Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek is skatkis van inligting oor indringerspesies
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 04/06/2020

Indien jy bekommerd is oor indringerspesies of nog altyd meer oor hulle wou weet, is 'n nuwe boek wat oor alle aspekte van biologiese indringing in Suid-Afrika handel, beslis vir jou bedoel.

Die boek, Biological Invasions in South Africa, het onlangs as 'n ope-toegang ensiklopediese boek verskyn. Dit verskaf inligting aan lesers oor 1 422 indringerspesies, insluitende plante, voëls, soogdiere, visse, grondkruipende ongewerwelde diere, indringersee-organismes en mikro-organismies wat siektes veroorsaak en wat genaturaliseer of die land binnegedring het.

Die boek se 31 hoofstukke dek onderwerpe soos die geskiedenis van navorsing in Suid-Afrika, gedetailleerde beskrywings van hoofgroepe plante en diere, beleidsontwikkeling, die ontwikkeling van 'n gesonde ekologiese teorie oor biologiese indringing, die doeltreffendheid van bestuursingrypings en toekomstige scenario's rakende biologiese indringing in die land.

“Daar is min, indien enige boeke wat hierdie vakgebied so omvangryk op 'n nasionale vlak vir enige land ter wêreld dek. Hoewel daar baie boeke oor biologiese indringing is, dek die meeste net 'n spesifieke aspek van die probleem, of 'n spesifieke groep spesies," sê prof Brian van Wilgen van die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) en die departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy mederedakteurs was sy kollegas, proff John Measey en Dave Richardson, asook prof John Wilson en dr Tsungai Zengeya van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut. Meer as 100 navorsers, praktisyns en nagraadse studente wat verskillende aspekte van indringerspesies ondersoek, het tot die boek bygedra.

Van Wilgen sê hulle wou 'n omvattende naslaanwerk lewer wat as 'n onderrig- en navorsingsinstrument en 'n inligtingsbron vir bestuurders op hierdie terrein kan dien.

“Hierdie boek verskaf inligting oor die bekende uitwerkings van indringerspesies in die land. Indringerbome verbruik byvoorbeeld sowat 5% van ons skaars waterbronne, dit verminder die dravermoë van ons natuurlike gras- en weivelde en hou 'n direkte bedreiging in vir die voortbestaan van sowat die helfte van 1 600 inheemse spesies wat op Suid-Afrika se Rooi Datalys verskyn.

“Spesies wat veral skadelik is, sluit in Amerikaanse en Europese dennebome en Australiese akasias wat die fynbos en grasvelde binnedring, die afloop van water verminder, inheemse spesies bedreig (waarvan sommige net in Suid-Afrika voorkom) en die intensiteit van veldbrande verhoog; Amerikaanse mesket-doringbome (Prosopis) wat die droë Karoo en droë savannas binnedring en dan die veeproduksie op sommige plase feitlik onmoontlik maak; en 'n nuwe inkomeling, die indringer veelvretende skietgat-houtkewer wat plataanbome, eikebome, avokado's en baie ander boomsoorte regoor Suid-Afrika kan uitwis."

Die dryfveer agter die boek was volgens Van Wilgen die feit dat die laaste (en enigste) sintese oor hierdie onderwerp op 'n nasionale vlak 34 jaar gelede in 1986 verskyn het, en dus was 'n nuwe sintese oor hierdie groot en groeiende probleem nodig. “Ons regering het die afgelope 15 jaar aansienlik in die vestiging en instandhouding van die SIB belê. Dit was dus ook nodig om 'n oorsig te gee van wat ons geleer het, en om 'n omvangryke sintese te verskaf wat die volgende geslag navorsers en bestuurders kan gebruik."

Hy voeg by dat hul breedvoerige dekking om verskeie redes moontlik was, insluitende Suid-Afrika se lang geskiedenis as 'n leier op die gebied van die hantering van indringerspesies (in navorsing en in bestuur) en danksy ruimhartige befondsing wat die afgelope 20 jaar vir navorsing, opleiding en bestuur beskikbaar gestel is.

“Suid-Afrika het ook as 'n wêreldleier op hierdie gebied ontluik, en vaar baie beter as wat verwag is in navorsing, opleiding en bestuur. Sedert sy onstaan in 2004, het die SIB 1 750 navorsingartikels die lig laat sien en altesame 129 meesters- en 67 doktorsgrade toegeken. Dit is 'n aansienlike bydrae tot die uitbouing van kapasiteit en transformasie op hierdie gebied."

Daar word gehoop dat die boek nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd 'n belangrike naslaanwerk en onderriginstrument vir baie jare sal wees, sê Van Wilgen.

“Dit sal beslis baie wyd buite ons grense gebruik word en ons hoop dat dit veral vir ander lande in Afrika tot nut sal wees."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Brian van Wilgen

Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie

Departement Plant- en Dierkunde

Universiteit Stellenbosch

E-pos: bvanwilgen@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za