Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties skryf: Mawees in die grendeltyd
Outeur: Transformation Office
Gepubliseer: 03/05/2020
Claire Kelly is die waarnemende hoof en fakulteitsprogrambestuurder van die Universiteit se Transformasiekantoor—sy is ook getroud en is 'n ma van twee. Haar skrywe volg hiernaas: 

Die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor het onlangs die universiteitsgemeenskap gevra om hul persoonlike ervarings van #LockdownSA met ons te deel. Claire Kelly is die programkoördineerder in die Transformasiekantoor en sy moes die moeilike besluit neem of sy na haar gesin in 'n ander provinsie sou gaan of nie. Haar skrywe volg hiernaas:​

Terwyl ek hier skryf, probeer ek my huilerige driejarige van onder my lessenaar uitsleep, en terselfdertyd my sesjarige help met haar Wiskunde-opdragte, wat al van laas week oorstaan en my herinner presies hoe ver ons agter is, soveel so dat ons vanoggend 'n Zoom-klasbyeenkoms gemis het. Dit is tyd vir middagete en ek kon nog net vier e-posse uitstuur, een vergadering hê en twee Wiskunde-werkkaarte voltooi. Die hele middag lê nog voor, en ek is klaar uitgeput.

Ek is een van miljoene middelklasouers met kinders wat kla oor die nimmereindigende stroom e‑posse en Zoom-uitnodigings van ywerige skole; glimlaggende YouTube-sokkermammas en hul resepte vir tuisgemaakte vonkelvlokkie‑speeldeeg; die ewige siklus van skottelgoed, wasgoed, wasgoed, skottelgoed; die feit dat ons huise soos die kamers van US-manskoshuise lyk; die totaal bisarre sosiale druk om in die huis te moet draf, of te leer permakultuur aanlê of Mandaryns praat; die behoefte om ons kinders te help om van hierdie vreemde en gevaarlike tyd sin te maak, terwyl ons ook aan ons eie geestesgesondheiduitdagings moet aandag gee; en terselfdertyd voltyds “van die huis" af werk – die plek wat ek hierbo beskryf. Dit alles terwyl ek erken dat ek eintlik uiters bevoorreg is.

Ek en my gesin kan die grendeltyd in 'n veilige en gesonde omgewing spandeer, my kinders kan in 'n tuin speel, ons het genoeg kos, ons kan ons rekeninge betaal, ons het 'n mediese fonds, ons kan voortgaan met die onderrig van ons kinders, en ons kan met 'n beker Milo en Netflix ontspan wanneer die kinders uiteindelik vanaand aan die slaap raak. Die meeste van ons medeburgers het dit nie so maklik nie, nie eens naastenby nie.

Daar is baie gepraat oor hoe hierdie virus die verskuiwingslyne van ons samelewing blootlê. Ek sou redeneer dat dit onmoontlik is om te ignoreer, selfs vir diegene van ons wat dit daagliks probeer doen. Die mense in Kayamandi het nie 'n pandemie nodig gehad om hulle te herinner dat toegang tot basiese lewensbehoeftes soos voedsel en gesondheidsorg in hierdie land wesenlik ongelyk versprei is nie. Die jongman uit 'n plattelandse Oos-Kaapse dorp het nie COVID-19 nodig gehad om hom te herinner dat die internet nie universeel toeganklik is nie. Vroue in gewelddadige verhoudings of vele jonges uit die LGBTQ+‑gemeenskap het nie die inperking nodig gehad om hulle te herinner dat hul huise en gesinne onveilig is nie. Al hierdie “onthullings" is slegs nuus vir die bevoorregtes.

So voel ek tegelyk a) heeltemal oorweldig en uitgestres, en b) soos 'n bedorwe middelklasprinses. Om my man aan te haal: “Hoe kan ons die inperking sonder koeskoes ingaan?" Ek weet nie hoe om hierdie werklikhede te versoen nie, want binne die beperkende grense van ons bevoorregte lewe is daar vele teenstrydighede. Alhoewel my man “geëmansipeerd" is en baie van die werk deel, rus die grootste gedeelte van die kinders se sorg en die huishoudelike verantwoordelikhede op my. Die psigiese lading van die kinders se skedules en behoeftes, om te reageer op hul emosioneel veranderende buie, is hoofsaaklik my taak as die primêre versorger. Om te onthou wanneer om die lakens te ruil of die wasgoed te doen (wanneer ons driejarige op sy laaste stel onderklere is), of die tamaties te gebruik voor dit bederf, is ook my werk. As 'n slagoffer van huishoudelike mishandeling en geweldsmisdaad is my angs oor die “gevaar" van die wêreld oorweldigend. Ek wissel tussen die veg-en-vlug-reaksie van 'n kafeïne‑gedrewe grompot en 'n bedwelmde luiaard, en dit voel of daar min tot geen beheer is nie. Terwyl sommige van my kollegas die tyd spandeer om te skryf en/of te lees en/of te doen wat mense sonder kinders ook al doen, is ek tot oor my ore toe met graad 1-wiskunde en 'n driejarige wat geweldig hartseer en kwaad is, en heeldag oor die dood praat. Dit voel nie vir my na 'n produktiewe tyd nie. Of dit so behoort te wees, is die onderwerp vir 'n ander debat.

So wat moet mens doen? Wel, ek veronderstel die beste wat jy kan. Ek dink nou baie aan die woorde van Maya Angelou: “Doen die beste wat jy kan totdat jy van beter weet. As jy dan van beter weet, doen dit beter." Ek glo eenvoudig dat wanneer die ergste van hierdie pandemie verby is, ons wel sal weet en beter sal doen.