Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumnus gee leerders toegang tot gratis aanlynlesse
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 18/05/2020

Toe skole regoor die land vroeër vanjaar gesluit het weens die COVID-19-pandemie, was die meeste ouers paniekerig oor die impak op hul kinders se akademiese jaar. Gelukkig het Adrian Marnewick, 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool (USB), 'n helpende hand in die vorm van aanlynlesse verleen via WorksheetCloud.com, 'n aanlyn-studie hub.

Vir Adrian, 'n 35-jarige Kaapstadse entrepreneur en sake-eienaar met 'n besondere belangstelling in aanlynonderrig, was dit van die begin af duidelik dat sy onderneming, Learning Lab Apps, die onderneming wat WorksheetCloud begin het, ouers en leerders in nood sou help.

Adrian het Learning Lab Apps in 2014 saam met sy pa begin, wat vir 15 jaar hoof van fisika aan 'n hoërskool was voordat hy bedank het en sy eie opvoedkundige sagteware-ontwikkelingsonderneming op die been gebring het in die 90's - nog voor die term "edtech" bekend geword het.

Hy sê sy pa het hom genooi om by die familieonderneming aan te sluit toe hulle albei besef het dat die roete om 'n formele tersiêre opleiding te volg nie vir hom was nie. "In 2007 is ek aanvaar om deeltyds 'n kursus in sakebestuur aan die USB te studeer. Ek glo dat dit my liefde vir leer aangewakker het, en ek het vinnig besef dat werk gekombineer met voortgesette leer my die meeste interesseer. En sedert my sakebestuurskursus by die USB in 2007, het ek my daartoe verbind om elke jaar iets nuuts te leer. Ek het reeds kursusse in Projekbestuur, Produkontwerp en Leierskap voltooi om maar slegs 'n paar te noem."

Adrian sê Learning Lab Apps het 'n missie om geluk te skep. Die manier waarop ons dit bereik, is deur middel van die aanlyn opvoedkundige app wat ons ontwikkel het, WorksheetCloud. Ons onthou almal hoe ons en ook ons ouers voor eksamens baie stres ervaar het, en dit is wat WorksheetCloud beoog om te verminder of heeltemaal uit te skakel," sê hy.

WorksheetCloud bied aan leerders aanlyn, interaktiewe aktiwiteitsbladsye en oefeneksamens. Die inhoud is gebaseer op die Suid-Afrikaanse CAPS- en IEB-kurrikulum en dek Wiskunde, Engels, Afrikaans, Natuurwetenskappe, Geskiedenis en Geografie, afhangende van die graad. Hulle het inhoud beskikbaar vanaf graad 1 tot 9.

“Ouers hoef nie langer ure te spandeer om na relevante leerinhoud te soek nie. Die inhoud van WorksheetCloud bevat gedetailleerde antwoorde met verduidelikings en wenke. Al die inhoud is ontwerp om jou kind te help om hul skooluitslae vinnig en effektief te verbeter," verduidelik hy.

Volgens Adrian is die stres wat ouers ervaar het toe skole moes toemaak, verstaanbaar. "Dit was duidelik dat ons iets moes doen wat die land sou bevoordeel - wat vrylik toeganklik sou wees vir soveel as moontlik leerders asook ouers. Ek onthou 'n gesprek met my pa wat gesê het: 'Al verloor ons geld, wat heel waarskynlik sal gebeur, wil ek steeds hê ons moet help.'''

Hulle het koppe bymekaar gesit en met die idee vorendag gekom om gratis, regstreekse aanlynlesse aan te bied en dit WorksheetCloud Live Lessons genoem. Aanvanklik het dit egter glad nie seepglad verloop nie. "Alhoewel ons daarin geslaag het om in die eerste twee dae, wat 'n rekord in Suid-Afrika is, aan 40 000 leerders lesse te gee, het ons tegniese probleme ondervind. Met sewe onderwysers, almal tuis met verskillende internetspoed, het dit vinnig duidelik geword dat regstreekse lesse te veel gebruikers sou frustreer omdat sommige van die onderwysers se internetverbindings in die middel van die les sommer sou stop."

Adrian sê dat hulle binne 18 uur die hele stelsel herbou het om voorsiening te maak vir die aanvraag, lesse opgeneem het en toe 'Live' vervang het met 'Online' in hul naam — WorksheetCloud Online Lessons.

Om lang ure te werk het ook toe maar deel van sy dae geword. "Sedert ons WorksheetCloud Online Lessons van stapel gestuur het, werk ek 12 tot 14 ure per dag, net soos die meeste van ons span. Maar dit is goed, want ons span glo sterk daaraan om die bul by die horings te pak."

Volgens Adrian het hulle die grootste deel van die projek self befonds met 'n bydrae van hul vennoot MySchool MyVillage MyPlanet. "Ons sal so lank as moontlik aanhou om nuwe lesse op te neem. Maar sodra ons ophou om nuwe lesse op te neem, sal ons steeds al die video's beskikbaar stel sodat ouers en leerders  dit enige tyd gratis kan bekom."

So wat kan gebruikers van die platform in die toekoms verwag? Adrian sê later vanjaar begin hulle 'n groot opgradering van WorksheetCloud. “Ons begin Study Notes op die platform, wat basies 'cheatheets' is, wat die leerders alles sal bied om suksesvol te studeer.

“Ons glo vas in die MVP-proses (minimum lewensvatbare produk), wat beteken dat ons klein idees ontwikkel, dit so vinnig as moontlik opbou, dit aan ons kliënte bekendstel om terugvoer te kry wat ons dan gebruik om verbeterings aan te bring. Dit beteken dat dit baie moeilik is om presies te sê hoe WorksheetCloud in die toekoms sal lyk, want ons produkontwikkeling word deur ons gebruikers aangedryf. My visie is egter om binne die volgende vyf jaar een miljoen betalende gebruikers te hê. Dit is baie ambisieus, maar ons het nie sover gekom deur bang te wees om risiko's te neem nie," sluit hy af.