Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19 verg kophou op ’n oorsese studente-uitruil
Outeur: SU International
Gepubliseer: 18/05/2020

Baie Maties droom van 'n semesteruitruil oorsee. Dit bied immers 'n opwindende geleentheid om nuwe mense te ontmoet, verskillende wêrelddele te verken, jou in die plaaslike kultuur te verdiep en nuwe maniere van leer by jou gasheerinstelling te ervaar. Maar, soos die klein groepie Maties wat gedurende die COVID-19-pandemie oorsee moes bly, kan getuig, is 'n uitruil gedurende 'n wêreldwye pandemie nie sonder uitdagings nie.

Nietemin, ten spyte van die abnormale omstandighede, lê hulle ongelooflike veerkragtigheid, kreatiwiteit en ware Matiegees aan die dag. In 'n reeks webinare met hierdie studente oorsee het hulle vertel hoe hulle by hulle gasheeruniversiteite aanpas, onder meer hoe die gesondheidskrisis hulle nuwe bande help smee het met medestudente in hulle koshuise met wie hulle nie andersins sou paaie kruis nie.

Euné Coetzee, 'n US-student op 'n uitruil in Italië, bring die inperking in die stad Bologna deur. “Toe COVID-19 uitbreek, het ek besef dit kon 'n wêreldwye krisis word. Dit het kort ná ek hier aangekom het na Italië versprei. Hoewel my gasheerstad buite die aangewese 'rooi sone' val, kan 'n mens nie anders as om bang te wees vir die virus en om onseker te voel oor die pad vorentoe nie," sê Euné. Sy is dankbaar dat die Universiteit van Bologna se akademiese program aanlyn voortgesit is, wat beteken sy hou haar besig met opdragte en verslae. Euné is ook bevoorreg om 'n kamermaat te hê, wat haar deur die krisis geselskap hou.

Party Maties kon betyds terugkeer na Suid-Afrika net voordat die plaaslike inperking in werking getree het. Shahina Patel, 'n MIng-navorser, was op 'n uitruil by die Universiteit van Oslo in Noorweë toe daardie instelling én ál sy navorsingsentrums in die tweede week van Maart gesluit is. “Ek was bekommerd dat ek gedurende die COVID-19-pandemie in Noorweë vasgekeer sou wees. Gelukkig kon ek op 24 Maart terugkeer huis toe, op die heel laaste Emirates-aansluitingsvlug," vertel sy. Shahina sê sowel haar Stellenbosse as Noorweegse studieleiers het deurentyd seker gemaak sy het alles wat sy nodig het todat sy na Suid-Afrika kon terugkeer.

Hoewel die snelle verspreiding van die virus allerweë kommer gewek het, het die reaksies van die meeste oorsese gasheeruniversiteite wél van die uitruilstudente se vrese help besweer. Volgens Elizabeth Gleeson, wat op 'n uitruil by die Universiteit van Padova, Italië, is, doen die instelling alles moontlik om internasionale studente deur gereelde korrespondensie gerus te stel. “Hulle het ook gratis internettoegang voorsien sodat ons aanlyn fasiliteite en platforms vir onder andere klasse en vergaderings kan gebruik," sê Elizabeth.

Afgesien van aanlyn lesings, het die meeste studente ook ander, prettige en kreatiewe maniere gekry om besig te bly. Elizabeth en 'n vriendin verwyl die tyd tussendeur hulle studie met verskillende aktiwiteite, soos om te bak en 'n glas sjampanje in die koshuistuin te geniet. En by Montana-staatsuniversiteit tree US-student Féroll-Jon Davids in twee vertonings op as deel van 'n virtuele musiekkonsertreeks.

Die semesteruitruilprogramme word deur Universiteit Stellenbosch Internasionaal (US Internasionaal) gefasiliteer. Stellenbosse studente het 'n verskeidenheid geleenthede by meer as 100 buitelandse US-vennote om uit te kies, van Sciences Po in Parys en die Universiteit van Leipzig in Duitsland, tot die Universiteit van Wes-Virginië in die Verenigde State en Nagoya-universiteit in Japan. Dit wissel van korter somerskoolopsies tot volledige semesteruitruilgeleenthede van ses maande. Studente kan ook vir 'n reisbeurs van US Internasionaal se Global Education Centre in aanmerking kom om 'n mobiliteitsgeleentheid by te woon. Verdere besonderhede is beskikbaar op US Internasionaal se webtuiste, http://www.sun.ac.za/english/SUInternational.