Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19: Beroep op vrywilligers
Outeur: Prof Jimmy Volmink
Gepubliseer: 18/05/2020

Beste Kollegas, Studente en Alumni

Ons gaan almal voort om aan te pas by die nuwe werklikhede wat meegebring is deur die COVID-19 pandemie terwyl dit soveel aspekte van ons lewens beïnvloed. Ek wil graag my waardering uitspreek teenoor almal wat besig is om nuwe maniere van werk en leer aan te gryp. Baie dankie dat u mekaar in dié moeilike tye ondersteun.

Die uitbreking van COVID-19 in die Wes-Kaap neem tans vinnig toe, met uitgebreide verspreiding in gemeenskappe en 'n toename in die aantal gevalle wat in die hospitaal opgeneem moet word en sterftes. 'n Doeltreffende reaksie op die pandemie is afhanklik van die betrokkenheid van vrywilligers wat gesondheidswerkers en gemeenskappe ondersteun. Ons is geweldig dankbaar vir die studente en personeel wat reeds as vrywilligers optree en soveel bystand verleen. Daar word nou van die Universiteit en ander belangegroepe verwag om ondersteuning op 'n verskeidenheid vlakke te verhoog.

Vrywilligers verleen reeds bystand met die uiters belangrike take van die bestuur van gevalle in die gemeenskap en die nasporing van mense wat moontlik met die siekte in aanraking gekom het. Dit behels dat gevalle van mense wat positief getoets het en mense wat met hulle in aanraking kon kom telefonies opgevolg word, skakeling met spanne in gemeenskappe, die reël van toelating tot isolasiefasiliteite of hospitale en die identifisering van trosinfeksies. Spanne mense, wat in kleiner groepe verdeel is, werk reeds vir die afgelope weke onverpoos. Bykomende hulp om ons gesondheidsdienste en gemeenskappe te ondersteun is nou broodnodig.

Ek wil graag hiermee 'n dringende beroep op personeel, studente en alumni doen om dit te oorweeg om hul dienste as vrywilligers beskikbaar te stel om die werk aan te vul van spanne wat besig is om positiewe gevalle en hulle kontakte na te speur en bystand te verleen met die vaslegging van data, waar nodig. Opleiding in geneeskunde of die gesondheidswetenskappe sal voordelig wees, maar is nie 'n voorvereiste nie aangesien alle vrywilligers die nodige opleiding sal kry. Ervaring met die voer van onderhoude sal nuttig te pas kom.

Indien dit vir u moontlik is om bystand te verleen as 'n vrywilliger, stuur asseblief 'n e-pos aan sucovidvolunteers@sun.ac.za vir meer inligting. By voorbaat baie dankie vir u ondersteuning. Dit gaan 'n groot verskil maak.

Vriendelike groete

Prof Jimmy Volmink
Dekaan: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch