Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Behoorlike definisie vir nasionale sekerheid nodig vir vrye vloei van inligting
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 20/05/2020

'n Behoorlike definisie vir nasionale sekerheid is nodig om ons grondwetlike regte tot die toegang, ontvangs en uitgee van inligting wat in openbare belang is, te beskerm.

Só meen dr Justin Ramages, 'n praktiserende prokureur wat onlangs sy doktorsgraad in Publieke Reg aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het. Hy sê daar is geen nasionaal-aanvaarde definisie vir nasionale sekerheid nie en hoewel die konsep in verskeie wette en regtelike beslissings voorkom, is die definisies vaag, in konflik met mekaar en beskerm hulle nie al die toepaslike staatsbelange nie.

Gegewe die regering se bekendstelling van die wetsontwerp op geheimhouding en sy poging om die vrye vloei van inligting vir nasionale sekerheidsdoeleindes te beperk, wou Ramages bepaal hoe die howe, as die toepaslike liggaam, geskille tussen die vrye vloei van inligting en nasionale sekerheid op 'n manier kon bylê wat oop en deursigtige geregtigheid – met ander woorde dat die publiek en die media kan sien dat geregtigheid in 'n hofsaal geskied – bevorder.

Hy voer aan dat nasionale veiligheid in statutêre reg gedefinieer moet word en “die beskerming van die verdediging, sekerheid, grondwetlike orde, oppermag, die mense en gebiedsintegriteit van die Republiek van Suid-Afrika teen magsdade of die bedreiging daarvan" moet beteken.

“Die doel van só 'n definisie is om presies uit een te sit wat die regbank moet beskerm en teen wie, en daardeur die staat se kanse om die konsep te wangebruik of te misbruik op doeltreffende wyse te verminder.

“Dit identifiseer duidelik watter sekerheidsbelange die land moet beskerm, die inhoud van hierdie belange en die aard van die bedreigings wat die belange en hul inhoud in gevaar kan stel.

“Dit gee ook uitklaring aan 'n konsep wat die staat gebruik om ongeregtigheid en staatsmisbruik te verdoesel en begin 'n dialoog oor wat hierdie konsep veronderstel is om te beteken, hoe dit toegepas moet word. Die publiek kan dit op 'n baie praktiese wyse gebruik om die staat se besluite om die vrye vloei van inligting te beperk, uit te daag."

Ramages het met sy definisie vorendag gekom deur die Grondwet, die wetgewing daaraan verbonde en toepaslike regtelike beslissings te ontleed. Hy het ook gekyk na geskiedkundige ontwikkelings rondom die oorsprong en betekenis van die regte tot die toegang tot en ontvang en deel van inligting en nasionale sekerheid. Hy het ook op buitelandse en internasionale regsinstrumente gesteun om te sien of hulle enige insig bied in hoe die regbank hierdie tipe dispute moet besleg.

Ramages meen 'n definisie van nasionale sekerheid is waardevol indien dit genoegsame duidelikheid verskaf oor watter sekerheidsbelange deur watter wet beskerm moet word; indien dit die toepaslike sekerheidsbelange beskerm; indien dit die inhoud van die sekerheidsbelange definieer; en indien dit die aard van die bedreigings wat hierdie sekerheidsbelange in gevaar kan stel, identifiseer.

“Aangesien dispute oor die vrye vloei van inligting en nasionale sekerheid dikwels gepaardgegaan word deur teenstrydige uitsprake en 'n sekerheidsmasjien wat onseker is oor wat dit veronderstel is om te beskerm, kan die regbank slegs uitsluitsel oor sulke dispute gee indien nasionale sekerheid 'n vaste betekenis in die Suid-Afrikaanse reg het."

Ramages sê dat daar sonder 'n behoorlike definisie van nasionale sekerheid 'n gevaar bestaan dat die howe dalk inligting kan vrystel wat die staat in gevaar kan stel, of die staat kan in gebreke bly om kritieke inligting te beskerm en homself in gevaar kan stel. “Andersyds kan inligting wat nie beskerm moet word nie – soos byvoorbeeld ampsmisdrywe – verdoesel word wat 'n oop en deursigtige regstelsel en demokrasie kan benadeel.

Hy noem dat sekerheidskenners al die regbank gekritiseer het wanneer dit dispute oor sekerheid bylê deur te sê die nodige begrip en bedryfskapasiteit ontbreek om aangeleenthede oor nasionale sekerheid op te los.

Ramages sê sy voorgestelde definisie kan gebruik word om die betekenis van nasionale sekerheid in die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet 2 van 2000), die Wet op Beveiliging van Inligting, 1982 (Wet 84 van 1982), die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (Wet 4 van 2013) en die Wet op Nasionale Strategiese Intelligensie, 1994 (Wet 39 van 1994) by te werk.

“Dit sal duidelike riglyne uiteensit oor wanneer inligting vir die doel van nasionale sekerheid weerhou kan word en dit sal vir die staat duidelik maak watter staatsbelange teen watter gevare en bedreigings moet beskerm word. Die howe sal duidelikheid hê oor watter sekerheidsbelange beskerm moet word, watter aktiwiteite binne daardie belange val, asook teen watter bedreigings dit moet waak."

Ramages sê die staat, die regbank asook die media en belangegroepe wat die staat se verdoeseling van inligting wil uitdaag, kan by sy navorsing baat.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Justin Ramages

E-pos: justinramages@gmail.com