Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente: US se reëlings vir SA se tydperk van algehele inperking
Outeur: Prof Wim de Villiers: Rector and Vice-Chancellor​
Gepubliseer: 26/03/2020

Beste Studente

Die nuwe omstandighede na aanleiding van die opdrag vir 'n algehele inperking wat Maandagaand deur president Cyril Ramaphosa uitgereik is, het die ingewikkeldheid van die Universiteit Stellenbosch se doelwit dat ons studente die 2020-akademiese jaar kan voltooi, verhoog.

Ná die president se aankondiging het ek Dinsdag saam met die ander Visekanseliers aan 'n aanlyn vergadering van Universities South Africa (USAf) deelgeneem om die praktiese implikasies van die algehele inperking vir elke universiteit en beroepsopleidingkollege in ons land te bespreek. Die Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch het gister vergader en ek wil graag die volgende besluite en inligting met julle deel:

Algehele inperking en voortsetting

·       Die universiteitstelsel is verbind tot die voltooiing van die 2020-akademiese jaar. Die US se algemene doelwit is om te verseker dat ons studente nie 'n akademiese semester of 'n jaar verloor nie.

·       Weens die groot onsekerhede en onbekendhede kan ons nie voorspel wat met die COVID-19-baan in die komende weke gaan gebeur nie. Daarom het die hoëronderwyssektor beide die korttermyn- en mediumtermyn-scenario's oorweeg en besluit om Maandag, 20 April 2020 die voorlopige aanvang van die tweede kwartaal te maak. Prakties gesproke beteken dit die US se reses vir studente is met 'n verdere drie weke verleng.

·       Vir die Universiteit Stellenbosch beteken algehele inperking dat alle kampusgeboue, met die uitsondering van 'n paar, ontoeganklik sal wees totdat die president die algehele inperking amptelik ophef. Spesiale reëlings sal vir noodsaaklike dienste soos IT-ondersteuning en kampussekuriteit getref word. Die biblioteekgeriewe sal gesluit wees, maar aanlyn dienste is beskikbaar. Die Neelsie-studentesentrum sal vir eers oop bly weens die Poskantoor wat as 'n noodsaaklike diens beskou word, maar streng toegangbeheer sal toegepas word. Die Spar, apteek, kitsbanke en sommige banke sal ook oop wees gedurende beperkte sake-ure (weeksdae van 08:00 tot 18:00 en tot 13:00 op Sondae).

Personeelreëlings  

·       Gedurende hierdie tydperk sal akademiese, sowel as professionele en administratiewe steundienste-personeel voortgaan om van die huis af te werk soos voorheen aangekondig en uiteengesit in die personeel-protokol.

·       Daar sal nie vir personeel 'n resestydperk wees nie. Akademiese personeel sal die geleentheid hê om hulself van aanlyn onderrig deur webinare te vergewis en om hul onderrigmateriaal aan te pas om dit van 20 April af ten volle aanlyn aan te bied.

·       Dosente word verwag om vir elke module 'n minimum teenwoordigheid op SUNLearn te handhaaf. Die minimum teenwoordigheid op SUNLearn vir elke module moet duidelike en weeklikse leiding aan studente oor hoe hulle met hul leer kan voortgaan, insluit. Module-raamwerke, skakels na ondersteuningstrukture vir studente en weeklikse leermateriaal moet duidelik op die SUNLearn-moduleblad georganiseer wees. Afgesien van handboeke, kan leermateriaal met lae-tegnologie-, lae bandwydte-opsies op SUNLearn aangevul word. Dit sluit teksgebaseerde notas, oudionotas/vertellings, data-vriendelike (kleiner grootte) PowePoint-dokumente en vormende aktiwiteite wat afgelaai en van lyn af voltooi kan word (oefeninge met leidende vrae en modelantwoorde), in. Asinkroniese (selfpasaangewende) kommunikasiekanale moet ingestel word en moet beide die dosent se e-posadres en 'n SUNLearn-besprekingsforum insluit waar studente hul eie vrae en opmerkings kan plaas. Dosente word aangeraai om gereeld die SUNLearn-aankondigingsforum te gebruik om verkorte boodskappe aan alle studente te plaas ten einde met groter groepe te kommunikeer. Geen inhandiging of assesserings mag van studente verwag word vóór die tweede kwartaal weer op 20 April 2020 'n aanvang neem nie.  

