Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19: Toegang tot aanlyn onderrig en studentedienste
Outeur: Prof Arnold Schoonwinkel Vice-Rector: Learning and Teaching
Gepubliseer: 23/03/2020

​Beste Voorgraadse en Nagraadse Studente

Sedert die vervroegde aanvang van die reses het ons almal toegekyk hoe die wêreld met rasse skrede rondom ons verander. Dit noodsaak individuele, institusionele en nasionale vloeibaarheid. Ons is almal versoek om ons lewenswyse aan te pas om die moontlike plaaslike uitwerking van die COVID-19-pandemie te hok te slaan.

Ons bevind onsself in onbekende waters. In hierdie stadium weet niemand hoe lank die pandemie sal aanhou nie, en ons het nog nie al die antwoorde op die menigte vrae wat julle mag hê nie. Ons moes as 'n Universiteit moeilike besluite neem terwyl ons ons studente se beste belange in gedagte hou. Bowenal is dit ons doel om soveel ondersteuning as moontlik te verskaf ten einde angs te verminder terwyl ons daarna strewe om ons akademiese aanbieding op ander maniere aan te bied. Dit is belangrik om daarop te let dat reëlings in enige stadium kan verander – hetsy weens interne prosesse of weens nasionale aankondigings. Raadpleeg asb die COVID-19-webblad met die skakel na AANLYN LEER, asook jou fakulteit se webwerf gereeld.

Ons het doelbewus ons beplanning met die langer termyn ingedagte gedoen – om dit eenvoudig te stel – voorbereiding vir 'wat indien kontaklesings nie ná 14 April voortgesit kan word nie'. Alle studente moet daarop let dat niemand na US-verblyf moet terugkeer alvorens ons nie kontakklasse kan hervat nie. Navrae kan gerig word aan ssgsupport@sun.ac.za.

Ons het die Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting (IKSV) saamgestel om al die US se reaksies op COVID-19 te bestuur. Die volgende besluite is Vrydagoggend geneem:

  • Alle fakulteite, met die uitsondering van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe sal vanaf 30 Maart 2020 (d.i. die eerste dag van volgende kwartaal) met aanlyn lesings en onderrigondersteuning voortgaan;
  • Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe sal spesiale reëlings tref vir kliniese rotasies vanaf 15 April 2020, aangesien dit studente se teenwoordigheid op kampus vereis. Hierdie reëlings kan verander namate die situasie in die land verander. Spesifieke reëlings vir die Tygerberg-kampus sal deur die Dekaan se kantoor of spesifieke lynfunksies gekommunikeer word.
  • Assesserings sal eers ná 14 April 2020 geskeduleer word om ons studente kans te gee om gedurende die eerste twee weke vanaf 30 Maart eers aan die aanlyn onderrig gewoond te raak; en
  • Omgewings soos die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB), wat sedert die begin van 2020 heeltemal aanlyn vir lesings en assesserings funksioneer, sal met hierdie huidige model van lesings en assesserings voortgaan. Daar sal geen kontaksessies by die USB wees nie.

Dit is bemoedigend om te sien wat ons kan bereik deur saam te werk. Akademiese personeel, asook professionele en administratiewe steundienste, het hard gewerk om te verseker dat ons in staat sal wees om vanaf 30 Maart 2020 die tweede kwartaal van 2020 deur middel van die US se aanlyn platforms te kan voortsit.

Natuurlik sal dit nie sonder uitdagings wees nie: Personeel en studente sal almal moet aanpas by 'n nuwe manier van onderrig en leer. Ons studente mag dalk selfs 'n voordeel hê – jul jonger geslag is gemakliker met die digitale wêreld as baie van ons akademiese personeel, maar ons leer almal! Meer as 90 akademici het vandeesweek ingeskakel vir die eerste webinaar oor aanlyn onderrig en hierdie webinaars sal daagliks voortgaan tot ten minste 30 Maart 2020.

