Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"My passie is om vir dowe kinders skool te hou"
Outeur: Transformation Office | Disability Unit | AfriNEAD
Gepubliseer: 08/06/2020

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het laat verlede jaar aangekondig dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die hoogtepunt van die jaar sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word. Om dit te vier en te eer, sal die Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede, te same met AfriNEAD, maandelikse meningsstukke of artikels deur persone met gestremdhede publiseer. Ons vierde stuk is geskryf deur Ilze Aaron—sy studeer tans vir 'n BEd aan die US se Opvoedkunde fakulteit.  


​​​Ek is Ilze Aaron, en ek is 22 jaar oud. Ek kom van die Paarl. Toe ek omtrent 9 of 10 jaar oud was, het my tannie opgemerk dat ek anders as ander kinders praat. Sy het voorgestel dat my ma my vir gehoortoetse Tygerberghospitaal toe neem. Daar het hulle bevestig dat ek 'n gehoorprobleem het. Twee dae later was my ma terug by die dokter om by hom te hoor wat sy kon doen om my te help. Hy het aanbeveel dat ek gehoortoestelle dra om die bietjie gehoor wat ek wél het te verbeter. 

Die oomblik toe ek die gehoortoestelle aansit, was ek verwonderd oor alles om my wat ek skielik kon hoor – van die wind wat waai tot die voëls wat tjirp. Dit was 'n groot uitdaging en 'n reuse-aanpassing vir my, maar sonder my ma sou ek alle gehoor en spraak verloor het, so ek sal haar ewig dankbaar bly. Sy het my ure lank geleer hoe om woorde uit te spreek totdat ek dit reggekry het. Sy het my lewe so 'normaal' moontlik probeer maak.

Ek het my skoolloopbaan by die Primêre Skool Nederburg begin, en is later na die Hoërskool Labori in die Paarl. Daar het ek tot graad 8 in klasse van ongeveer 30 leerders skoolgegaan. Die onderwyser het my in die voorste ry laat sit sodat ek kon probeer liplees wat sy sê, maar ek kon nooit deelneem nie – ek kon nie die klas volg nie. 

Toe hoor ons van die De la Batskool vir Dowes, waarheen ek uiteindelik in 2012 verskuif het. Die nuwe uitdaging was dat ek glad nie gebaretaal geken het nie. Ek moes drie maande lank ná skool ekstra klasse bywoon om Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) te leer sodat ek met my medeleerders kon kommunikeer. Ek het dit gelukkig vinnig baasgeraak. Teen die einde van my skoolloopbaan het ek selfs in my klasse as tolk tussen ons onderwyser en my medeleerders begin optree omdat die onderwyser nie vlot genoeg in SASL was vir die leerders om haar te verstaan nie.

Ek het ná matriek as 'n onderwysersassistent by die Dominikaanse Skool vir Dowes Wittebome gewerk, waar ek heelwat geleer het oor onderwys vir dowe kinders. Die De la Batskool het my eendag uit die bloute genader om te vra of ek daarin sou belang stel om aansoek te doen om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Ek was aanvanklik onseker, maar nadat ek dit oordink het, het ek besef ek moes eenvoudig die geleentheid aangryp, so ek het my aansoek ingestuur. Ek het niemand vertel dat ek aansoek gedoen het nie, en het vir 'n paar maande nie eens my e-pos behoorlik gelees nie. Toe kom ek op 'n dag af op 'n ou, onoopgemaakte e-pos van die Universiteit Stellenbosch wat my gelukwens met my aanvaarding vir die BEd-program van 2017! Ek kon nie glo wat ek lees nie! Ek kon nie wag om my gesin te vertel van hierdie nuwe werklikheid wat op my wag nie. 

Om my vir Matiewees voor te berei, moes ek 'n vergadering bywoon waar ek moes aandui wat my spesifieke kommunikasiebehoeftes was om te kon klas bywoon. Dit was 'n groot nuwe wêreld vir my, en die aanpassing was enorm! By dié vergadering was ek bevoorreg om my vriend Imran Bodalaji te ontmoet, nóg 'n dowe student wat saam met my BEd sou studeer, en skielik het ek nie meer so alleen gevoel nie. Ek het ook by dieselfde vergadering my eerste ervaring van 'n SASL-tolk gehad en ek was aangenaam verras. 

Ons eerste dag van klas was vir my en Imran ewe moeilik. Ons het heeltyd verdwaal, en het nie die vaagste benul gehad waar ons vir ons klasse moes wees nie. Ons was ook onseker oor hoe ons met die ander studente in ons klasse moes kommunikeer. Ons bedank graag die Eenheid vir Gestremdhede en die Taalsentrum wat ons van SASL-tolke voorsien het om die kommunikasiehindernis uit die weg te ruim. Die tolke was van die begin af daar om seker te maak dat alle lesings en leermateriaal vir ons toeganklik is. Die wete dat ek ingesluit word, het my goed laat voel. Om van 'n dowe omgewing te beweeg na 'n wêreld waar almal kan hoor, was beslis 'n groot aanpassing.

Party studente het die inisiatief geneem en hulle fone of pen en papier gebruik om met ons te kommunikeer. Ander het ná klas na ons toe gekom om te vra waar hulle SASL kon leer en dit was vir my lekker om hulle na die Fakulteit Opvoedkunde se SASL-module te kon verwys. Almal was altyd verras om my stem te hoor as ek met hulle praat. Ek en Imran het ook vir 'n rukkie as tutors vir die SASL-module gewerk, en toe 'n vreemdeling my buite die klas in my eie taal groet, het dit my so goed laat voel. Mense wat nog nie gebaretaal kon gebruik nie, het ons gestop en gevra hoe 'n mens in gebaretaal groet of iets anders sê. 

My passie is om vir dowe kinders skool te hou sodat hulle in hulle eie taal deur 'n ander dowe persoon onderrig kan word, en om vir hulle 'n rolmodel te wees. Ek wil hulle inspireer en seker maak dat hulle weet hulle kan hulle drome bewaarheid, ongeag wie of wat hulle is. Ek het besluit dat ek bo my omstandighede sal uitstyg en verandering in my dowe gemeenskap sal teweegbring, ongeag wat. Ek is opgewonde om my graad te ontvang sodat ek kan bewys dat dowe mense ook drome het, en dat ons enigiets kan bereik wat ons graag wil.