Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se projek vir wateroptimalisasie internasionaal erken
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 14/05/2020

​Die Universiteit Stellenbosch se volhoubare wateroptimiseringsprojek is aangewys as die naaswenner in vanjaar se International Sustainability Campus Network (ISCN)-toekennings.

Die US se Fasiliteitsbestuur-afdeling het die water-optimiseringsprojek ingeskryf in die Whole Systems Approach-kategorie van die ISCN se jaarlikse wedstryd. Charlmers University of Technology en die KTH Royal Institute of Technology was die wenners in hierdie kategorie.

Die US se innoverende gryswaterstelsel, elektroniese meters, asook ander waterverminderingsintervensies vorm deel van die groter wateroptimiseringsprojek. Die eerste fase van die gryswaterstelsel op kampus het 'n 50% vermindering in munisipale drinkwater opgelewer en 'n afname van 50% in die gebruik van besproeiingswater. Die stelsel vang water vanaf storte by koshuise op, behandel dit en laat dit terugvloei in die stelsel om vir spoeltoilette gebruik te word.

Nadeem Gafieldien, Direkteur van Eiendomsdienste by die US se Fasiliteitsbestuurs-afdeling het gesê die US is die eerste instituut van hoër onderwys in Suid-Afrika wat 'n water-optimiserings- en gryswater projek van hierdie omvang aangepak het. “Ons is geweldig trots daarop dat ons op hierdie manier erkenning van die ISCN verwerf het."

Gafieldien het gesê die stelselverandering aan die US se fasiliteite bou weerstand op in die watertoevoerstelsel en plaas die Universiteit op 'n volhoubare baan om toekomstige omgewingskokke, soos 'n die erge droogte wat in 2017 ondervind is, te bowe te kom. “Die gryswaterstelsel is deel van 'n integrerende benadering tot volhoubaarheid by die US.

In die volgende fase van die projek sal hierdie stelsel by al akademiese geboue op die US se verskillende kampusse geïmplimenteer word.

Die ISCN bied 'n internasionale forum waar instellings van hoër onderwys ondersteun word deur die uitruiling van inligting, idees en beste praktyke om volhoubare kampusbedrywighede te bewerkstellig en om volhoubaarheid in navorsing en onderrig te integreer.