Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Implikasies van vlak 3-risiko-aanpassing vir US-koshuise
Outeur: Prof Stan du Plessis: Chair: Institutional Committee for Business Continuity
Gepubliseer: 29/05/2020

​29 Mei 2020

Beste studente

Die land verskuif binnekort na risikovlak 3 en dit is te verstane dat die onlangse aankondiging van hierdie risiko-aanpassing bykomende vrae by ons studente laat onstaan het. Ondanks die verslapping van die beperkings op beweging, moet universiteite steeds aan streng gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen en ons wag op verdere voorskrifte van die regering.

Na aanleiding van prof Wim de Villiers se mees onlangse skrywe aan die kampusgemeenskap, sal eenmalige toegang tot kampusse gereël word sodat studente boeke en akademiese materiaal kan gaan haal. Dit sal ook vir studente geld wat hul plasings gekanselleer het en hul kamers moet ontruim. Hoewel hierdie geleenthede beslis gegee sal word, is ons nog nie in staat om die eenmalige toegang te gee nie. Ons sal met julle in verbinding tree sodra die nodige gesondheids- en veiligheidsprotokols gereed is en wanneer dit moontlik is om julle vir 'n eenmalige besoek by die koshuise te ontvang. Ons versoek asb vriendelik dat julle nie in hierdie stadium jul koshuishoof skakel om toegang te reël nie.   

Herinnering: Die sluitingsdatum vir die kansellasie van koshuisverblyf sonder enige finansiële implikasies is Sondag, 31 Mei 2020. Die datum waarop die geskrewe kennisgewing van kansellasie ontvang is, sal as die amptelike datum van kansellasie geld. Studente wat hul plek in 'n koshuis kanselleer, sal nie vir herplasing in 'n koshuis in 2021 oorweeg word nie, tensy daar nog plek beskikbaar is nadat alle nuwe eerstejaars en seniors wat in 2020 in koshuise ingewoon het, geplaas is.

Gegewe die omstandighede wat deur die COVID-19-pandemie veroorsaak is en die ontruiming van studente vanaf die kampus, asook die finansiële druk op studente en hul borge, het die US 'n toepaslike verminderde paaiement vir koshuisgelde wat aan die einde van Mei 2020 betaalbaar is, bepaal. Die verminderde paaiement, saam met die finale paaiement wat in September betaalbaar is, sal verseker dat US-studente net vir die weke wat hulle werklik vanjaar in die koshuis ingewoon het, betaal.

Sommige kontaklesings op kampus mag moontlik gedurende die tweede semester hervat word wanneer al die studente wat vir die spesifieke module ingeskryf is, terug is op kampus. Waar 'n module deur kontaklesings voortgesit kan word, sal dit nie moontlik wees om terselfdertyd aanlyn-leer in die spesifieke module voort te sit nie. Daarom word dit nie aanbeveel dat studente hul koshuis- of private verblyf vir die res van 2020 kanselleer nie.

Indien jy enige navrae oor jou koshuisgelde het, kan jy 'n e-pos na info@sun.ac.za stuur. Indien jy enige navrae oor die kansellasie van jou koshuisplasing het, of indien jy jou koshuisverblyf wil kanselleer, moet jy asb 'n e-pos aan die Koshuisplasingskantoor stuur by brigetta@sun.ac.za of jonathana@sun.ac.za.

Jy het heel waarskynlik nog baie vrae en hoewel ons nie tans oor al die antwoorde beskik om die onsekerheid uit te klaar nie, sal ons met julle in verbinding tree sodra ons groter duidelikheid oor hierdie kwessies het. Hou vir eers die US se spesiale COVID-19-webblad dop, veral die afdeling oor gereelde vrae. Dit is steeds die beste plek om die jongste inligting te bekom en soos nuwe reëlings bekend gemaak word, word die webblad dadelik bygewerk.

Vriendelike groete

Prof Stan du Plessis

Voorsitter: Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting ​