Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US groet geliefde mikrobioloog, Doug Rawlings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 03/05/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) se prof Douglas (Doug) E Rawlings (68), een van die mees vooraanstaande mikrobioloë in Suid-Afrika, is die naweek (2 Mei 2020) aan 'n hartaanval oorlede.

Rawlings, een van die eerste molekulêre mikrobioloë in Suid-Afrika, was 'n voormalige president van die Royal Society of South Africa en stigterslid van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) . As navorser het Rawlings sedert die laat tagtigerjare internasionaal-erkende bydraes tot die vakgebied van molekulêre biologie gemaak met sy navorsing oor mikro-organismes wat in bio-ontginningspraktyke gebruik kan word. Hy het ook sy merk gemaak met navorsing oor die biologie van die wye gasheer IncQ-familieplasmiede en is vir twintig jaar lank (1992–2011) as 'n A-gegradeerde wetenskaplike deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer.

Rawlings was ook 'n gerekende hoëronderwysbestuurder. Hy is in 1998 aangestel as voorsitter van die departement Mikrobiologie en benewens termyne as visedekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe, het hy ook as dekaan en later as Viserektor: Navorsing waargeneem.

Prof Emile van Zyl, uitgelese professor in die departement Mikrobiologie en jare lange kollega, sê Rawlings was 'n internasionaal-erkende navorser én 'n ware “Mensch" in alle opsigte. “Hy was 'n persoon met geweldige hoë persoonlike waardes en standaarde, en op grond daarvan het hy die departement Mikrobiologie deur 'n moeilike fase gelei. Sy benadering het latere jare die etos van die departement geword en ons tot groot hoogtes geneem. Een van sy gesegdes was dat 'n ketting net so sterk soos die swakste skakel is – daarom het hy geglo dat elke dosent in die departement opgebou moet word, want slegs as almal sterk is, en 'n tuiste in die departement vind, sal die Departement as geheel suksesvol wees."

Volgens Van Zyl was Rawlings van die ou skool en uiters pligsgetrou. “Ek sal nooit vergeet nie – in 'n stadium het hy erge oogontsteking gehad, maar hy het geweier om tuis te bly. Hy is een van die min mense wat waarskynlik siekverlof oor sy hele loopbaan op sy een hand kon tel."

Minder bekend is dat hy ná ure “herder" vir 'n klein gemeente was – aldus Van Zyl. Hy en Janet, sy vrou, het ook dikwels gemeentelede aan huis versorg. “Doug se hele lewe is gekenmerk deur die motto: 'In diens van my medemens'. Hy het dit op alle vlakke toegepas – op akademiese gebied, godsdienstige vlak en later jare op hoë-vlak bestuur. Op sy stil manier het hy ongelooflik baie tot die integriteit van topbestuur bygedra."

Mentor vir jong navorsers

Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, sê in haar huldeblyk dat Rawlings die afgelope vier jaar 'n sleutelrol in die US se mentorskapprogram vir jong navorsers gespeel het. “Hy was 'n gerespekteerde en geliefde kollega in die Afdeling Navorsingsontwikkeling, en 'n integrale deel van ons navorsingsondersteuningspan. Na sy aftrede het hy 'n uitsonderlike bydra tot die ontwikkeling van jong navorsers gelewer.

“Hy het terselfdertyd as alternatiewe Navorsingsintegriteitsbeampte gedien en was 'n gewaardeerde lid van een van ons navorsingsetiekkomitees. Hy was 'n mens van absolute integriteit, met uitsonderlike en diepgaande insig, en kon ten volle in hierdie moeilike rolle vertrou word. Hy het altyd diegene betrokke by kwessies rakende navorsingsintegriteit as sy hoofprioriteit benader.

“Doug was 'n briljante, nederige akademiese rolmodel en 'n mentor vir soveel mense, myself inkluis. Ek sal nooit sy buitengewone en onbaatsugtige diens aan die Universiteit en my afdeling vergeet nie. Ek sal die lesse wat ek by hom geleer het, vir altyd koester. Hy was dié voorbeeld van wysheid, barmhartigheid, empatie en nederigheid. Selfs as 'n internasionale leier in sy eie vakgebied het hy weinig erg gehad aan openbare toekennings of erkenning. Hy was ten diepste daarmee gemoeid om 'n positiewe invloed op mense se lewens te hê, om sy ervaring en wysheid te deel en om welwillendheid in die wêreld mee te bring.

“Almal van ons in die Afdeling Navorsingsontwikkeling en die wyer akademiese gemeenskap gaan sy teenwoordigheid terdeë mis. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie gedurende hierdie moeilike tydperk. Hy het altyd met soveel liefde van sy vrou, Janet, en hul kinders en kleinkinders gepraat," het sy afgesluit.

Gedurende sy navorsingsloopbaan het Rawlings verskeie eerbewyse ontvang, waaronder die PanLabs-toekenning van die Society for Industrial Microbiology in Amerika, die Havenga-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die US se Rektorstoekenning vir Uitnemendheid in Navorsing. In 2006 was hy 'n finalis vir die Lewenslange toekenning van die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum. Hy het verskeie termyne op die Raad van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie (SAVM) gedien en het die vereniging se silwer én goue medaljes in onderskeidelik 1992 en 2011 ontvang.

Rawlings laat sy vrou, drie kinders en vyf kleinkinders agter.  ​