Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Departement Ekonomie vier 100 jaar van uitnemendheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 02/04/2020

​Die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch vier vanjaar sy honderdste bestaansjaar - 'n mylpaal wat getuig van die departement se vermoë om te ontwikkel en aan te pas, en die voortou te neem in ekonomiese navorsing op die vasteland.

Sedert 1920 het 'n verskeidenheid akademici waardevolle bydraes gelewer sodat die Departement Ekonomie kon ontwikkel tot die suksesvolle instelling wat dit vandag is.

Dit sluit die eerste ekonomie-professor, Johannes Grosskopf (1920-1935) in, asook prof DG Franzen (1947-1949 en 1976-1983), en prof Jan Sadie, wat vir 33 jaar lank 'n hoogleraar was (1951-1983). Al drie het wesenlike bydraes gelewer tot die akademie, ekonomiese navorsing en beleidsformulering.

Volgens prof Andrie Schoombee, wat in 1983 by die departement aangesluit het, het prof Colin McCarthy (1983-2004) die grondslag gelê vir die kultuur van vertroue, respek en ondersteuning waarvoor die departement vandag bekend is.

“McCarthy het altyd gesê: 'Ek bestuur nie insette nie, ek bestuur uitsette. Waar en wanneer jy jou werk doen, hang van jou af'. En dit is hoe dit nog altyd in ons departement gedoen word. Dit skep buigsaamheid en akademiese vryheid. Hy was ook 'n voorstander van personeel wat mekaar ondersteun. Dis die kultuur wat ek aangetref het toe ek hier gekom het, en ek glo prof McCarthy het 'n belangrike rol daarin gespeel."

Schoombee, voorsitter van die departement sedert Augustus 2000, het self 'n groot aandeel in die ontwikkeling van die department. In 2019 is hy bekroon met die Kanseliersprys vir sy uitstekende bestuur. Onder sy leiding het die departement 'n belangrike bydrae gemaak tot navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens, en het die transformasie van ras- en geslagsamestelling in die departement sy beslag gekry.

Die naam van prof Sampie Terreblanche het sinoniem geword met die geskiedenis van die departement. In 2018 het die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hul alumni genooi om die beste dosent tydens hul studiejare aan te wys. Byna 500 alumni het deelgeneem en die oorgrote meerderheid het vir Terreblanche as hul beste dosent gestem.

'n Voormalige dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Estian Calitz, is in 2001 as hoogleraar in die Departement Ekonomie aangestel. Sedert sy aftrede in 2014 is hy betrokke by die onderrig van 'n meestersmodule (gevorderde makro-ekonomiese beleid) en is hy ook 'n navorsingsgenoot in die departement.

Hy vertel dat proff Terreblanche en Sadie, dr Maria le Lange de Reville en die dosent Wolfgang Thomas 'n belangrike vormingsrol in sy studentejare vanaf 1967 tot 1971 gehad het.

“Prof Terreblanche was die rede dat ek met ekonomie as studieveld voortgegaan het. Hy het my belangstelling in dié onderwerp aangewakker. Prof Sadie was 'n gefokusde ekonoom en navorser en was goed in alle vakke. Dr de Reville het haar grootliks bepaal by wat ons nou mikro-ekonomie noem. Maar die persoon wat ek as 'n baie goeie dosent beskou het, was Wolfgang Thomas."

Beleidsfokus
Volgens Schoombee is die tradisie van beleidsoriëntering in onderrig en navorsing steeds een van die departement se sterk punte.

“Beleidsoriëntering onderskei ons van ander ekonomie-departemente in die land. Byna al die navorsing wat ons hier doen, beïnvloed beleid, hetsy direk of indirek."

Die departement stel hom egter ten doel om toe te sien dat navorsing nie voorkeur geniet bo onderrig nie.

“Anders as by sommige buitelandse instansies waar navorsing so belangrik geword het dat minder tyd aan studente bestee word, het ons 'n baie sterk studente-ingesteldheid," sê Schoombee. “Ons onderrig is baie belangrik vir ons en ons sorg dat ons toeganklik bly vir ons studente.

“Ons het ons nagraadse studente in Engels onderrig voordat dit die amptelike universiteitsbeleid geword het. Die doel was onder meer om studente uit Afrika te lok om hul nagraadse studie hier te doen. Ons glo dat ons studente uit Afrika kan help om goed vertroud te raak met beleidskwessies en -implementering sodat hulle dit in hulle lande kan toepas."

Feesviering

Ter viering van sy eeufees, hou die departement 'n aantal spesiale geleenthede gedurende die jaar. Dit bereik 'n hoogtepunt in Oktober met 'n week lange program bestaande uit onder meer 'n PhD-werksessie, 'n colloquium oor gender in ekonomie en geskiedenis, die Thys Visser-gedenklesing, 'n paneelbespreking oor groei ná 'n oorgangstydperk, en 'n vasvra waarby personeel, oudstudente en huidige studente betrokke sal wees.