Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19-pandemie ook ’n geleentheid om noodsaaklike ekostelsels te herstel
Outeur: Michael Samways
Gepubliseer: 22/05/2020

Vrydag (22 Mei) word die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit gevier. In ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian skryf prof Michael Samways van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie dat die COVID-19-pandemie ons ook die geleentheid bied om noodsaaklike ekostelsels te herstel.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

COVID-19-pandemie ook 'n geleentheid om noodsaaklike ekostelsels te herstel

Michael J Samways*

Ons oorlewing hang van 'n gesonde planeet af. Een wie se gesondheid saamhang met veerkragtigheid, die vermoë om ná 'n terugslag kan herstel. Net so beteken die vermoë om terug te bons dat daar ryk en produktiewe ekostelsels is met al die basiese fasiliteite om te herstel. Hierdie fasiliteite gaan daaroor om organismes, van die kleinste tot die grootste, te laat floreer.

Die werklikheid is dat alle organismes wigte het wat keer dat hulle nie buite beheer raak nie, of alternatiewelik verhoed hul behoeftes dat hulle uitsterf. Dié wigte sluit in die klimaat, rampe, siekte en om deur iets anders opgevreet te word. Dit is hoe die natuur werk. Die onus is nou op ons om te verseker dat daar aan hul behoeftes voldoen word.

Daar bestaan nie iets soos die natuur se balans nie, maar eerder die natuur se dinamika. Organismes vloei saam met die gety oor landskappe heen op soek na die beste toestande om te voed, te teel en te rus. Dit sluit in plante en fungi wat deur middel van hul sade en spore versprei.

Wat ons met alle ander organismes gedoen het, is om hulle óf te verwyder, óf om hulle in permanente inperking te plaas deur landskappe in geboue en landerye te verdeel. Hierdie inperking het verhoed dat hulle die optimale toestande kon vind waar hulle gesond genoeg is om hul nasate 'n rooskleurige toekoms te gee. Organismes is verwyder deur verskuiwing en dood weens die uitkap van habitat, die gebruik van giftige chemikalieë, die uitwerking van paaie en motors en doodgewone onbedagsaamheid en agterlosigheid.

Die verlies wat deur biotiese inperking meegebring is, beteken dat die hele lewensstelsel regoor die wêreld besig is om uitgerafel te word. Omdat organismes nie meer die beste toestande vir oorlewing en teling kan vind nie, sterf hulle uit. Wanneer een lewensdraad uitgetrek word, word 'n ander een kwetsbaar, terwyl die tapisserie van die lewe sy waarde verloor. In kort, ons is besig om die lewe weerloser te maak, terwyl ons die veerkragtigheid daarvan verminder. 

In hierdie tyd van COVID-19, het ons gesien hoe vinnig lewe herstel kan word indien dit net die geleentheid kry. Brilpikkewyne stap in Kaapse strate rond, groepe Kaapse jakkalse kom in die dag te voorskyn en selfs 'n Kaapse luiperd het dit binne sig naby huise gewaag. Die lug is skoner en ons kan weer voëls hoor sing waarvan ons al vergeet het.

Gedurende hierdie COVID-19-pandemie kon ons almal dieper delf oor die waarde wat ons aan die lewe in sy geheel heg. Die waarde van voedsel en omgee-verhoudings het 'n nuwe vlak van belangrikheid bereik. Die groot waarde van die buitelewe het ons ook regtig laat besef wat vryheid beteken. Ons kan die natuur in al sy vorme waardeer – van die helderblou lug en wolkformasies tot die vreugde van die ware kern van die lewe.

Hierdie moeilike tye stel ons ook in staat om die onsigbare te waardeer. Weggesteek onder ons voete en reg rondom ons is ontelbaar baie vorme van klein lewe waarvan ons die bydrae tot ons welstand vir heeltemal te lank geïgnoreer het. Taakmagte van klein wesentjies bewerk die grond om dit aan die lewe te hou en stel ons wêreld in staat om buigbaar en veerkragtig te bly. Dit alles hang af van die son se energie wat deur plante opgevang en deur hul groenheid in energie omskep word wat aan ons en talle ander organismes beskikbaar is.

Dit is nou die tyd om hierdie krisis in 'n ander rigting te stuur en in ʼn geleentheid te omskep. Ons moet op dieselfde manier waarop ons vir mekaar omgee, ook na die wêreld rondom ons begin omsien. Terwyl ons die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit (22 Mei) vier, moet ons ook onthou dat dit uiters belangrik is om vir alle lewe om te gee indien ons nog lank wil bly voortbestaan.

So hoe begin ons hierdie proses om nuwe lewe in ons ekostelsels te blaas?

'n Goeie vertrekpunt sal wees om op te hou soek na vinnige oplossings net omdat hulle nou goedkoop is. Die prys op die lange duur kan verskriklik wees. Ons het gesien hoe goedkoop lugvervoer en plesiervaarte nie net erge lugbesoedeling veroorsaak nie, maar ook snelweë vir aansteeklike kieme skep. Gebrekkige respek vir die grond het met die verloop van tyd tot die katastrofiese verlies en agteruitgang daarvan gelei.

Plastiek in die oseaan maak die seelewe dood. Die afkap van die reënwoude, en die gepaardgaande grootskaalse lewensslagting lei tot die agteruitgang van die siklusse van voedingstowwe en klimaatsrampe wêreldwyd. Voortgesette hoë koolstofvrystellings sal tot verdere verergering lei, en nie net die verlies van groot stukke landbougrond nie, maar ook van talle kusstede, tot gevolg hê.

Die basislyn vir veranderinge moet dringend wegbeweeg vanaf selfsugtige, onmiddellike ekonomiese winste na 'n toekoms wat toekomstige geslagte sal kan geniet. Nuwe en gevorderde tegnologie, tesame met die omarming van goeie, outydse omgee vir die natuur sal ons deursien. Ons het versigtige en strategiese denke nodig en moet ons begeertes en ons smagting na vinnige oplossings en meer 'goed' laat vaar.

Ons moet wêreldwyd onmiddellike eie winste en eie verbetering vir gemeenskaplike omgee en billikheid verruil, veral deur ons ingebore stamgebondenheid te oorkom. Dit kan gedoen word. Ons beskik oor baie van die basiese wetenskap om dit te doen, en dit is nou die tyd om vinnig en opportunisties op te tree. 

*Michael Samways is 'n uitgelewe professor in die departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch. Sy navorsing fokus op onder meer op landskapsekologie en die bewaring van invertebrata, veral insekte.