Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-broers werk saam met regering om COVID-19 te beveg
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 21/05/2020

COVID-19 het reg oor die wêreld verwoesting gesaai, nasies tot stilstand gedwing en ekonomieë aan flarde gelaat. In Suid-Afrika is dit nie anders nie, soos vrese en onsekerheid toeneem oor wat om te doen omtrent die pandemie, en hoe om dit gedoen te kry. 

In die midde hiervan verbind Matie-alumni en broers, Malan en Philip Joubert, die regering en die tegno-gemeenskap deur hul maatskappy OfferZen, deur “gemeenskap- en regeringsprojekte te identifiseer wat 'n verskil kan maak" in die bestryding van die pandemie en die verwagte ekonomiese impak kan verminder. OfferZen, 'n aanlyn tegno-markplek, het toegang tot meer as 90 000 sagteware-vervaardigers in Suid-Afrika.

“Ek glo die tegno-gemeenskap het unieke vermoëns en 'n gewilligheid om die gesondheid- en ekonomiese uitwerking van COVID-19 te beveg," sê Malan.

Project Unlockdown bring vrywilligers uit die tegno-ekosisteem byeen om te werk aan projekte wat ontwerp is om die impak van COVID-19 te pak en 'n effektiewe ekonomiese reaksie te implementeer na afloop van die krisis.

Die Kwesbaarheid Karteringsprojek was een van die eerste inisiatiewe. Vrywilligers uit die tegno-gemeenskap het saamgewerk met die Suid-Afrikaanse SDG Hub geleë by die Universiteit van Pretoria, wat 'n gesondheid-kaart van gemeenskappe ontwikkel wat veral kwesbaar is vir die effekte van COVID-19.

“Professor Willem Fourie van die Universiteit van Pretoria, 'n mede-alumnus van die Universiteit Stellenbosch, het op LinkedIn na my uitgereik," verduidelik Malan.

“Sy span het gewerk aan 'n projek om die Kaart van Kwesbare Gemeenskappe saam te stel en het bykomende ontwikkelaars benodig om dit te laat gebeur. Ons het 'n vinnige beroep gedoen op die stigtergroep en die OfferZen gemeenskap en gou het honderde mense aangebied om te help."

Die kaart help om te identifiseer waar COVID-19 die mees verwoestende impak sal hê deur die kwesbaarste gemeenskappe te identifiseer, veral waar individue met bestaande siektes woon.

Toe die Kantoor van die Presidensie verneem van OfferZen se betrokkenheid by die projek is hulle na Pretoria genooi en is die maatskappy gevra om die regering by te staan in sy stryd teen die pandemie. Sedertdien het OfferZen gehelp om projekte te identifiseer wat die regering se vermoë om op die krisis te reageer sal versterk en het bystand verleen om die lede van die tegno-gemeenskap in verbinding te bring met relevante regeringsvennote.

“Die regering besef hoe krities dit sal wees om saam te werk met plaaslike tegno-maatskappye en ontwikkelaars in hierdie tyd van krisis. En die gemeenskap het na vore getree om te help."

As ontwikkelaars en entrepreneurs ken hulle die tegno-bedryf goed. Malan en Philip het al twee ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer.

“Hierdie stryd sluit in die bewusmaking en teweegbring van ondersteuning in die tegno-gemeenskap, werwing en koördinering van vrywilligers vir hierdie projekte en om dan die tegno-gemeenskapslede in verbinding te bring met gepaste regeringsliggame.

“Ons het 'n toegewyde span wat dit kan doen en wat gemeenskappe en regeringsprojekte identifiseer wat 'n verskil kan maak en hulle help dryf om 'n impak te maak," sê Malan.

Benewens die Kwesbaarheidskaart werk Project Unlockdown aan die ondersteuning van verskeie ander projekte insluitend die Snel Vervaardigde Mediese Toerusting projek wat beoog om die gemeenskap te verenig in die vervaardiging van maskers, beskermingstoerusting en ondersteuning van die Nasionale Ventilator Projek.

Die Ekonomiese Impak Projek versamel en vergelyk intydse ekonomiese data om indikators te verskaf oor die ekonomiese impak van die virus en van die inperking op ons maatskappye en sektore.

“Ons ondersteun ook die inisiatief Behulpsame Ingenieurs – 'n globale gemeenskap van meer as 16 000 ingenieurs reg oor die wêreld wat hul inligting deel en mekaar help om COVID-19 te beveg," voeg Malan by.

Project Unlockdown trek vrywilligers wat dienste aanbied soos kodering, data-analise en toegang tot datastelle. Vrywilligers uit die regsberoep en regulatoriese en sake-bedrywe het ook by hulle aangesluit.

“Ons sou nie in staat gewees het om Project Unlockdown so vinnig op die been te kry, as dit nie was vir die vrywillige bystand van Suid-Afrika se tegno-ekostelsel nie. Hulle het regtig op hierdie kritieke tyd hul kant gebring. Ons is trots om deel van hierdie gemeenskap te wees," sluit Malan af.

​Foto: Maties alumni Malan Joubert (foto) en sy broer Philip bring die regering en die tegno-gemeenskap met mekaar in verbinding deur hul maatskappy, OfferZen, in die stryd teen die COVID-19 pandemie, in 'n poging om die verwagte ekonomiese impak daarvan te verminder. (Verskaf)