Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aanlyn-onderrig moet ook studente met gestremdhede in ag neem
Outeur: Marcia Lyner-Cleophas
Gepubliseer: 19/06/2020

Aanlyn-onderrig-, leer- en assesseringspraktyke wat gedurende die COVID-19-pandemie gebruik word, moet ook studente met gestremdhede en dié met minder hulpbronne in ag neem, skryf dr Marcia Lyner-Cleophas van die Eenheid vir Gestremdhede in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (18 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Marcia Lyner-Cleophas*

As hoër onderwys-praktisyns bevind ons ons in hierdie COVID-19-aanlynruimte saam met ons uiteenlopende verskeidenheid studente met verskillende vermoëns. Studente met gestremdhede is ook deel van hierdie diversiteit en lê op die kontinuum van vermoëns. Die realiteit van hierdie studente en die ondersteuning wat benodig word, loop altyd parallel met die hulp wat alle studente nodig het om suksesvol te studeer.

Dit is te verstane dat daar kommer bestaan oor hoe studente en personeel die aanlynomgewing sal hanteer, gegewe die Suid-Afrikaanse werklikheid waar mense verskillende tegnologiese vermoëns en hulpbronne het. Gegewe die wêreldwye ervaring, sal ons ook met ons eie realiteite moet worstel.

Ons onderrig en assessering het vir te lank op die gemiddelde student gefokus, sonder inagneming van onder andere studente met gestremdhede en studente uit omgewings met minder hulpbronne. Die gemiddelde student is die een met gemiddelde vermoëns en funksionaliteite, 'n gemiddelde tot goeie sig en gehoor en wat 'n verskeidenheid bewegings sonder hulp kan uitvoer. Dié student kom uit 'n omgewing met genoeg hulpbronne en verwerk inligting baie vinnig.

Studente word gewoonlik op spesifieke maniere geassesseer gedurende 'n spesifieke periode, soos byvoorbeeld ʼn twee of drie uur-sessie om gememoriseerde vrae te beantwoord. Gegewe die huidige aanlyn-werklikheid, word ons nou gedwing om anders na studente te kyk en te werk met verskillende vermoëns wat nie inpas in die gemiddelde vorm hierbo beskryf nie. Wat nog belangriker is, is dat ons nou moet dink aan alle studente en aan die tipe onderrig, leer en assessering wat die beste vir alle studente sal wees.

Die gebruik van ondersteuningstegnologie was nog altyd deel van die hulp wat nodig is vir baie studente met gestremdhede, maar die beskikbaarheid daarvan was gemeng. Hulpmiddels was dikwels nodig omdat studiemateriaal nie alle studente geakkommodeer het nie. Byvoorbeeld, as alle leesmateriaal in 'n formaat was wat dit maklik maak om lettertipes van die begin af te vergroot of om leesbaar te maak vir skermlesers of om onderskrifte te kry, sou dit nie nodig wees om 'n teks te formateer nie. Nou word ons gedwing om dieper na te dink oor ons aanlyn-materiaal: Word die materiaal opgelaai en in 'n toeganklike formaat aan die student gestuur? Is die student in staat om met die voorhande gegewens en bandbreedte-werklikheid te werk? Hoe kan die student in die aanlynruimte reageer? Hierdie vrae is van toepassing op alle studente.

Ons Grondwet en die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 beklemtoon die belangrikheid daarvan om ongelykhede en diversiteit in die onderwys aan te spreek. Beide vra ook vir buigsaamheid en regstelling in die transformasie van ons samelewing. Diskriminasie teen mense op grond van klas, ras, geslag en gestremdheid word verbied. Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het in 2018 'n strategiese raamwerk vir gestremdhede in die tersiêre sektor vrygestel om spesifiek die insluiting van gestremdhede as deel van diversiteit aan te spreek.

As 'n sektor word ons voortdurend uitgedaag om op die beste wyse inklusief te wees. Ons val egter maklik vas in die standaardmodus van onderrig-, leer- en assesseringspraktyke vir die gemiddelde student. Op 'n sekere manier het die COVID-19-pandemie ons gedwing om ons kurrikulum en die ontwerp en uitkomste daarvan te herbenut, en om te fokus op wat geleer moet word en die verskillende maniere om dit te doen. Ons word weereens daaraan herinner dat ons studente uiteenlopende huislike omstandighede het met 'n 'geen-tot-lae-tot-hoë-tegnologie'-beskikbaarheid om hul terugvoer te gee en met leesstof om te gaan.

Groot gedeeltes van ons gestremde studentepopulasie is afhanklik van ondersteuningstegnologieë om toegang tot onderrig-, leer- en assesseringsmateriaal te verkry. In die toekoms sal dit die moeite werd wees om Universele Ontwerp (UO) en Universele Ontwerp vir Leer (UOL), sowel as gemengde leer en MOOCS as maniere te beskou om 'n uiteenlopende groep studente te betrek.

