Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huldeblyk – Elsa Joubert (19 Oktober 1922 – 14 Junie 2020)
Outeur: Lenelle Foster
Gepubliseer: 17/06/2020

Die skrywer Elsa Joubert is op 14 Junie 2020 op 97-jarige ouderdom oorlede. Die Departement Afrikaans en Nederlands bring hulde aan hierdie alumna van die Universiteit Stellenbosch.

​In die eerste helfte van Junie verloor Suid-Afrika twee skrywers wat albei in ʼn verskeidenheid genres uitgeblink het. Jeanne Goosen sterf op 2 Junie in die ouderdom van 81 en Elsa Joubert op 14 Junie. Sy sou in Oktober 98 gewees het.

Joubert verwerf haar BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch in 1942 en die jaar daarna voltooi sy haar senior onderwysdiploma, ook aan die US. Sy werk as onderwyser en joernalis, behaal ʼn MA-graad aan die Universiteit van Kaapstad en onderneem in 1948 ʼn alleenreis deur Afrika. In 1957 debuteer sy met ʼn reisverhaal oor haar reise in Uganda en Egipte.

Hoewel reis ʼn belangrike tema in Joubert se oeuvre is, sou dit ʼn gruwelike oorvereenvoudiging wees om 'n skrywersloopbaan van sestig jaar tot ʼn beheptheid met reis te reduseer. Dit is duidelik uit die oorvloed pryse waarmee haar werk bekroon is, insluitende twee Hertzogpryse, en die aansien wat sy as skrywer geniet – sy ontvang onder andere eredoktorsgrade van die US (2001) en die Universiteit van Pretoria (2007) en die Orde van Ikhamanga (silwer) (in 2004).

Die internasionale kollig val in 1978 op Joubert met die publikasie van waarskynlik haar bekendste werk, Die swerfjare van Poppie Nongena. Die teks, wat in meer as tien tale vertaal is en met verskeie pryse bekroon is, beklemtoon dat persoonlike ervarings polities van aard is.

In ʼn 2006-resensie van ʼn Wonderlike geweld (die eerste deel van ʼn drieledige outobiografie) skryf Desmond Painter dat Joubert se weergee van haar eie ervarings as kind en jong vrou “die perfekte instrument" word “om die verskuiwings, groot sowel as subtiel, in die Afrikaanse wêreld van haar tyd mee te registreer". In die geheel funksioneer Joubert se werk nie alleen as ʼn manier om die “wêreld van haar tyd mee te registreer" nie, maar veroorsaak dit ook verskuiwings by die leser. Die swerfjare van Poppie Nongena (sowel as Christiaan Olwagen se filmweergawe, Poppie Nongena, wat vroeër vanjaar verskyn het) is tekenend van die manier waarop Joubert haarself en haar lesers gedwing het om die menslikheid van ander en die behoefte aan (en noodsaaklikheid van) interaksie te erken.

Die ironie dat ʼn skrywer wie se werk onlosmaaklik met reise, fisiek en geestelik, verbind is tydens die inperking aan COVID-19 sterf, sal geen leser verbygaan nie.