Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Te min, te laat’ – koronavirus-meningsartikel deur proff Wim de Villiers en Eugene Cloete
Outeur: Wim de Villiers & Eugene Cloete
Gepubliseer: 14/05/2020

Hierdie meningsartikel het op 14 Mei 2020 in Daily Maverick verskyn. Klik hier vir die gepubliseerde weergawe aanlyn, of lees die vertaling van die volledige teks onder.

* * *

Pres Ramaphosa se jongste aankondiging oor die grendelstaat is te min, te laat

Deur Wim de Villiers en Eugene Cloete

Terwyl die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners wat COVID-19 opdoen, dit sal oorleef, is die voortslepende inperkingsmaatreëls besig om miljoene mense se vermoë om ʼn bestaan te voer te vernietig. Dit word nie vinnig genoeg verslap nie, en ons kry steeds nie voldoende data om die werklike risiko te bepaal wat die pandemie inhou nie.

Regerings wêreldwyd het inperkingsregulasies ingestel om die verspreiding van die koronavirussiekte te vertraag. Dit het aanvanklik gewerk, maar dit het intussen glashelder geword dat streng inperkingsregulasies ekonomiese verwoesting saai.

Prof Shabir Madhi, 'n kundige oor oordraagbare siektes en lid van die Suid-Afrikaanse Ministeriële Advieskomitee vir Gesondheid, het Sondag 10 Mei in 'n Daily Maverick-webinaar gesê “die hoofrede waarom die inperking belangrik was, was omdat gesondheidsorgfasiliteite onvoorbereid was. Die maatreëls het vir hulle tyd geskep om bedkapasiteit, suurstofpunte, persoonlike beskermende toerusting, ensovoorts gereed te kry".

Nietemin “sal voortgesette inperking nie verhoed dat die golf van oordrag Suid-Afrikaanse gemeenskappe tref nie; dit sal wel die kollaterale skade wat die inperking aanrig, laat voortduur".

In 'n bydrae tot The Lancet Global Health waarsku prof Wolfgang Preiser, Afdelingshoof: Mediese Virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en sy mede-outeurs oor die “ontbering en hongersnood wat voortgesette ekonomiese ontwrigting sal meebring".

Ons het duidelik die punt bereik waar die bedreiging weens werksverlies en verhoogde armoede veel ernstiger is as die lewensbedreiging wat COVID-19 inhou. Die aankondiging deur pres Cyril Ramaphosa gisteraand, 13 Mei, het nie ver genoeg gegaan nie.

Dr Nick Spaull van die US se Departement Ekonomie beskryf die koronaviruspandemie as die grootste skok wat ons generasie getref het – een wat 'n ingrypende sosiale en ekonomiese impak op ons land het. Dr Spaull is die hoofnavorser in 'n omvattende nuwe navorsingsprojek wat die ekonomiese uitwerking van COVID-19 in Suid-Afrika naspoor. Dit is 'n samewerkingsprojek van die US en die universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand.

Volgens dr Nwabisa Makaluza, 'n kollega van dr Spaull en lid van die US se Navorsingsgroep oor Sosio-ekonomiese Beleid, is die belangrikste vraag op die oomblik hoe COVID-19 die mees gemarginaliseerde mense in Suid-Afrika se lewens raak.

Buiten die groeiende ekonomiese en humanitêre krisis wat deur die streng inperkingsmaatreëls veroorsaak word, is daar ook die ontwrigtende uitwerking op toegang tot noodsaaklike gesondheidsdienste. Dit sluit kinders se toegang tot immunisasie vir die voorkoming van ernstige siektes (waaronder masels) in, asook die diagnosering en behandeling van toestande wat met MIV, TB en diabetes verband hou. Dit mag uiteindelik op meer lyding en sterftes uitloop as wat deur COVID-19 veroorsaak word.

Wat reken mense op die breër wêreldtoneel? Dr Johan Giesecke, 'n Sweedse dokter en emeritusprof aan die Karolinska Instituut in Stockholm, skryf in The Lancet Global Health, “Daar is weinig wat ons kan doen om te voorkom dat die virus versprei. Inperking mag ernstige gevalle dalk 'n tyd lank vertraag, maar wanneer beperkings verslap word, sal gevalle opnuut voorkom".

In 'n onlangse onderhoud het Swede se staatsepidemioloog, dr Anders Tegnell, sy land se benadering verdedig, waarvolgens 'n algemene inperking nie afgedwing is nie, maar daar eerder op hoërisikogebiede (soos tehuise vir bejaardes en versorgingsoorde) gekonsentreer is. Daarby is riglyne aan die algemene publiek uitgereik om vrywillig sosiale afstand te handhaaf, en is die belangrikheid van hande was benadruk. Die regering het op die bevolking se samewerking gereken – en dit gekry, want openbare vertroue is hoog in Swede.

Dr John Lee, 'n onlangs afgetrede prof in patologie en voormalige konsultant vir die Nasionale Gesondheidsdiens in die Verenigde Koninkryk, stem saam: “Dit lyk asof die Sweedse model ewe doeltreffend as ander is, met minder nadelige gevolge". Aangesien dit bekend is dat COVID-19 kinders die minste affekteer, het Sweedse skole oop gebly. En die ekonomie is aan die gang gehou.

