Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Moenie drinkwater van goeie gehalte as vanselfsprekend aanvaar nie
Outeur: Gideon Wolfaardt and Marlene de Witt
Gepubliseer: 23/03/2020

Sondag (22 Maart) was Wêreld Waterdag. In ʼn meningsartikel vir News24, vra Gideon Wolfaardt en Marlene de Witt alle Suid-Afrikaners om nie drinkwater van goeie gehalte as vanselfsprekend aanvaar nie.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Moenie drinkwater van goeie gehalte as vanselfsprekend aanvaar nie

Gideon Wolfaardt & Marlene de Witt*

Die droogte wat ons in die Wes-Kaap en ander dele van die land ervaar het, het ʼn bewustheid van waterbeskikbaarheid by almal gewek, en die meeste van ons sal waarskynlik nooit weer terugkeer na die “ou normale" manier van watergebruik nie. Dit het ʼn ernstige krisis geverg voor ons by die punt kon kom waar ons anders dink oor iets wat ons vir die grootste deel van ons lewens as vanselfsprekend aanvaar het.

Met die internasionale viering van Wêreldwaterdag op 22 Maart is dit belangrik om te besin oor die feit dat daar ook ʼn ander kant aan waterbeskikbaarheid is, waaraan die meeste van ons nog nie genoop was om te dink nie en wat ons as vanselfsprekend aanvaar wanneer ons ons krane oopdraai: toegang tot drinkwater van goeie gehalte wat aan internasionale standaarde voldoen. Dit is ironies dat ons elke dag verby besoedelde riviere ry sonder om eens meer die swak gesondheid daarvan op te let. Selfs al word ons deur die voorkoms en reuk daarvan gewalg, of voel ons bedroef oor die feit dat talle van ons strome en riviere nie meer vir ontspanningsaktiwiteite gebruik kan word nie, word ons nie tot aksie en verandering aangespoor nie, want die toestand van hierdie strome en riviere het nie ʼn direkte impak op ons lewens nie; dit is nie wat uit ons krane vloei nie.

Watergehalte het ʼn veel meer direkte en verreikende impak op ons alledaagse lewens as wat ons besef. Dit het vernaamlik ʼn impak op waterhoeveelheid, aangesien dit die hoeveelheid water wat sonder omvattende en duur behandeling vir verbruik beskikbaar is, verminder – ʼn probleem wat tydens droogte vererger word. Produsente wat van rivierwater vir besproeiing afhanklik is, kom toenemend voor negatiewe reaksies van die uitvoermark te staan, of voor die bykomende koste van behandeling voor besproeiing. Roetine-instandhouding en opknapping van behandelingsaanlegte, en direkte afvoer namate terreinafloop ʼn uitdaging vir ʼn toenemende aantal finansieel beperkte munisipaliteite word lei tot groeiende kommer dat mikrobesoedelstowwe soos endokrienversteurders en mikro-organismes deur behandelingsfasiliteite wat nie voldoende in stand gehou word nie, vloei. En met water uit die besoedelde stroom of rivier waarby ons elke dag verby ry wat in die grond sypel, word hierdie besoedelstowwe na die grondwater oorgedra, wat drinkwater aan ons boorgate en toenemend ook ons massawaterhulpbronne voorsien. Natuurlik word ons landelike en armer gemeenskappe waarskynlik die meeste deur hierdie probleme geraak.

Verswakkende watergehalte het ʼn belangrike kwessie geword en noodsaak optrede soos die identifisering van besoedelbronne, gedragsveranderinge om besoedeling te bekamp en innoverende tegnologieë, wat natuurgebaseerde oplossings kan insluit om die situasie te herstel, met toenemende klem op sosiaal aanvaarbare benaderings. Ons besef die waarde van internasionale ervaring, tegnologie en bestuursvaardighede in ons pogings om die ingewikkelde uitdagings te hanteer wat met die verskaffing van genoeg water van voldoende gehalte gepaardgaan.

Ons is egter ook bewus van die magdom tradisionele en voorpunt-tegnologieë onder Suid-Afrikaners wat in hierdie opsig ʼn bydrae kan lewer. Ons moet geleenthede aangryp om vennootskappe te vestig waarin plaaslike en internasionale kundigheid saamgesnoer word. Dit behoort by te dra tot vermindering van mislukte pogings om internasionale tegnologievernuwings in plaaslike omstandighede toe te pas, hetsy weens die ontoepaslikheid daarvan vir plaaslike toestande, ʼn tekort aan vervangingsonderdele of ʼn gebrek aan plaaslike vaardighede vir roetine-instandhouding. Gesamentlike ontwerp van intervensies help ook om sosiale hindernisse tot die toepassing van nuwe tegnologieë te oorkom en om konflik te temper.

Universiteite is veral ruimtes waar vennootskappe aangegaan moet word om optimale en blywende oplossings vir ingewikkelde waterverbonde uitdagings te vind. Met hierdie doel voor oë het die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn vennootskap met Duitsland se Fraunhofer-Gesellschaft, een van Europa se vooraanstaande organisasies vir toegepaste navorsing, aangegaan om die Fraunhofer Innovation Platform in Stellenbosch te vestig. Die fakulteite Ingenieurswese, Natuurwetenskappe en AgriWetenskappe by die US en vier institute wat deel van die Fraunhofer Water Systems Alliance (SysWasser) is, in samewerking met die Fraunhofer Energy Alliance, sal op gebiede van water en energie saamwerk om tegnologieë geskik vir Suider-Afrika te ontwikkel en te implementeer. Deur die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut, wat as die plaaslike koördineerder van hierdie platform dien, sal hierdie netwerk na ander dissiplines soos gemeenskapsgesondheid en sosiale wetenskappe uitgebrei word.  

Hierdie nuut gestigte Innovation Platform is die resultaat van vorige projekte oor watergehalte en energie tussen die US en die Fraunhofer-Gesellschaft. Een van hierdie projekte, SafeWaterAfrica, is ʼn goeie voorbeeld van die manier waarop plaaslike en internasionale tegnologie en kundigheid saamgevoeg kan word om werkbare oplossings te vind. Dit het gelei tot die ontwikkeling van ʼn gedesentraliseerde waterbehandelingstelsel vir landelike en buitestedelike gebiede. ʼn Modulêre waterstelsel is in samewerking met twee plaaslike maatskappye, Virtual Consulting Engineers en Advance Call, ontwikkel vir behandeling van besoedelde water voor finale behandeling met koolstofgebaseerde elektrochemiese oksidasietegnologie wat deur ons Fraunhofer-vennote ontwikkel is. Ekurhuleni Water Care Company het die terrein vir ʼn demonstrasie-eenheid verskaf, wat nou gebruik word vir verdere ontwikkeling ten opsigte van waterhergebruik, met die potensiaal om ook as ʼn fasiliteit vir die opleiding van tegniese personeel te dien.

Onderwyl ons steeds op soek is na innoverende oplossings deur vennootskappe tussen universiteite, navorsingsinstitute en maatskappye, is dit noodsaaklik dat die openbare persepsie van watergehalte verander. Ons moet bewustheid skep om die naderende “Day Zero" van watergehalte te verhoed. Dit verg aanmerklike opvoedingspogings in al ons gemeenskappe, en die beste plek waar dit dringend moet begin, is in ons huise.

* Gideon Wolfaardt en Marlene de Witt is by die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut geaffilieer.