Duisende mense se noodsituasies wat weens die nasionale algehele inperking veroorsaak is, is oor die afgelope weke deur doelgerigte samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en verskeie vennote verlig.
In dié tyd, wat gekenmerk is deur deernis om mense te help, moes die US vinnig reageer om die instelling se werkswyse aan te pas om steeds 'n impak op die samelewing te hê. Met die besef dat almal nie in dieselfde bootjie is nie, maar wel deur dieselfde storm getref word, is die nood op verskillende wyses verlig.
Sommige mense ervaar tekorte aan voedsel, veilige blyplek of matrasse en komberse, terwyl vrywilligers by gesondheidsorgsentrums of nuwe navorsing oor COVID-19 verwelkom word.
Die US se Afdeling Sosiale Impak, wat ten doel het om bande met die gemeenskap deur samewerking te smee, se werkswyse van direkte skakeling met die gemeenskap is in die wiele gery.
Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, sê sy afdeling het baie nuwe uitdagings gehad om hul werk binne die tydperk van algehele inperking voort te sit. “Al ons werk moes voldoen aan die vereiste van sosiale afstandskepping en om die risiko van verspreiding van die virus te voorkom. Ons hou steeds kontak met al ons vennote," sê hy.
Met die aankondiging van die inperkingstydperk, het die afdeling onmiddellik met StellenboschUnite, 'n samewerkingshulpaksie wat weens die COVID-19-pandemie begin is, kragte saamgesnoer om mense wat geraak word, te help.
“Daar het 'n voedselnood by mense in verskillende ekonomiese klasse ontstaan. Dit laat 'n mens besef 'ons is nie almal in dieselfde bootjie nie, maar ons is in dieselfde storm'," sê me Jeanneret Momberg, bestuurder: VisitStellenbosch, 'n toerisme-organisasie. Sy het StellenboschUnite begin omdat baie mense hulle inkomstes verloor en vir die eerste keer hulp nodig het.
Van die mense is huisbediendes, ambagsmanne, eienaars van sakeondernemings en ander werkers.
StellenboschUnite het altesame R1,1 miljoen se geldelike skenkings van die US, regeringsinstansies, individue en private sakeondernemings ontvang. Van dié geld is 61 367 kg kos aangekoop, terwyl vrywilligers al 1 729 ure gewerk het om 5 622 kospakkies te pak wat aan sowat 3 500 mense (gesinne van vier) uitgedeel is. Na raming word altesame sowat 16 000 mense met die kospakkies gevoed.
Buiten die US, is ander vennote by StellenboschUnite die Stellenbosch Munisipaliteit, VisitStellenbosch (toerisme-organisasie), SCAN (Stellenbosch Civil Advocacy Network, wat die nie-winsgewende organisasies verteenwoordig) en die Greater Stellenbosch Development Trust (administrateurs).
Die US het ook sy bande met die kampusradiostasie, MatieFM (MFM), versterk. Volgens Van Rooi is die Universiteit dankbaar vir die rol wat MFM speel om kommunikasie met die gemeenskap, studente en personeel te bevorder.
Volgens mnr Tim Zunkel, waarnemende stasiebestuurder van MFM, het MFM tersaaklike inligting oor onder meer gesondheidsorg, belangrike kontaknommers en leefstylwenke om die coronavirus te beheer, uitgesaai. MFM, wat by die Universiteit gelisensieer is, het ook kommunikasie van die nasionale regering, die US, die Wes-Kaapse departement van Gesondheid en die Stellenbosch Munisipaliteit uitgesaai om gemeenskappe in en om Stellenbosch in te lig.
“In tye van nood bly radio 'n belangrike verskaffer van nuus en inligting. Radio is 'n betroubare medium, dit is maklik om te aktiveer en kan mense bereik waar hulle ook al is, terwyl 'n radioboodskap 'n onmiddellike uitwerking het," sê Zunckel.
Van die ander werksaamhede waarby die US betrokke is, sluit in:
- Sowat 60 matrasse en 50 komberse is aan die haweloses in die tydelike skuiling by die Van der Stel-saal op Stellenbosch geskenk. Die Stellenbosch Munisipaliteit se sekerheidsbeamptes beskerm die inwoners die hele dag, terwyl die departement van Gemeenskapsontwikkeling daagliks etes verskaf. Die departement van Maatskaplike Dienste en nie-regeringsorganisasies (NRO's) verskaf bykomende hulp indien nodig.
- 'n Groep van 360 Maties wat aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) op die Tygerberg-kampus verbonde is, bied vrywillige dienste aan by die Tygerberg-hospitaal om te help in die stryd teen COVID-19. Tans werk 70 studente in die hospitaal se siftingsarea; 20 studente bewaak die ingange van die hospitaal en verskaf handreiniger aan mense, terwyl 15 studente met die telefoniese naspeuring van positiewe COVID-19-gevalle help. Sowat 115 studente doen diens by die Nasionale COVID-19-hulplyn en 70 studente help met die daaglikse funksionering van die hospitaalsale. Studente versamel ook data en verwerk statistiek vir die Afdeling Epidemiologie en Biostatistieke van die FGGW, terwyl ander data by die Afdeling Mediese Virologie versamel word.
- Die US maak deel uit van die Stellenbosch Munisipaliteit se Gesamentlike Operasionele Sentrum (GOS). Vennootskappe en samewerking tussen verskillende openbare en private belanghebbendes op die gebied van gesondheid, sekuriteit en rampbestuur is deel van GOS.
- Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het saam Spier-wynlandgoed voedselpakkies aan 450 plaaswerkergesinne geskenk. Die fakulteit het ook sonkragelektrisiteit aan inwoners van Enkanini, 'n informele nedersetting, verskaf. Klik hier vir meer inligting.
- Die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur skakel met die provinsiale owerhede en sal kwarantyn- en isolasiegeriewe beskikbaar stel indien nodig.
- Die Fakulteit AgriWetenskappe se departement Voedselwetenskap het brood in 'n handreinigingsmiddel omskep om die verspreiding van COVID-19 te voorkom.
- Navorsers by die FGGW is deel van die CrowdFight COVID-19-inisiatief, 'n wêreldwye diverse span navorsers wat die COVID-19-virus ondersoek en die virus se gevolge probeer verlig.
- Die FGGW en 'n plaaslike biotegniese onderneming is besig om sintetiese farmaseutiese middels te toets as 'n ondersteuningsmiddel vir die behandeling van akute respiratoriese noodsindroom (ARNS), een van die simptome van COVID-19 wat pasiënte ernstig siek maak of selfs kan laat sterf.