Organisasies soos die Sentrum vir Toegepaste Gespesialiseerde Tegnologie (CAST) het die afgelope 10-15 jaar breedvoerig oor UO en UOL gedebatteer, geskryf en navorsing gedoen. In 'n artikel vir die African Journal of Disability (2019) bespreek Elizabeth Dalton en haar mede-skrywers hoe die gebruik van drie UOL-beginsels kan help om billikheid en buigsaamheid vir uiteenlopende groepe studente te bevorder. Die eerste is die verskillende maniere om inligting aan te bied. Dit is deur middel van multimediaformate, soos digitale middele, prente, musiek, onderskrifte, klank en vooraf-opnames. Tweedens is daar verskillende maniere waarop studente met leerstof kan werk om hul belangstellings aan te wakker, soos stemnotas, SMS, WhatsApp, blogs, groepwerk, diensleer en vlogs (van lae tot hoë tegnologie). Derdens is daar verskeie maniere van aksie en uitdrukking, waar studente hul kennis op verskillende maniere kan demonstreer, soos opstelle, mondelinge insette, webontwerp en take wat per e-pos, SMS, WhatsApp, blogs, vlogs en PowerPoint-aanbiedings ingehandig word.

Robert Black, Lois Weinberg en Martin Brodwin van die Kaliforniese Staatsuniversiteit beklemtoon ook die waarde van die gebruik van UO-beginsels, met spesifieke verwysing na studente met gestremdhede. Die insluiting van sulke beginsels in die ontwerp van alle kursus- en assesseringspraktyke sal waardevol wees vir alle studente gegewe hul natuurlike diversiteit.

In 'n 2019-artikel oor die rol van die Higher Education Disability Services Association in South Africa (HEDSA), het ek ook gefokus op elektroniese lyste of kontaklyste van mense as 'n spesifieke belangegroep en e-posse as algemene maniere om inligting te deel. Die gebruik van lae-tegnologieë is een van die moontlikhede om met UOL te werk, gegewe die uitgebreide gebruik van selfone en slimfone soos Willie Chinyamurindi van die Universiteit van Fort Hare onlangs in 'n meningstuk vir The Conversation uitgewys het. In aansluiting hierby, beklemtoon Michael Rowe van die Universiteit van Wes-Kaapland die waarde van selfone en die verkenning van eenvoudige en lae koste-universele maniere om inligting te deel.

Ondanks ons studente se tegnologiese en kontekstuele uitdagings, is daar ervarings waaruit geput kan word, waar lae-koste en lae-tegnologie oplossings gebruik is om met studente te skakel. Deur op UO en UOL te steun, is dit moontlik om buigsaam te wees en verskillende maniere te ondersoek wat hiertoe kan bydra. Almal word uitgedaag en is moontlik “gestremd" in die aanlynruimte, en die gebruik van bestaande kundigheid hoef nie vreesaanjaend te wees nie.

Om werklik inklusief te wees, beteken dat ons erken dat ons nie alle studente op dieselfde manier kan behandel as daar soveel diversiteit is nie. Die aanbieding van materiaal op verskillende maniere, soos 'n teks van jou praatjie en 'n opname van jou aanbieding, neem reeds baie studente in ag, aangesien sommige van hulle beter kan lees en ander beter kan luister. Dit bevoordeel ook studente met spesifieke gestremdhede, soos dié met lees- of skryfstoornisse. As daar alternatiewe maniere is vir studente om hul kennis te wys, kan die student se spesifieke sterkpunte ook na vore kom omdat sommige 'n klank- of stemnoot as antwoord mag stuur, terwyl 'n ander 'n teks- of Word-dokument mag stuur.

As ons die drie kernbeginsels van UOL deel maak van ons opvoedkundige omgewings, sal dit ruimte bied vir 'n studentpopulasie wat reeds betrokke is, met buigsame opsies vir onderrig, leer en assessering. Lae-tegnologie-hulpbronne soos stemnote, WhatsApp-dokumente, video-oproepe en e-posse kan dan maklik geïnkorporeer word. Basiese boodskappe kan gebruik word vir interaksie en terugvoering.

Onderwysbeleidmakers het die behoefte aan buigsame kurrikulums erken omdat ons uiteenlopende studentepopulasies het en daar ʼn behoefte aan regstellende billikheid is. Die verbetering van tegnologieë in die onderwys is ook aangemoedig. Daar moet van meet af meer gedoen word met ondersteuningstegnologie en die ontwerp van toeganklike kursusse vir ons studente wat oor verskillende vaardighede en hulpbronne beskik.

  • Foto: ʼn Groot-druk sleutelbord met tasbare elemente en spesiale sleutels vir gesiggestremdes. Krediet: Econterms

​*Dr Marcia Lyner-Cleophas, 'n opvoedkundige sielkundige, is hoof van die Eenheid vir Gestremdhede by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch.