Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Universiteit Stellenbosch stel COVID-19-hulpfondse bekend
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 07/05/2020

Wil jy die Universiteit Stellenbosch (US) help om 'n positiewe verskil te maak tydens hierdie COVID-19-pandemie? Die Universiteit het vyf prioriteitsareas geïdentifiseer waar personeel, alumni, donateurs en vriende van die Universiteit 'n helpende hand kan verleen.

Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge, sê: "Selfs gedurende hierdie ongekende tye vir al ons interne en eksterne belanghebbendes - wil ons uitlig hoe almal kan aanhou om ons noodsaaklike werk te ondersteun deur filantropiese skenkings, veral noudat ons  almal gekonfronteer word met die ekstra impak van COVID-19.

"Ons in die Afdeling Ontwikkeling & Alumni-betrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch is hoopvol dat, soos die wêreld herstel van die impak van hierdie pandemie, ons almal 'n sterker gevoel van solidariteit sal hê as personeel, studente, alumni en donateurs."

Die geïdentifiseerde prioriteite is soos volg:

Digitale Toegang vir US-studente

Ons het besluit om op digitale toegang vir ons studente te fokus en hulle toe te rus om aanlynleer en -onderrig te ontvang. 'n Onlangse opname het aangedui dat ongeveer 880 studente dringend ondersteuning benodig sodat ons hierdie aanlynrigting op 'n suksesvolle manier kan bestuur. Elke skootrekenaar kos ongeveer R8 000. Kan jy ons help om hierdie uitdaging aan te pak en saam met ons studente in hierdie tyd te staan sodat hierdie dringende prioriteit voorkeur kan geniet?

 

#Move4Food

Ons student-gedrewe #Move4Food veldtog sal 'n verdere hupstoot benodig om honger studente van hulp te wees. Vir talle Suid-Afrikaners is die onsekerheid oor waar hulle volgende maaltyd vandaan sal kom, 'n realiteit, insluitende ons US-studente. Die harde werklikheid is dat daar 'n beduidende tekort aan voedsame en bekostigbare voedsel by Suid-Afrika se kampusse is – en die Universiteit  Stellenbosch is geen uitsondering nie. Die hulp wat jy aan die #Move4Food veldtog verleen raak nie net studente se daaglikse lewens nie, maar dis ook 'n kragtige demonstrasie en 'n voorbeeld van jou toewyding tot die transformasie van jongmense se lewens.

 

Ondersteuning vir US se Gesondheidswerkers

US se gesondheidsorgwerkers doen aan die voorpunt van die pandemie diens en benodig ons ondersteuning. Dit sluit persoonlike beskermingstoerusting, voedselstasies, enigiets wat die risko van besmetting keer (byvoorbeeld, aparte koffie- en tee-stasies) en logisitiese ondersteuning. Kan jy 'n verskil maak?

 

Reageer met Navorsing & Innovasie

Lynreg met ons strategiese raamwerk en ons fokus op navorsing wat 'n impak maak, bly ons verbind tot die globale strewe om die COVID-19 pandemie hok te slaan. Die US is met 'n wye verskeidenheid projekte besig om hierdie pandemie die hoof te bied – van die ontwikkeling van 'n metode vir die voorkoming en behandeling van mikrobiese groei op vervaardigde produkte insluitende verpakkingsmateriaal tot 'n sintetiese farmaseut in sy toetsfase as 'n ondersteunde agent vir die behandeling van Akute/Volwasse Respiratoriese Noodsindroom. Dis 'n lang lys! Dis tye soos hierdie waar ons herinner word hoe baie die wêreld die wetenskappe benodig en hoe die insameling en deel van kennis in almal se belang is. 

 

#StellenboschUnite

Die Universiteit Stellenbosch het met die groter Stellenbosch gemeenskap in vennootskap getree onder die vaandel, #StellenboschUnite. Deur middel van hierdie vennootskap, verskaf en versprei ons voedsel- en voorraadpakkies aan kwesbare gemeenskapslede. Ten einde 2 500 pakkies beskikbaar te stel, benodig hierdie inisiatief 'n minimum bedrag van R250 000 per week. Jou hulp sal verseker dat ons 'n bydrae kan lewer.

Besoek gerus ook die nuwe COVID-19-hulpfonds webtuiste vir meer inligting: https://www.matiesalumni.com/covid-19/?lang=afr