Ons raai alle dosente aan om SUNLearn as hul aanlyn leer-platform te gebruik. Ons weet sommige dosente verkies om hul eie aanlyn leer-platform(s) te gebruik, en in sulke gevalle sal hulle die inligting aan studente deurgee. Jul assesseringsinligting sal module-spesifiek wees en via jul dosente wat vir die spesifieke module verantwoordelik is, gekommunikeer word.

Wees asb gerus dat ons alles in ons vermoë doen om al die leeraktiwiteite “data-lig" te hou sodat julle toegang tot jul leermateriaal en aktiwiteite deur middel van die SUNLearn-toepassing op 'n selfoon sal kry. Ons weet egter dat dit nie altyd haalbaar sal wees om toegang tot alles op 'n selfoon te kry nie, en dat sommige studente nie 'n rekenaar en/of toegang tot die internet tuis het nie.

Van die toegangsopsies sluit in:  

  1. Van jou huis af, indien jy 'n rekenaar en internettoegang het.
  2. Indien jy nog in die koshuis is, vanuit jou koshuiskamer, indien jy 'n rekenaar het. BAIE BELANGRIK: Studente wat die kampus verlaat het, sal weens die moontlike gesondheidsrisiko's nie na die koshuise kan terugkeer op 30 Maart 2020 nie.
  3. Indien jy op Stellenbosch of naby Stellenbosch is, by 'n Rekenaargebruikersarea (inligting sal deur middel van die COVID-19-webblad se skakel vir Studente-ondersteuning volg).
  4. Selfone en tablette. Die Universiteit onderhandel met al die vernaamste selfoonverskaffers om gratis data aan SUNLearn en SUNStreaam te verskaf (inligting sal deur middel van die COVID-19-webblad se skakel vir Studente-ondersteuning volg).

Die Universiteit ondersoek tans die volgende oplossings:

  • Om kostedoeltreffende kommunikasie-opsies van plekke weg van die kampus af na die virtuele leeromgewing wat binne die Universiteit gesetel is, te bewerkstellig; en
  • Om aanlyn-toegang na platforms en ondersteuningsdienste te vergemaklik.

Die oogmerk is om eenvoudige prosedures te verskaf ten einde kommervrye toegang vir alle deelnemers in hierdie nuwe leerparadigma te verseker, terwyl ons besef dat individuele studente en personeel se spesifieke omstandighede baie mag verskil. Die beskikbaarheid van leergeriewe op kampus sal ook heroorweeg word namate omstandighede verander.

Die skakels hieronder sal jou na saamgepersde inligting neem om jou te help met voorbereidings vir aanlyn leer, met ondersteuningsmateriaal wat gereeld op webwerwe bygewerk sal word. Ons hoop dit sal jou gerus stel en ten minste van jou vrae beantwoord. Ons sal die verskillende praktiese uitdagings wat eie is aan spesifieke studievelde hanteer soos hulle na vore kom, maar die meerderheid van ons studente behoort met hul leer te kan voortgaan aan die hand van die riglyne wat in hierdie skrywe verskaf word.

Benader asb die situasie op 'n verantwoordelike manier. Gaan voort om die wêreldwye protokols vir higiëne en sosiale afstandskepping toe te pas. Nuus wat op sosiale media versprei word, hou 'n risiko vir bevestigde inligting in. Ek wil daarom 'n beroep op elkeen doen om nie fopnuus te versprei nie. Dit is 'n kriminele oortreding met ernstige gevolge. Maak seker van die feite voordat jy nuus aanstuur. Verwys na https://www.gov.za/coronavirus/fakenews vir verdere inligting.

Ek wil 'n beroep op julle doen om te midde van al die onsekerhede en ongerief daarop te fokus om jul akademiese jaar te voltooi. Ons beskik oor die tegnologie en die spanwerk om dit te doen; en ons bly verbind tot mekaar ondanks sosiale afstandskepping. Besoek gereeld die AANLYN LEER-webblad​   vir al ons amptelike kommunikasie oor die US se akademiese aanbieding aanlyn en oor waar om ondersteuning te kry. Indien jy enige verdere vrae het, kan jy na die kontakbesonderhede hier gaan.

Vriendelike groete

Prof Arnold Schoonwinkel

Viserektor: Leer en Onderrig ​​

SKAKELS