Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US betreur afsterwe van prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel
Outeur: Theology / Corporate Communication
Gepubliseer: 19/05/2020

Die Universiteit Stellenbosch betreur die afsterwe van prof Mary-Anne Plaatjies-van Huffel vandag (19 Mei 2020) aan komplikasies ná 'n onlangse operasie. Prof Plaatjies-van Huffel was professor in Ekklesiologie in die Fakulteit Teologie. Prof Reggie Nel, Dekaan van die Fakulteit Teologie, lewer hier 'n huldeblyk.

Prof Plaatjies-van Huffel het 'n merkwaardige baanbrekersrol in die kerklandskap in Suid-Afrika, ons vasteland en wêreldwyd gespeel. Sy was die eerste vrou wat in die voormalige Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (later die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika)  georden is en is ook as die eerste vrouemoderator van die Algemene Sinode van dié kerk verkies.

Sy was 'n kampvegter vir sake soos swart teologie, vroueregte en transformasie en het die kerk en Afrika op talle terreine verteenwoordig, onder meer in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke en die Wêreldraad van Kerke. Sy was ook 'n passievolle kerkhistorikus, kerkregkenner en pedagoog. Haar loopbaan in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het taamlik onlangs begin, maar sy het 'n onuitwisbare indruk op haar vakgebied en in die harte en gedagtes van haar kollegas en studente gemaak. Plaatjies-van Huffel was ook die eerste swart vrou wat tot hoogleraar aan die Fakulteit Teologie van die US bevorder is, en hierdie merkwaardige prestasie sou later vanjaar tydens haar intreerede as professor in Ekklesiologie erken word.

Ons bring hulde aan haar merkwaardige talente, prestasies en bydraes, maar ons onthou haar veral vir haar onwrikbare moed, haar lieflike persoonlikheid en haar groot hart.

Ons betreur haar heengaan saam met haar man, ds Dawid van Huffel, haar familie en vriende, ons fakulteitsgemeenskap en die breër kerkgemeenskap.

“Dis hartseer nuus. Prof Plaatjies-Van Huffel was ʼn gewaardeerde kollega, gerekende kenner en baanbreker. Ons gaan haar mis. Ons innige medelye met haar familie en kollegas,” het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê. 

​Foto: Dominique Jeftha, MatieMedia (2019)