Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ek het Serebrale Verlamming, maar...
Outeur: Transformation Office | Disability Unit | AfriNEAD
Gepubliseer: 30/03/2020

​Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het laat verlede jaar aangekondig dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die hoogtepunt van die jaar sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word. Om dit te vier en te eer, sal die Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede, te same met AfriNEAD, maandelikse meningsstukke of artikels deur persone met gestremdhede publiseer. Ons tweede stuk is geskryf deur Hillary Lane, die koördineerder vir AfriNEAD, 'n projek oor gestremdheidsnavorsing in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch se Sentrum vir Rehabilitasiestudies.



Ek het Serebrale Verlamming. Maar ek laat my nie daardeur definieer nie.

My grootste struikelblok is eintlik my handskrif – ek het my hele skoolloopbaan lank 'n tikmasjien gebruik, en op 'n ou lintmasjien begin. Dit is nie dat ek glad nie kan skryf nie, ek moet egter my linkerhand bo‑op my regterhand hou om te keer dat dit bewe. My onderwysers het altyd gesê ek moet leer skryf, want as ek dit nie doen nie, hoe gaan ek eendag tjeks kan teken?

Dit is wat my verhinder het om universiteit toe te gaan, want ons het toe nie skootrekenaars gehad nie. Ek sou baie daarvan gehou het om te kon studeer om 'n arbeidsterapeut te word – volgens my onderwysers sou ek 'n goeie bibliotekaris wees – regtig? Wat interessant is, is dat ek die grootste deel van my lewe gewerk het, behalwe terwyl ek my twee kinders grootgemaak het, en nooit een keer om 'n werk aansoek gedoen het nie. Ek is altyd gevra om te kom werk: van 'n restaurant bestuur en 'n hoof‑ uitvoerende beampte te wees, tot 'n tweedehandse klerewinkel bedryf waar mense in rolstoele gewerk het, en vele ander posisies.

Meer as enigiets anders sou ek egter graag wou sê ek was op universiteit. Ek kan wel sê ek het by Oxford studeer – dit is waar ek op koshuis was, maar as mens sê jy was op Oxford, dink almal gewoonlik jy het aan die universiteit studeer.

Nou kan ek sê ek is al sewe jaar lank by die Universiteit Stellenbosch. Ek is die koördineerder van AfriNEAD, 'n projek wat deur die hoof van die Sentrum vir Gestremdhede en Rehabilitasiestudies, prof Gubela Mji, begin is. Dit was die wonderlikste tyd van my lewe. Min het ek geweet watter wonderlike reis sou voorlê toe sy my bel en vra om haar te kom besoek!​