Studente 

·       Die Maart-reses is vir studente met 'n bykomende twee weke verleng. Die tweede kwartaal sal nou op Maandag, 20 April 2020 begin. Aangesien ons nie seker is of kontakonderrig op daardie dag hervat sal kan word nie, sal die US gereed wees om aanlyn onderrig vir voorgraadse, honneurs- en meesterstudente wat onderrig ontvang, as 'n plaasvervanger vir kontakonderrig en -leer in te stel.

·       Geen studente-assesserings word vir voor Mei 2020 in die vooruitsig gestel nie, en dit is moontlik dat die Junie-eksamens ook aanlyn sal geskied. Aangesien die drie weke lange winterreses vir studente vir Maart/April geherskeduleer moes word, is dit moontlik dat die tweede kwartaal later in Junie sal aanhou om op te maak vir verlore onderrigtyd. Die US-bestuur sal so gou moontlik duidelikheid hieroor verskaf.

·       Studente het 'n meningsopname ontvang om die US te help om hul gereedheidsvlak vir aanlyn leeraktiwiteite, insluitende toegang deur persoonlike toestelle en internettoegang, te bepaal. Ons doen 'n dringende beroep op studente om hierdie opname teen Maandag, 30 Maart 2020 om 12:00 te voltooi. Aanlyn leer is 'n gesamentlike verantwoordelikheid tussen die Universiteit en elke student. Ons sal verseker dat die nodige platforms en leermateriale beskikbaar is, en sal met selfoondiensverskaffers onderhandel vir gratis data vir studente vir toegang tot hoëronderwysdomeine. Dit is elke studente se plig om teen 20 April toegang tot 'n geskikte toestel – ten minste 'n slimfoon – te bewerkstellig.

Navorsing- en nagraadse studies 

  • Navorsingsprojekte en nagraadse studies wat menslike interaksie of ontledings in 'n laboratorium vereis, hou 'n besonderde uitdaging in hierdie tydperk van algehele inperking in, hoewel dit nie navorsing wat aanlyn gedoen kan word, negatief hoef te beïnvloed nie. Die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling gee besondere aandag aan individuele gevalle. Navrae kan gerig word aan dr Therina Theorn (ttheron@sun.ac.za). Die Navorsingstandpuntverklaring wat Sondag uitgestuur is, is sedert die regulasies vir algehele inperking aangekondig is, bygewerk. Die nuwe weergawe sal vandag op die COVID-19-webblad geplaas word.  

Universiteitskoshuise

·       Sowat 500 studente wat geen ander uitweg gehad het nie, bly steeds in Universiteitskoshuise. Die Universiteit sal hierdie studente met die minimum dienste wat gedurende die algehele inperking in die land toegelaat word, bystaan. Dieselfde streng riglyne wat vir alle Suid-Afrikaanse huishoudings gedurende die algehele inperking geld, sal ook vir die koshuise geld.

Ons het begrip vir ons studente se kommer oor die drastiese veranderinge op kampus, hul studente-ervaring en die akademiese jaar. Ons het geweldige deernis vir elkeen wat moontlik nie met hul akademiese aktiwiteite kan voortgaan soos ons graag sou wou verseker nie.  

As US-personeel sal ons voortgaan om alles in ons vermoë te doen om die akademiese program aan die gang te hou en om aan studente toegang tot hoëgehalte leergeleenthede te gee. Dit verg moeilike besluite en harde werk om die magdom nuwe reëlings te tref. Dieselfde 'ons-kan-dit-doen'-ingesteldheid en toewyding sal van ons studente vereis word. Kom ons pak hierdie uitdaging saam aan sodat ons 'n goeienuus-storie kan skryf wat julle aan die volgende geslag sal kan oordra.

In die lig van die huidige vlakke van veranderlikheid in ons omgewing, mag ons genoodsaak word om enige van die bogenoemde maatreëls en besluite te heroorweeg en aan te pas. Raadpleeg asb die COVID-19-webblad gereeld vir die jongste nuus.

Wees asb versigtig en sien om na jou gesondheid. Pas goeie persoonlike higiëne toe en gee gehoor aan die maatreëls vir algehele inperking. 

 

Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers

Rektor en Visekanselier