Inperking is nie volhoubaar nie, skryf dr Lee in The Spectator. “Geen land het nog ooit die bevolking se gesondheid verbeter deur armer te raak nie," redeneer hy.

Dr Lee wys uit dat inperking regstreeks diegene benadeel wat grootliks ongeaffekteer sal bly deur die koronavirus: “Die siekte sal die oorgrote meerderheid mense onder 65, en byna almal onder 50, niks meer verontrief as 'n verkoue nie."

Wetenskaplike data toon dat ouderdom 'n beduidende faktor is wat COVID-19 betref. Hoe ouer ʼn mens is, hoe hoër is jou sterfterisiko, veral as jy 'n onderliggende siekte het. Onder mense wat met die koronavirus gediagnoseer is, is die sterfterisiko vir persone ouer as 80 14,8%, maar vir persone jonger as 60 daal dit tot 1,3%. As jy jonger as 30 is, neem dit af tot 0,4%.

Kom ons stel dit in konteks: Die gemiddelde ouderdom onder Suid-Afrikaners is 27 jaar, met 10 miljoen mense jonger as 10 jaar (risiko byna nul), 40 miljoen mense jonger as 40 jaar (sterfterisiko 0,2%) en ongeveer 2 miljoen mense ouer as 70 jaar. Ongeveer 90% van sterfgevalle weens COVID-19 in Suid-Afrika was onder persone ouer as 70 jaar.

Dit dui daarop dat die oorgrote meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking wat die siekte opdoen, dit sal oorleef; en dat die groot meerderheid van hulle volledig asimptomaties sal wees of slegs ligte simptome sal ervaar.

Ons ontvang tans 'n klein hoeveelheid beskrywende data oor persone wat deur COVID-19 geaffekteer is. Dit beteken dat ons elke dag die totale getal nuwe infeksies en die totale aantal sterftes ontvang. Dit is hopeloos te min inligting om te kan bepaal watter risiko die pandemie werklik inhou.

Om elke dag die kumulatiewe getal bevestigde gevalle te verskaf, is nutteloos tensy die totale getal toetse vir die betrokke dag ook verskaf word, sodat die persentasie positiewe toetsuitslae bereken kan word.

Bloot omdat daar meer toetse in die Wes-Kaap as elders uitgevoer word, sal daar meer positiewe toetsuitslae wees. Dit beteken nie dat hierdie provinsie die episentrum van die siekte is nie; dit getuig bloot van groter doeltreffendheid in die nasporing van die siekte.

Epidemiologie behels meer as beskrywende data. Wat op die oomblik ontbreek, is ontledende epidemiologie, wat risikofaktore vir siekte-uitkomste evalueer en oorsaaklike verbande ondersoek. Daar is ander faktore buiten ouderdom wat op risiko inwerk, onder meer gesondheidstatus en sosio-ekonomiese sowel as omgewingsfaktore.

Op grond van ander Suid-Afrikaanse statistiek is die oorhoofse sterfgevallekoers onder persone wat positief vir COVID-19 getoets is 1,9%. Diegene wat vir die koronavirus getoets word, verteenwoordig waarskynlik mense met ernstige simptome en swakker uitkomste. Die ware bevolkingsgebaseerde sterftekoers – dit wil sê, met inbegrip van alle geïnfekteerde persone, ongeag óf hulle simptome vertoon en hoe ernstig die simptome is, is waarskynlik heelwat laer. Ons het dus meer inligting nodig om hierdie risiko beter te begryp.

Die ekonoom en joernalis Tim Harford skryf in The Financial Times dat sistematiese serologiese opnames noodsaaklik is om die werklike verspreiding of voorkoms van die siekte onder die gemeenskap te bepaal. “Serologiese toetse soek na die teenliggaampies wat daarop dui dat 'n persoon reeds geïnfekteer was. Hierdie toetse vir teenliggaampies behoort groter duidelikheid te verskaf, maar voorlopig bly die vroeë uitslae 'n statistieke blokkieskombers," maan Harford.

Die gemiddelde sterftesyfer weens COVID-19 in Suid-Afrika is tans drie per dag, met altesaam 206 sedert 5 Maart (toe hierdie artikel op 12 Mei geskryf is). As 'n mens dit met ander oorsake van dood vergelyk, blyk dit dat 184 van die 7,7 miljoen mense in ons land wat met MIV/vigs leef, elke dag sterf. Daarvan word 80 veroorsaak deur TB, 69 deur diabetes en 26 deur longontsteking.

Terwyl ons met onvoldoende epidemiologiese inligting worstel oor die werklike risiko wat die nuwe koronavirus daarstel, weet ons wel vir seker dat pandemie besig is om miljoene mense se vermoë om ʼn bestaan te voer, vernietig.

Dit is hoekom pres Ramaphosa se aankondigings gisteraand te min, te laat was. Dit is nie ʼn goeie idee om die inperking verder uit te rek nie.

Ingeligte besluite is nodig oor wanneer en hoe die ekonomie en die onderwyssektor weer oopgestel gaan word. Ons kan nie verder besluite – waarvan sommige irrasioneel lyk – neem op grond van die inligting wat tans verskaf en gebruik word nie.

​* Prof Wim de Villiers is 'n gastroënteroloog en rektor en visekanselier van die US. Prof Eugene Cloete is 'n mikrobioloog en die US se viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies, en ook hoof van die Universiteit se Mediese Advieskomitee oor COVID-19.​