundige en persoonlike uitdagings benodig.

Bly in aanraking met jou Eenheid vir Loopbaandienste

Baie kundiges is dit eens dat betrokkenheid een van die grootste voorspellers van akademiese en loopbaansukses is. Vir ons as 'n eenheid vir loopbaandienste behels dit om ons kerndienste op ons aanlyn-platform aan ons studente beskikbaar te stel.

Ons nooi dus al ons studente, veral ons finalejaarstudente, uit om op ons loopbanedienstebestuurplatform – MatiesCareers (Symplicity) – by MatiesCareers te registreer. Jy kan van hierdie platform af vir werksgeleenthede wat gelaai word, aansoek doen en toegang kry tot inligting oor die maatskappy.

Dit bied jou ook toegang 24/7 tot ons beskikbare dienste. Dit sluit in die skryf van jou CV en dekbriewe, die verfyning van jou vaardighede om werk te soek en onderhoude te voer, die skep van jou persoonlike handelsmerk en die optimalisering van jou LinkedIn-profiel. Dit is uiters belangrik om 'n doeltreffende aanlyn-teenwoordigheid te hê en om te weet hoe om jou pad in die virtuele sfeer te vind.

Besoek ons webwerf vir selfhelp-materiaal oor bogenoemde en ander onderwerpe soos inligtingsonderhoude en nuttige loopbaan-webwerwe. Jy kry ook toegang tot bykomende hulpbronne soos ons nuutgeskepte webinaar-reeks via die skakels, Personal Branding Webinar en CV Writing Webinar. Jy kan ook navrae per e-pos na ons eenheid se amptelike e-posadres stuur by careerservices@sun.ac.za.

Bly in aanraking met die bedryf en maatskappye

Sommige bedrywe soos kleinhandel, voedsel, gasvryheid, toerisme en lugvaart is ernstig deur die COVID-19-pandemie ontwrig. Niemand kan presies voorspel hoe die arbeidsmark in hierdie en ander bedrywe gaan ontvou of watter bykomende vaardighede maatskappye gaan benodig wanneer hulle weer begin om personeel te werf nie.

Volgens verskeie berigte en verslae, fokus baie maatskappye egter op die volgende belangrike vaardighede: kritiese denke, samewerking, kommunikasie, aanpasbaarheid, inisiatief, leierskap, sosiale en kulturele bewustheid, deursettingsvermoë, kreatiwiteit, nuuskierigheid, IKT-geletterdheid, kulturele en burgerlike geletterdheid, probleemoplossing, kognitiewe buigbaarheid, probleemsensitiwiteit, emosionele intelligensie en onderhandelings- en oorredingsvaardighede.

Hoewel dit na 'n mondvol klink, is dit belangrik dat jy bewus sal wees van die vaardighede wat die maatskappye waarop jy jou visier gestel het, as waardevol beskou. Volg hierdie maatskappy op LinkedIn, besoek gereeld hul webwerwe en teken in op hul werwingswebblaaie om kennisgewings oor vakante poste te ontvang. Waar moontlik, moet jy ook inteken op bedryfsverenigings vir studente om op hoogte te bly van die jongste ontwikkelinge.

Dit is belangrik vir maatskappye en bedrywe om hul handelsmerk aktief te hou in die virtuele ruimte en dit is belangrik om jouself met die nodige kennis, vaardighede en instrumente toe te rus om die werksomgewing te betree wanneer die gety draai. Die vinnige verskuiwing na aanlyn-kommunikasie bied aan die skrander gegradueerde die geleentheid om hierdie vaardighede te ontwikkel om 'n voorloper te wees.

Bly betrokke by jou beroepsgemeenskap of moontlike mentors

Netwerk, netwerk, netwerk! Dit is belangrik om tyd in te ruim vir die proses om werk te soek – en netwerke bly die beste manier om geleenthede in die werksomgewing uit te snuffel.

Die Universiteit Stellenbosch se alumni-blad op LinkedIn het meer as 100 000 wat wag om met jou in aanraking te kom. Hoewel hulle ook in 'n moeilike situasie is op die oomblik, is baie van hulle meer as gewillig om hul ondervinding, kennis en lewenslesse met julle, ons huidige studente, te deel. Reik uit deur jou LinkedIn-profiel, soek na die Universiteit Stellenbosch se alumni-blad en tree met hulle in verbinding. Dit is uiters belangrik om deel van 'n beroepsgemeenskap te wees. LinkedIn bied aan jou hierdie geleentheid.

Alumni kan ook 'n lewensbelangrike bron van inligtingsonderhoude wees. Leer by diegene wat die poste waarna jy strewe, voorheen beklee het of tans beklee. Dit is nog 'n goeie manier om jouself met kennis en vaardighede te bemagtig ter voorbereiding vir die oorgang na die werksomgewing.

Staan gereed met 'n plan B (en C)

Dr Akanimo Odon praat in sy boek, The Graduate Code, oor hoe ons stokperdjies die goed is wat ons lief is om te doen sonder om daarvoor betaal te word. Hoe wonderlik sal dit dan nie wees om vergoed te word vir die beoefening van jou stokperdjie nie!

So, is daar aspekte van jou stokperdjie, buitemuurse aktiwiteite of enige ander aktiwiteit waaraan jy deelneem wat jy 'n potensiële inkomste kan omskep? Kan jy van die vaardighede wat jy met jou stokperdjie aangeleer het, na ander bedrywe oordra wat jy dalk nie voorheen oorweeg het nie. Of – nog beter – na jou eie ondernemingsgeleentheid?

Die uitdaging is om realistiese doelwitte te stel en om ander opsies met 'n oop gemoed te oorweeg. Dit kan beteken dat jy jou salarisverwagtings moet verlaag, by die 'gig'-ekonomie moet aansluit en korttermyn-kontrakwerk moet doen of dalk moet jy dit oorweeg om, indien jy dit kan bekostig, verder te studeer ten einde jouself meer bemarkbaar te maak of beter geleenthede te kry.

Bedrywe wat groeipotensiaal gedurende en ná die COVID-19-pandemie toon, sluit in aanlyn-onderrig, gesondheidsorg en aflewerings. Net soos ons sentrum by aanlyn-voorligting moes aanpas, is die uitdaging vir jou om maniere te vind om jou vaardighede aanlyn aan te bied.

Ten slote is dit belangrik om positief te bly en om te onthou dat sommige goed altyd sal geld. Die pandemie sal tot 'n einde kom. Jy het vaardighede ontwikkel wat jou in staat sal stel om tot Suid-Afrika, Afrika en tot die wêreld by te dra. Wanneer jy gradueer, sal jy die Universiteit Stellenbosch met 'n kwalifikasie verlaat wat internasionaal erken word en dit is jou ingesteldheid wat jou hoogte sal bepaal.

Die Universiteit Stellenbosch se Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste sal weens die voortslepende COVID-19-pandemie nie soos in vorige jare loopbaanuitstallings op kampus kan aanbied nie. Hulle het egter kragte saamgesnoer met 20 ander universiteite en die Suid-Afrikaanse Gegradueerde Werkgewersvereniging om 'n virtuele loopbaanuitstalling van einde Julie tot vroeg in Augustus aan te bied.

Besoek hul webwerf hier vir verdere inligting.