Drie navorsers en twee voormalige nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) word vanjaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hul bydraes tot die wetenskap en kunste vereer.
Die bekroondes is prof Matilda Burden van die US Museum, prof Jan van Vuuren van die departement Bedryfsingenieurswese, prof Andre Weideman van die departement Wiskundige Wetenskappe, en oudstudente Theo Busschau en Ruhan Fourie.
Prof Matilda Burden, 'n kultuurhistorikus, ontvang 'n Erepenning vir die Bevordering van Geskiedenis vir haar hoogstaande bydrae tot die bevordering van die geskiedenis of kultuurgeskiedenis as dissiplines in Suid-Afrika.
Burden sê hoewel sy heeltemal uit die veld geslaan is met die toekenning, is dit 'n baie groot eer en is sy diep dankbaar daarvoor.
“Dis my voorreg om oor Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis te kan navorsing doen en skryf, en Suid-Afrikaners oor alle kultuurgrense heen te kan oplei in kultuurgeskiedenis, erfenisstudies en museumkunde. Dit is daarom 'n besondere eer om boonop daarvoor beloon te word met 'n toekenning wat erkenning gee aan 'n beskeie bydrae.
“Die toekenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns beteken vir my geweldig baie, veral omdat dit ook erkenning gee aan die vakgebied kultuurgeskiedenis," voeg Burden by.
Die Douw Greeff-prys gaan aan prof Jan van Vuuren vir 'n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.
Van Vuuren sê die prys was totaal onverwags. “Erkenning is nie 'n navorser se dryfveer is nie; dis eerder 'n fundamentele nuuskierigheid wat lei na 'n strewe tot die beantwoording van oop vrae. Maar dit is tog bemoedigend en lekker as mens die soort erkenning kry wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verleen." Hy het ook in 2007 dié prys saam met Nicky Pantland ontvang.
Die Havengaprys vir Fisiese Wetenskappe is toegeken aan prof. André (J.A.C.) Weideman, 'n toegepaste wiskundige wat spesialiseer in die ontwerp en verbetering van rekenaaralgoritmes vir toepassing in die wetenskap en ingenieurswese. Die Havengaprys word toegeken vir oorspronklike navorsing in die fisiese wetenskappe, en kan net een maal aan 'n persoon toegeken word.
Prof Weideman word internasionaal erken as een van die mees “kreatiewe figure" in numeriese analise, spesifiek vir sy navorsing op die koppelvlak tussen komplekse analise en numeriese algoritmes in toepassingsgebiede soos differensiaalvergelykings, integraaltransforms en spesiale funksies.
Oor 'n tydperk van dertig jaar het hy 'n waardevolle bydrae tot die verbetering van sagteware gelewer deur die toepassing van sy teoretiese kennis vir die ontwikkeling van praktiese algoritmes.
In sy reaksie op die toekenning, sê prof Weideman die toekenning is uiters spesiaal, veral omdat die meeste toegepaste wiskundiges se navorsingsbydraes dikwels onsigbaar blyk te wees wanneer dit by die populêre media kom: “Toegepaste wiskunde is 'n diensvak vir die res van die wetenskap. Vir iemand wie se lewe daaruit bestaan om rekenaaralgoritmes vinniger en beter te maak vir doeltreffende gebruik deur ander wetenskaplikes, is hierdie toekenning dus uiters spesiaal."
Die oudstudent Theo Busschau is die ontvanger van die Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje vir die beste MSc-tesis in Dierkunde. Hy het navorsing gedoen oor die filogenetiese verspreidingspatrone van drie reptiel-spesies wat in woude aan die ooskus van Suid-Afrika voorkom. Mnr. Busschau doen al sedert sy BScHons-jaar navorsing oor reptiele onder die studieleiding van prof Savel Daniels, verbonde aan die US se departement Plant- en Dierkunde. Hy word beskryf as 'n buitengewone student en het reeds vyf navorsingsartikels in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte agter sy naam, waaronder twee as eerste outeur, met nog 'n artikel in die pyplyn. In September vertrek hy na die VSA, waar hy 'n doktorale genootskap in biologie aan New York Universiteit bekom het.
Nog 'n oudstudent, Ruhan Fourie, is met die Protea Boekhuisprys en die Generaal Christaan de Wet-beurs vir die beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans vereer. Sy meesterstesis het oor die anti-apartheidsaktivis Beyers Naudé gehandel.
- Foto: Mnr Theo Busschau en Proff Matilda Burden, André Weideman en Jan van Vuuren.