Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Top kliniese assistent van Maties ontvang gesogte plastiese chirurgie-medalje
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 03/06/2020

Dr Mosadi Mahoko, 'n kliniese assistent in die Afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chrirurgie vier 'n dubbele prestasie tydens hierdie tyd van inperking: nie alleen is sy die eerste vroulike, swart plastiese chirurg om by die Universiteit van Stellenbosch in die Wes-Kaap te kwalifiseer nie, sy het ook onlangs die Jack Penn-medalje vir die beste resultate in 2019 in Suid-Afrika gewen in die finale plastiese chirurgie-eksamens. Die enigste probleem is dat sy nie haar medalje fisies in ontvangs kon neem nie.

Mahoko het 'n brief ontvang van die Colleges of Medicine of South Africa (CMSA) op 8 April, wat haar in kennis gestel het van haar medalje vir uitmuntende prestasie in die FC Plast Surg (SA) Finale Eksamens van die Kollege vir Plastiese Chirurge.

Die toekenning is besonder betekenisvol aangesien dit nog net twee keer sedert die instelling daarvan in 1995 toegeken is. Die eerste ontvanger, dr Kotze Engelbrecht, het ook aan die Stellenbosch Universiteit gegradueer.

In 'n onderhoud, het Mahoko gesê die toekenning was " 'n totale verrassing. Ek het op my knieë neergeval toe ek die e-pos ontvang het."

In sy brief, het die ere-kliniese assistant by die CMSA, professor Victor Mngomezulu, gesê dit is gebruiklik vir medaljes om oorhandig te word by die toelatingseremonie van die  CMSA, maar as gevolg van die COVID-19 pandemie, is die 2020 toelatingseremonie gekanselleer.

“Ek voel telerugesteld dat ek nie die medalje en die sertifikaat in ontvangs kon neem nie. Dit sou wonderlik gewees het om by die verhoog op te loop en hierdie groot eerbewys te kon ontvang," het Nahoko gesê.

Sy skryf haar sukses aan "harde werk en deursettingsvermoë" toe, en het die volgende te sê gehad: “As jy jou volle aandag daaraan skenk, die werk deeglik bestudeer, en 'n passie het vir die werk wat jy doen, dan sal jy sukses behaal." Sy het haar oorlede ma, die ontslape professor Sophie Mahoko, voormalige Dekaan van die Skool van Gesondheidswetenskappe by die Universiteit van Venda, as haar rolmodel genoem.

“Ek het so baie by my ma geleer. Sy is in 2014 oorlede. Sy het uit 'n nederige agtergrond gekom en het baie hard gewerk om 'n indrukwekkende akademikus te word. Sy het dit in my ingeprent dat mens nooit kan toelaat dat teëspoed mens van stryk af bring nie."

Sy het bygevoeg: “Ek het hard gewerk met die doel voor oë om 'n goeie en verstandige plastiese chirurg vir al my pasiënte te wees. Hierdie medalje het my die bevestigtiging gegee om te glo dat ek verdien om in hierdie veld te wees."

Die finale eksamen het uit twee dele bestaan – 'n geskrewe komponent in Julie en 'n daglange praktiese kliniese eksamen op 18 Oktober in Durban se Nkosi Albert Luthuli-hospitaal.

“In die eksamen is daar 18 kliniese stasies waar jy pasiënte ondersoek, deur kliniese scenarios gaan en vorendag moet kom met behandelingsplanne vir pasiënte in plastiese en rekonstruktiewe chirurgie," het sy verduidelik.

Mahoko (37) het grootgeword in Mafikeng, in die Noord-Wes Provinsie. Sy het in 2006 haar  MBChB-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal, waarna sy 'n twee-jaar-lange internskap by Groote Schuur-hospitaal gedoen het, gevolg deur 'n jaar van gemeenskapsdiens by die Manguzi-hospitaal in KwaZulu-Natal.

In 2010 het sy gewerk as 'n mediese beampte in die trauma-eenheid by Tygerberg-hospitaal voordat sy by die Afdeling van Algemene Chirurgie aangesluit het as 'n kliniese assistent,. In  2015 het sy by die Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie-departement aangesluit het. Sy is nou in haar finale jaar as kliniese assistant. Sy hoop om volgende 'n genootskap in rinoplastie te doen.

“Ek het 'n passie vir rekonstruktiewe chirurgie, en in die besonder vir chirurgie op gesplete verhemeltes en lippe. Ek sal graag wil werk in die veld van nasale rekonstruksie in hierdie kinders, aangesien hulle dikwels ernstige nasale abnormaliteite het. Ek sou graag ook my kennis van nasale rekonstruksie wou toepas in die veld van kosmetiese chirurgie," het sy gesê.

Wanneer sy nie werk nie – en dis nie baie dikwels nie - hou Mahoko daarvan om te bak, op die strand te loop, en om joga te doen. Sy hou ook baie van reis, om nuwe tale te leer en om meer uit te vind omtrent verskillende kulture.