Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boodskap van medelye en ondersteuning van prof Wim de Villiers
Outeur: Prof Wim de Villiers: Rector and Vice-Chancellor​
Gepubliseer: 27/03/2020

27 Maart 2020 

Beste US-gemeenskap 

Ons het vanoggend wakker geword in ’n vreemde land – gekenmerk deur beperking van beweging en vir die volgende drie weke gaan die lewe waaraan ons gewoond was, tot stilstand gedwing word. Dit is natuurlik dat dit ons met ’n gevoel van angs, onsekerheid en vrees sal laat, wat waarskynlik verder aangeblaas word deur vanoggend se aankondiging oor ons land se eerste sterftes wat met COVID-19 verbind word – albei in die Wes-Kaap. 

My innige meegevoel aan die bedroefde familie met hierdie hartseer verloop van sake. Die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool het vroeër vandag hul meegevoel met die familie van USB-alumnus Madeleine van Wyk, wat vanoggend oorlede is, betuig. Net soos die duisende ander elders in die wêreld, is hierdie tragiese verlies die presiese rede waarom ons as ’n gemeenskap, en die land as ’n geheel, hierdie opoffering moet maak om ons gemak en vryheid prys te gee om kosbare lewens te red. 

In die heersende omstandighede kan ’n mens maklik oorweldig word deur gevoelens van ontwrigting, ongemak en vervreemding, maar kom ons hou in gedagte dat hierdie algehele inperking ’n belangrike intervensie is om die toename in gevalle teen te werk. Dit verg egter ons almal se samewerking en nakoming van die nodige beperkinge ten einde gesondheid en normaliteit so gou as moontlik te herstel. 

Vir ons studente het die algehele inperking ’n verlengde herfsreses meegebring, maar ek is seker hulle is bekommerd oor die verlies aan waardevolle lesingtyd en die uitwerking wat dit op hul akademiese sukses mag hê. Doserende personeel is terselfdertyd angstig oor die “verkorte” akademiese jaar en die uitwerking daarvan op kurrikulumlewering en assesserings. Wees asb gerus dat ons bestuur en operasionele spanne hard werk aan voorsorgmaatreëls om die suksesvolle voortsetting van ons akademiese aktiwiteite te verseker. (Vind al die inligting oor hierdie maatreëls hier.

Kom ons gebruik hierdie tydperk van algehele inperking vir nou om ook verlore tyd met ons families in te haal en die goed in en rondom die huis te doen waarvoor ons andersins nie altyd tyd kry in ons besige lewens nie. Ek is seker baie sal ’n wakende oog oor amptelike pligte hou en van die huis af werk, maar maak tyd vir ontspanning en plesier. Dit is ’n goeie manier om vrees en angstigheid te verdryf. 

Wees asb versigtig, gee gehoor aan al die voorsorgmaatreëls in hierdie moeilike tydperk en onthou om gereeld ons COVID-19-webwerfte besoek as ’n bron van betroubare inligting oor interne maatreëls, asook vir algemene inligting oor die voorkoming van die siekte. 

Indien enige lid van die Universiteitsgemeenskap in enige stadium vermoed dat hy of sy moontlik aan die virus blootgestel was en siek voel, word die persoon aangeraai om hom of haarself in selfafsondering te plaas en ’n mediese praktisyn te skakel of hulp te kry via die COVID-19-behandelingshulplyn by 060 123 456. Vriendelike groete Prof Wim de Villiers Rektor en Visekanselier​​​