Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent gee hoop gedurende COVID-19-pandemie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 13/05/2020

Toe die Universiteit Stellenbosch (US) besluit het om klasse op te skort en uiteindelik sy kampus te sluit weens die wêreldwye COVID-19-pandemie, het baie studente en personeel oorweldig en onseker oor hul toekoms gevoel.

Marius Meyer het dit egter as 'n geleentheid gesien om mense hoop en broodnodige perspektief en wenke te gee oor hoe om 'n wêreldwye pandemie te hanteer.

Die US-dosent in Strategiese Menslike Hulpbronne-bestuur in die departement Bedryfsielkunde het gedurende die tydperk van algehele inperking in Suid-Afrika begin om 'n reeks inspirerende en nuttige artikels te publiseer.

Sy artikels handel oor 'n wye reeks onderwerpe en sluit titels soos The Power of Reflection, Building Resilience, Working from Home, Employee Wellness, Need for Leadership, Self-Management en Workplace Readiness in.

“Ek het gehoop dat die artikels mense perspektief sou gee oor hoe om 'n tydperk van soveel onsekerheid, angs, spanning en paniek te hanteer. Mense het hoop en rigting nodig om hierdie tydperk van onsekerheid en onrus te oorleef, eerstens deur na hul gesondheid om te sien en dan om voort te gaan met 'n lewe van oorlewing, vernuwing en persoonlike groei," sê Meyer.

Hy werk al meer as twintig jaar in die menslike hulpbronbedryf en glo dat een van die redes waarom ons in hierdie tydperk van algehele inperking is, is omdat mense se werklike behoeftes al jare lank geïgnoreer is.

“Ek was nog altyd gefassineerd deur die rol wat mense speel in ondernemings se vermoë om suksesvol te wees, vandaar my belangstelling in die veld van MH. Ek glo ons moet mense eerste stel en dan sal die res sal volg. Dit is die rede waarom ons in 'n algehele inperking is – vir die eerste keer moet ons mense, hul gesondheid en lewens eerste stel."

Behalwe vir sy werk as dosent, is Meyer ook betrokke by professionele MH-organisasies. “Die hoogtepunt in my loopbaan was toe ek as uitvoerende hoof van ons professionele liggaam in MH-bestuur, die SA Board for People Practices (SABPP), aangestel is. Dit het my die geleentheid gegee om 8 000 MH-bestuurders op hul professionele reis te ondersteun, veral toe ons die wêreld se eerste stel nasionale standaarde vir menslike hulpbronbestuur ontwikkel het. My grootste persoonlike hoogtepunt in my loopbaan was die ontwikkeling van 'n leierskapstandaard vir Suid-Afrika, wat leiers in staat stel om hul organisasies aan die hand van duidelike beginsels en praktyke te lei. 'n Ander mylpaal was die goedkeuring van menslike hulpbronne-praktisyns as Kommissarisse van Ede deur die Minister van Justisie."

Benewens sy daaglikse inspirerende artikels oor COVID-19, het Meyer ook 'n spesiale gespreksforum oor die pandemie vir sy studente geskep. Sy studente kan hier hul gevoelens uitspreek en kommentaar lewer oor enige aspek van die krisis, terwyl hy hulle lei om die verband tussen hul gesprekke en hul werk as MH-bestuurstudente te tref.

“Dit was vir my wonderlik om van tradisionele na aanlyn-leer oor te skakel. Aanlyn-leer bied 'n fantastiese geleentheid om gespreksforums op meer innoverende maniere te gebruik en om die vra van die regte vrae te benut om studente regtig te laat nadink en te laat leer. As honneursstudente in MH-bestuur en Bedryfsielkunde, moet hulle bemagtig word om eerstens met COVID-19 te werk terwyl hulle gedurende die algehele inperking studeer, en tweedens berei ek hulle voor vir die bestuur van COVID-19-werkplekprogramme wanneer hulle hul studies aan die einde van die jaar voltooi."

Meyer moedig mense ook aan om na ander uit te reik as hulle gedurende hierdie tyd oorweldig voel en om take en doelstellings neer te skryf om hulle te help om gefokus en positief te bly ondanks die chaos rondom hulle.

Hy hoop ook dat organisasies en ondernemingsleiers meer mense-gesentreerd sal raak en die gapings in die manier waarop mense by die werk en die samelewing behandel word, sal aanspreek.

“Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie. Ons gaan 'n nuwe tydperk in die volgende fase van die COVID-19-era binne. Ons het almal 'n radikale nuwe gesondheid- en welstand- paradigmaskuif nodig om mense en ons gesondheid die middelpunt van die samelewing te maak."

Klik hier om al Marius Meyer se inspirerende artikels te lees.​