Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente deel hul kampus grendelstaat ervarings
Outeur: Transformation Office
Gepubliseer: 13/05/2020
​Die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor het onlangs die universiteitsgemeenskap gevra om hul persoonlike ervarings van #LockdownSA met ons te deel. Die meeste studente het huis toe gegaan voor die grendelstaat, maar baie studente kon nie huis toe gaan nie en het op kampus agter gebly. Twee koshuis studente deel hul stories met ons, asook 'n student wat op Stellenboch agter gebly het en nou alleen woon in die woonstel wat hy normaalweg deel met twee huismaats. Hul skrywe volg hiernaas:​


Alleen in my woonstel
​​
Ek woon nou al 'n maand lank alleen in my woonstel en die laaste keer wat ek in kontak met 'n ander mens was, was toe ek verlede week gaan inkopies doen het. Ek kla nie, want dit is verkieslik bo ingehok wees met my familie, ek het mos geweet dit sou op 'n ramp van botsende persoonlikhede afstuur. Ek is ook bevoorreg om tegnologie te kan gebruik om in noue kontak met mense te bly. Tog ervaar ek 'n toename in angsvlakke, al is ek nie seker of ek dalk altyd so angstig was en of ek dit net opmerk omdat daar nou minder dinge is wat my aandag aflei nie. 

Hoe dit ook al sy, ek weet baie ander mense ervaar soortgelyke gevoelens van twyfel. Eerstens, aan almal wat sukkel met geestesgesondheidkwessies en diegene wat dit moeilik vind om “produktief" te bly: Ons gaan deur 'n wêreldwye krisis en om soos “normaal" voort te gaan, is lawwigheid; onthou dat dit normaal is om bekommerd te wees oor die toekoms. As individue word ons aangesê om voort te gaan met “werk" asof niks verander het nie, en dit is kommerwekkend. Moet ons nie juis hierdie krisistyd gebruik om ons manier van dinge doen te verander nie? Tweedens, as 'n universiteitstudent vind ek dit interessant om ons opvoeders te sien rondval om hul bestaande kursusse aanlyn te plaas en die formaat so onveranderd as moontlik te hou. 

Ek stel voor dat ons eerder probeer om die huidige situasie diagnosties te gebruik. Het ons regtig lesings of klasse nodig soos voorheen? Veral waar studente kla dat dosente “net van die skyfies af lees". Moet ons miskien herstruktureer wat betref ons opvattings van die onderwys? Eintlik sal ek graag wil sien dat hierdie refleksie uitgebrei word na alle aspekte van ons samelewing, ingesluit die “normale" tye. Ons sien nou dat die samelewing baie veranderlik is, en ons moet dié besef gebruik om verandering in positiewe rigtings te stuur.

-Paul, private akkommodasie 


Avonture van 'n siel wat op kampus ingeperk is

Nie baie mense kan sê dat hulle geleef het in 'n tyd toe die planeet 'n wêreldwye pandemie beleef het nie. Om in die tyd van die internet te wees en te sê dat hierdie 'n unieke ervaring is, is om dit sagkens te stel. As ek daarop kan uitbrei: om een van die min mense op 'n universiteitskampus te wees wanneer al hierdie dinge plaasvind, klink na die spanningslyn van 'n wetenskapfiksieroman.

Wanneer ek 'n tree terugstaan en oor my ervaring tot dusver nadink, sou ek sê dit was meestal positief. In die eerste plek is my inwonende hoof 'n ware ster en uitkoms. Al is ons net 11 in die koshuis, is daar 'n groot mate van kulturele diversiteit tussen ons, 'n hindernis wat baie mense nie kan oorkom nie, en tog slaag sy daarin om ons almal tuis te laat voel asof ons hier hoort. Sy is voorwaar die gom wat ons bymekaar hou en deur haar kry ons genoeg te eet en bly ons veilig en gesond. Ek ervaar 'n gevoel van trots in hierdie koshuis wat ek nooit vantevore ervaar het nie.

