Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe aanstelling dryf transformasie personeel-opleiding aan die US
Outeur: Transformation Office
Gepubliseer: 01/06/2020
​Katlego Letlonkane is onlangs as Programbestuurder: Kapasiteitsontwikkeling in die Afdeling Menslike Hulpbronne (MHB) se Eenheid vir Gelyke Indiensneming en Bevordering van Diversiteit aangestel. Sy sal die Siyakhula Transformation, Diversity and Employment Equity Capacity Development Programme lei, die gewilde opleidingsprogram aan die US, wat ontwikkel is om die waardes van diversiteit, billikheid en insluiting te bevorder. Die program en posisie is gesetel in Menslike Hulpbronne, maar die inhoud van die program word ontwikkel in noue samewerking met die Transformasiekantoor. Ons het by Katlego gaan kuier om so 'n bietjie meer uit te vind oor wie sy is en wat sy vir Siyakhula beplan.


Waar het jy studeer vir voorgraads en nagraads?
Ek het regte studeer, by UJ. Ek het my Meestersgraad in die Regte (LLM), met Arbeidsreg as spesialisveld, aan die UK behaal en onlangs my MA in Kritiese Diversiteitstudies, 'n interdissiplinêre veld, by Wits afgehandel.

Vertel ons so bietjie van jou vorige werkservaring? 
Ek het as prokureur in die arbeidsregveld by Cliffe Dekker Hofmeyr (CDH) gepraktiseer. Later het ek konsultantwerk begin doen en by Ernst and Young as Konsultant: Mensadviesdienste aangesluit, waar MH-transformasie en -ontwerp my fokus was.
 
Wat het jou laat besluit om by die Universiteit Stellenbosch te kom werk?
Namate my loopbaan in mensadvisering ontwikkel het, het ek al gretiger geraak om by 'n organisasie se menslikehulpbronne-afdeling aan te sluit waar ek mensstrategieë intern kon ontwerp en deurvoer, eerder as om vir 'n beperkte tyd as konsultant vir 'n sekere organisasie op te tree. Dit is vir my op hierdie punt in my loopbaan belangrik om ontwikkeling te inisieer en deur te voer. Ek beskou myself ook as 'n akademikus in murg en been. Toe die Universiteit Stellenbosch my hierdie opwindende geleentheid as Bestuurder: Kapasiteitsontwikkeling op die gebied van diversiteit aangebied het, het ek dit dus aangegryp. Dit spreek op soveel vlakke tot my. Ek het geweet ek sal my professionele en akademiese aspirasies hier kom vervul.
 
Hoe pas jy in Stellenbosch aan? Enigiets interessants of anders wat jy wil uitwys? 
Ek het skaars 'n maand hierheen verhuis voordat ons almal weens die KOVID-19-vlaag tot ons huise beperk is! Dinge kan nie veel interessanter raak nie, eerlikwaar.
 
Jou pos is dus soort van 'n nuut geskepte posisie? Wat gaan jy doen? Skakel dit in by wat jy vantevore gedoen het?
Die Kapasiteitsontwikkelingsprogram in Diversiteit is van stapel gestuur nog voordat ek gekom het. Dus het ek 'n baie stewige grondslag waarop ek verder kan bou. Soos die postitel sê, is my rol om die Universiteit se kapasiteit vir diversiteit te ontwikkel. My hoofverantwoordelikheid sal wees om die Universiteit se Siyakhula Program deur te voer. Dit behels dat personeel gekapasiteer en toegerus word om verskille, diversiteit en transformasie te modelleer en te omarm. In my hoedanigheid as arbeidsregsgeleerde, sosiale wetenskaplike en voormalige konsultant in MH-transformasie het ek al talle organisasies bygestaan om verandering te stuur, veral mens- en kultuurverwante verandering.
 

Dit lyk asof jy die sfeer van MH en dié van transformasie bymekaartrek. Brei asseblief uit oor die verband tussen die twee.
My rol aan die Universiteit is in MHB gesetel, maar sover dit die bevordering van diversiteit en gelyke indiensneming bevorder, belyn dit ook met die US se transformasie-agenda, wat deur die Transformasiekantoor gefasiliteer word. My werk sal dus verskeie vertakkings en gelykheidstrukture binne die Universiteit oorspan ten einde ons institusionele Visie 2040 te verwesenlik – naamlik, om 'n werkgewer van voorkeur te wees deur diversiteit en gelykheid te omarm, unieke talente en sterk punte ten beste te benut, lewenslange leer te bevorder en prestasies te vier.
 

Op watter hooftemas sal jou opleidingsprogram fokus? Wat, sou jy reken, is sommige van die groot opleidingsbehoeftes aan die US?
Die fokus van ons opleidingsprogram is om 'n instaatstellende, inklusiewe, gelyke, gesonde en veilige werks- en leeromgewing te skep en te bevorder; een wat ons diverse personeelkorps aanmoedig om hulle produktiwiteit te maksimeer, en waar hulle gewaardeerd voel en daartoe bydra om die US uitmuntend te hou. Ons beoog om die volgende aan te bied:

  • 'n funksionele opleidingsprogram met die fokus op voldoening aan die wetlike vereistes van die Wet op Diensbillikheid en ander politieke en prosedurele raamwerke, en op die sosio-kulturele dinamiek wat algemeen in die deurvoering hiervan voorkom;
  • 'n kursus oor hoe om diversiteit en verskille te begryp, om personeel diversiteitsgeletterd te maak; hierdie kursus help ontwikkel mense se vermoë om oor diversiteitskwessies te redeneer en krities daarmee om te gaan deurdat dit stimulerende maar toeganklike materiaal verskaf, asook 'n ruimte om krities en nadenkend deur die inhoud te werk; en
  • Vaardigheidsopleiding; een van die hoofoogmerke van Siyakhula is om die Universiteitsgemeenskap se gedrag te verander en om relasionele en empatiese menseverhoudinge te bou. Om transformasie op die lang termyn te verwesenlik, is dit belangrik dat ons vaardighede en kennis in mense sal vestig en sal verseker dat hulle eienaarskap van die visie van transformasie aanvaar.
     

Die Transformasiekantoor sal in die komende maande tred hou met Katlego en die Siyakhula-transformasie-, diversiteits- en diensbillikheidsontwikkelingsprogram. Hou dus dop vir aanvullende dekking.