Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se diversiteitsontwikkelingsprogram aanlyn voortgesit
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 17/06/2020

​Die Siyakhula Diversiteitsontwikkelingsprogram van die Universiteit Stellenbosch (US), wat nou die Siyakhula Live-reeks genoem word, gaan in die tweede semester voortgesit met virtuele webinaar-opleidingsessies wat elke Vrydag aangebied sal word.

Siyakhula, wat “ons groei" beteken, is 'n ontwikkelingsprogram vir diversiteitskapasiteit wat daarop gemik is om personeel toe te rus om gelykheidstrategieë, inklusiwiteit en personeelwelstand te modelleer, te begelei en te ondersteun.

Mnr Sello Molapo, Direkteur: Diensbillikheid, sê die Siyakhula-program is 'n vlagskipprogram wat gesamentlik deur die Diensbillikheid Direktoraat van die Afdeling Menslike Hulpbronne (MH) en die Transformasiekantoor bestuur word. Die program is sentraal in die US se strategiese tema om 'n voorkeurwerkgewer te wees.

“Verlede jaar het meer as 450 personeellede aan 31 sessies as deel van die program deelgeneem. Vanweë die pandemie kon die beoogde program vir 2020 nie in werking gestel word nie. Maar die program moet voortgaan en die volgende stappe is om die program te verbreed sodat meer personeelfasiliteerders opgelei kan word toegang tot gesentraliseerde sessies verbeter kan word," sê hy.

Me Katlego Letlonkane, programbestuurder: Diversiteitskapasiteitsontwikkeling by die MH-afdeling, wie verslagdoen aan  beide die Direkteur: Diensbillikheid en die Hoof:Transformasiekantoor, sê reëlings verloop vlot sodat Siyakhula Live aan die einde van Julie kan begin. Personeellede behoort binnekort uitnodigings na die webinaar-opleidingsessies op Vrydae te ontvang.

Die webinaars handel oor onderwerpe soos institusionele kultuur, godsdienstige en kulturele inklusiwiteit, geslagsverhoudinge, verskil en diversiteit, vermoë, dekolonisering, bemiddeling en konflikoplossing, transformerende leierskap en waardegebaseerde besluitneming en empatie.

Die fasiliteerders van Siyakhula Live is multi- en interdissiplinêre navorsers en praktisyns binne die US. Eksterne kundiges wat daagliks met die geesteswetenskappe te doen het, asook personeel van die Eenheid vir Gestremdhede, die Transformasiekantoor en die US se departement Historiese Trauma en Transformasie is ook genader om sessies te help fasiliteer.

“Ons hoop ons personeel sal persoonlik gemotiveerd voel om soveel moontlik opleidingsessies by te woon. Ons hoop om 'n treffende, innemende en bemagtigende ervaring te bied," sê Letlonkane.

Letlonkane moedig personeel aan om hierdie opleidingsessies met 'n “oop gemoed" te benader. Sy het persoonlike ervaring van deelname aan 'n transformerende proses. “Om kritiese diversiteitstudies te bestudeer en deel te wees daarvan, het my perspektief gegee op die wêreld waarin ek leef, die samelewings en sosiale stelsels van ons wêreld, mense, verhoudings en kultuur. Dit het my bemagtig om 'n beter mens te wees," sê sy.

Volgens Letlonkane is dit belangrik dat mense hul perspektiewe het. Sy verduidelik dat die mensdom op mense se verhouding met ander berus. “Ek dink een van Siyakhula se sentrale doelwitte is om perspektiewe oor ons uiteenlopende en soms baie komplekse mensdom te deel. Hoe meer perspektiewe daar is, hoe makliker is dit om verhoudings te bou en te onderhou en deernis vir iemand anders se posisie te hê," sê sy.

Personeel word aangemoedig om openhartig te wees by opleidingsessies en die geleentheid te benut om na te dink en die saadjies van verandering in hul eie lewens te plant.

Verandering is egter nie 'n kitsproses nie. Letlonkane hoop om oor die verloop van die volgende vier jaar 'n betekenisvolle impak op die bevordering van diversiteit en inklusiwiteit te hê. “Ek kom met 'n oop gemoed en bereidwilligheid om my deur die proses van diversiteitskapasiteitsbou te laat lei oor wat gedoen moet word. Die Universiteit se vasberadenheid om sinvolle sistemiese transformasie te bevorder, is bemoedigend," sê sy.  

Ten einde die doel te bereik, moet alle lede van ons universiteitsgemeenskap inkoop in die idee en die geleentheid aangryp om te nuwe en beter lewenswyses aan te leer, sê Letlonkane. “Ons sal weet dat ons op die regte pad is wanneer meer en meer van ons begin om die beginsels en etiese waardes van Ubuntu (menslikheid teenoor ander) te omarm en begin om besluite gegrond hierop te neem."