Tweedens voel ek geseënd om deur die mense hier omring te word. Ons groepaktiwiteite wissel van fliekaande in ons ontspanningsaal, waar ons tot 4 uur die oggend flieks deur die projektor stroom, en verjaardagpartytjies vir dié wat hul spesiale dag weg van hul gesinne vier, tot wanneer ons vlugbal in die vierkant speel en die kind in ons uitkom.

Ek wil egter nie die ervaring romantiseer nie, want als is nie sonskyn en rose nie. Ons beleef ook konflik en geskille wat ons ontstel en gefrustreerd laat voel. Daar is dae wat ek wakker word en oorweldig raak deur die groot onsekerheid wat met hierdie situasie gepaard gaan. Dan is daar dae wat ek heimwee ervaar en my familie só mis dat my hart daarvan pyn. Daar is ook dae wat dit alles te veel voel om te verdra.

Als in ag genome en gegewe die vele onsekerhede, is ek seker van twee dinge. Die eerste is dat die bande wat ons in hierdie tyd smee, daar sal wees lank nadat ons dit deur die pandemie gemaak het. Ons het geskille en ons irriteer mekaar, maar ons doen dit met liefde. Die tweede is dat ons in gedagte moet hou dat ons 'n pandemie beleef; tye is moeilik en daarmee saam kom 'n gevoel van eindelose angs en onsekerheid. Daarom is dit noodsaaklik om ons geestelike en fisieke gesondheid prioriteit te gee. Laai daardie gratis joga-toep af, maak tee, voer gesprekke met die voël wat daar by jou venster kom sit. Doen wat jy ook al moet doen om gesond te wees en gesond te bly. Sorg net dat jy dit met liefde doen.

Den-Mari, Heemstede koshuis

Koshuislewe in die grendeltyd

Met die Ingenieurswese-toetsweek op hande was ek ten volle voorbereid vir my toetse, ek het mos hard studeer – en toe is alles meteens gekanselleer. Om onmiddellik te moes besluit of ek moet huis toe gaan of nie, was nie ideaal nie. Ek het gesorg dat ek my e-pos van die Universiteit behoorlik deurlees om die situasie te verstaan, veral hoe die besluit om huis toe te gaan my akademiese lewe in die lang termyn sou raak. Behalwe die akademie was ek ook angstig oor die reis van die Wes-Kaap na Mpumalanga, en ek het gewonder wat ek sou doen indien ek langs die pad met COVID-19 besmet word.

My besluit om te bly was gemik daarop om produktief te studeer. Alhoewel my hart huis toe verlang, het ek geweet al sou die huis troos bied, ek nie maklik daar sou kon studeer nie. Om nou hier in 'n koshuis te wees, was 'n veilige en goeie besluit van my kant. Tot dusver was die weke van inperking gevul met vele emosies, akademiese spanning en onsekerhede, maar bowenal kon ek as individu in dié tyd heelwat leer, groei en verhoudings bou. Ek het ook die geleentheid gekry om my kritiese denke te verbeter. Een van die lekkerste dinge waarmee ons nou in die koshuis te doen kry, is die boekklub wat ons inwonende koshuismoeder, mev Monica du Toit, aanbied. Dit is ongelooflik en het my laat besef dat boeke my beste vriende in die inperkingstyd is.

My daaglikse roetines word beïnvloed deur die manier waarop ek my dag beplan. As ek nie behoorlik beplan nie, sal ek waarskynlik minder produktief wees. Om uitstel te vermy, skryf ek die dinge neer wat ek elke dag moet doen en die spesifieke tye daarvoor. Ek spandeer die meeste van my tyd aan my akademiese lewe en om graad 10-leerlinge met hul skoolwerk te help, alhoewel ek ook tyd gemaak het om die reses in die inperkingstyd te geniet deur Netflix-flieks en 'n paar reekse te kyk. Verder het ek die afgelope tyd agt uur 'n nag geslaap, iets waarmee ek in die semester sukkel. Die inperking het my geleer dat 'n daaglikse beplanner die lewe vergemaklik, dat ek deur konsekwentheid sukses behaal, en dat ek self my grootste motiveerder is.

Brigette, Monica koshuis