Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SAMEWERKING TUSSEN US-UITRUILSTUDENT EN SPAANSE STUDIELEIER DRA BY TOT WÊRELDWYE STREWE NA VOLHOUBARE ENERGIE
Outeur: SU International
Gepubliseer: 18/05/2020

Die internasionalisering van hoër onderwys het die afgelope dekade in 'n formidabele werktuig vir verandering ontwikkel. Oorgrensonderwys behels lank nie meer net ontwikkelingsamewerking nie, maar bestaan deesdae uit impakryke vennootskappe en samewerkende navorsing, wat dikwels ook tot mededingende kommersiële uitsette lei. Die jongste voorbeeld hiervan is Derwalt Erasmus, 'n Ingenieurswese-magisterstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), wie se navorsing gedurende 'n uitruilgeleentheid in Madrid, Spanje, 'n bestaande uitvinding verbeter én 'n nuwe een tot gevolg gehad het, albei op die belangrike gebied van skoon energie.

Derwalt het aan 'n vyf maande lange Erasmus+-studente-uitruilprogram van Alianza 4 Universidades (A4U) – 'n vennootskap tussen vier groot Spaanse universiteite – deelgeneem. Vir die uitruilgeleentheid het hy met 'n deskundige op die gebied van hernubare energie by Universidad Carlos III de Madrid (UC3M) saamgewerk aan verdere navorsing oor die onderwerp van Derwalt se magistertesis. Voordat hy na Spanje vertrek het, het dié student vorendag gekom met die SUNFlower, 'n toestel wat skoon energie skep, waarvoor 'n patentaansoek later via Innovus, die US se tegnologieoordragmaatskappy, ingedien is. 

Saam met sy Spaanse studieleier, prof Alberto Sánchez-González, 'n kenner van heliostaatveldmodellering en -ontwikkeling, het Derwalt die doeltreffendheid en tegnologiese gereedheid van die SUNFlower verbeter. “Hierdie internasionale mobiliteitsgeleentheid het die verdere ontwikkeling van my uitvinding moontlik gemaak," verduidelik hy. “Saam met prof Sánchez-González kon ek die verspreiding van gekonsentreerde sonstraling op die oppervlak van die toestel modelleer om die werkverrigting en doeltreffendheid van die SUNFlower te voorspel." Boonop het hulle bevindinge gedurende die verbetering van die SUNFlower op nóg 'n uitvinding uitgeloop – die Tadpole, 'n sontermiese toestel wat as 'n nuwe vorm van warmteoordrag dien.

'n Verslag oor hierdie navorsingsamewerking sal in 'n gesamentlike publikasie van die US, die Universiteit van Pretoria, UC3M en Erasmus+ verskyn, en sal ook voorgelê word by die Solar Paces-konferensie wat later vanjaar in Nieu-Meksiko plaasvind. Daarbenewens sal Derwalt sy uitvindings verder uitbou deur die US-gebaseerde internasionale samewerkingsplatform STERG (die Sontermiese Energienavorsingsgroep), wat in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese geleë is.

Met relevante en waardevolle uitvindings soos dié, verbaas dit nie dat die Fakulteit Ingenieurswese die Innovus-fakulteitspatenttoekenning vir 2019 losgelaan het nie. Die Fakulteit het 'n verstommende 20 patente vir die jaar bekom. Die toekenning maak deel uit van 'n jaarlikse viering van US-navorsers se prestasies deur Innovus, wat as skakel tussen die US en die bedryf optree, entrepreneurskap en innovasie by die Universiteit ondersteun en ontwikkel, en die US se uitvindings help kommersialiseer.

Derwalt se werk strook met die US se kern strategiese tema “Navorsing vir impak", wat onder meer daarop toegespits is om samewerkende en interdissiplinêre navorsing te onderneem ten einde die grootste uitdagings van die samelewing die hoof te bied en volhoubaarheid te help verseker. Derwalt kyk met dankbaarheid terug op sy internasionale besoek: “Dit was verrykend om die geleentheid te kon hê om met 'n kenner by UC3M saam te werk om my werk verder te ontwikkel. Ons ervaring saam was 'n reis wat begin het met die uitruiling van idees, wat mettertyd al hoe praktieser geword en uiteindelik op 'n waardevolle navorsingsbydrae uitgeloop het. Ek het geleer dat daar heelwat potensiaal opgesluit lê in skakeling met iemand uit 'n gans ander opvoedkundige agtergrond en kultuur."

 Tussendeur sy werk het hy ook die geleentheid gehad om hom in die Spaanse leefstyl te verdiep. “Ek kon die Spaanse taal leer, die kultuur ervaar, die land leer ken en nuwe vriendskappe bou – alles grootliks danksy die Erasmus+-studentenetwerk." ​