Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Virtuele toekenning van kwalifikasies
Outeur: Dr Ronel Retief: Registrateur/Registrar ​
Gepubliseer: 31/03/2020

​31 Maart 2020

Beste US-graduandus

Uitreiking van gradedokumente en virtuele toekenning van kwalifikasies

Suid-Afrikaners, soos in groot dele van die wêreld, is op die oomblik in 'n staat van landwye algehele inperking wat om middernag op Donderdag, 26 Maart 2020 in werking getree het om die verspreiding van die COVID-19-virus aan bande te lê. Hierdie verwikkeling het gekom nadat die Universiteit Stellenbosch reeds vroeër die Maart/April-gradeplegtighede afgestel het.

Om tog dié belangrike mylpaal in jou lewe te vier ondanks die teleurstelling van gekanselleerde gradeplegtighede wat vandeesweek sou plaasvind, nooi ons graduandi graag na 'n virtuele toekenning van kwalifikasies op Vrydag, 3 April 2020 om 14:00. Graduandi en hul familie en vriende kan die virtuele verrigtinge aanlyn volg. Kwalifikasies word in absentia deur die nuwe Kanselier, oudregter Edwin Cameron, toegeken. Oudregter Cameron, Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-Kanselier en dr Ronel Retief, Registrateur, sal ook die verrigtinge aanlyn volg. 

Daar sal Vrydagoggend 'n skakel na die virtuele verrigtinge op die US se tuisblad (www.sun.ac.za) aangebring word. 'n Video-opname van die verrigtinge sal op die webblad beskikbaar bly vir diegene wat later daarna wil kyk.

Maart/April-graduandi sal steeds ook die geleentheid hê om aan die Desember-plegtighede deel te neem, na gelang van die heersende omstandighede teen daardie tyd.

Die landwye inperking raak ook die posdienste – en ongelukkig dus ook die aflewering van jou sertifikate en ander dokumentasie. Buiten vir mediese aflewerings word die pos- en koerierdienste nie as noodsaaklike dienste beskou nie.

Ons ondersoek tans die moontlikheid om grade-dokumentasie elektronies te voorsien aan diegene wat dit dringend benodig, dus vóór die nasionale inperking opgehef word. Verdere inligting in dié verband sal binnekort op die webblad beskikbaar wees.

Ons bedank jou by voorbaat vir jou begrip gedurende hierdie onseker tydperk en onderneem om jou op die hoogte te hou oor die verspreiding van grade-dokumente soos wat die situasie oor die volgende weke ontvou.

Vriendelike groete

Dr Ronel Retief

Registrateur