Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Situasieskrif en NEK-riglyne oor navorsing te midde van COVID-19
Outeur: Prof Eugene Cloete: Vice-Rector: Research, Innovation and Postgraduate Studies
Gepubliseer: 23/03/2020

Beste kollegas en studente

Ons verwag dat COVID-19 wyd en vinnig onder gemeenskappe in Suid-Afrika sal versprei. In pas met die aanbeveling oor die beoefening van sosiale afstandskepping wil ons die gevaar van virusoordrag beperk in navorsingskantore en -laboratoriums, op navorsingsterreine, en in studieverband waar navorsingsdeelnemers en -personeel, studente en ander werknemers vir navorsingsdoeleindes byeenkom.


Alle voorsorgmaatreëls om oordrag te voorkom en gevaar te verlaag moet dringend in werking gestel word, en ons moedig navorsers aan om in die gees van 'n “etiek van verantwoordelikheid" op te tree. Die beperking van COVID-19-infeksie en die beskerming van die welstand van navorsingsdeelnemers en -personeel, studente en ander werknemers behoort nou voorrang te geniet.

 

Navorsingsbedrywighede waar mense vir studiedoeleindes byeenkom, hou 'n gevaar van COVID-19-oordrag na navorsingsdeelnemers en -personeel, studente en ander werknemers in navorsingsomgewings in. Die aard van data-insameling op sigself hou byvoorbeeld 'n risiko in omdat navorsingsdeelnemers en -personeel, studente en ander werknemers in dieselfde kantoor of laboratorium moet werk of openbare vervoer moet gebruik om by die studieterrein te kom. Boonop kan die insameling van studiemonsters ook die virus laat versprei.
 
Derhalwe beveel ons aan dat elke navorsings- of studieterrein die volgende maatreëls tref:

  • Bepaal onverwyld die risiko van COVID-19-oordrag vir navorsingsdeelnemers, navorsingspersoneel en studente.
  • Die afskaling, uitstel of opskorting van alle navorsing waarvoor dít moontlik is, sowel as alle navorsing met 'n buitengewoon hoë risiko van COVID-19-oordrag, word aanbeveel, totdat die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie hierdie instruksie ophef.
  • Enige kontraktuele implikasies en wysigings wat vereis word, moet so gou moontlik met projekleiers en -vennote en die Afdeling Navorsingsontwikkeling se Navorsingskontraktespan bespreek word.
  • Indien dit nie moontlik is om 'n bepaalde studie af te skaal, uit te stel of op te skort nie, moet 'n plan opgestel word om met minimum deelnemerkontak voort te gaan, verkieslik slegs daardie studiebedrywighede of -besoeke waar deelnemerwelstand en/of die vooruitsig van deelnemervoordeel die moontlike gevaar van COVID-19 oortref (soos veiligheidsbesoeke, die voorsiening van medisyne, ensovoorts).
  • Ingeval navorsing op bogenoemde grondslag voortgaan, moet projekleiers 'n kontakregister byhou met die nodige inligting van alle kontakte (naam, ID, kontakbesonderhede, alternatiewe kontakbesonderhede, kontakdatum en -tyd).
  • Geen personeellid, student, ensovoorts kan verplig word om aan 'n navorsingsprojek deel te neem indien hulle weens kommer oor hulle gesondheid of veiligheid in die lig van die pandemie nié wil deelneem nie.
  • Enige wysigings aan die protokolle van NEK-goedgekeurde navorsing sal bykomende goedkeuring vereis, en moet by die betrokke NEK ingedien word. Bestudeer asseblief die ingeslote riglyne vir spesifieke instruksies van die Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee en die Navorsingsetiekkomitee: Sosiale, Gedrags- en Opvoedkundige Navorsing (NEK: SGO).
  • Die vooruitsig van direkte deelnemervoordeel het hoofsaaklik betrekking op sekere tipes kliniese navorsing en sal waarskynlik nie op laboratoriumgebaseerde navorsing en navorsing in sosiale, gedrags- en opvoedkundige verband van toepassing wees nie. Navorsing sonder verwagte direkte voordeel behoort so ver moontlik tot verdere kennisgewing opgeskort of uitgestel te word, tensy daar hoogs uitsonderlike redes bestaan om dit nié op te skort of uit te stel nie.
  • Navorsingstudies met die vooruitsig van direkte deelnemervoordeel (soos studies wat behandeling voorsien) moet steeds studiedeelnemers se kontak met en las op klinieke en hospitale probeer beperk om verdere blootstelling en druk op openbare dienste en fasiliteite te voorkom.
  • Indien dit enigsins moontlik is, en ter wille van alle betrokkenes, moet die inskrywing en werwing van nuwe studiedeelnemers gestaak word totdat die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie hierdie instruksie ophef.
  • Moontlike uitsonderings op hierdie aanbeveling kan met die onderskeie navorsingsetiekkomitees bespreek word.
  • Stel dadelik aanbevelings oor handhigiëne, hoesetiket, gesigaanraking en sosiale afstandskepping in werking by alle plekke waar studiebedrywighede voortgaan. 


Hierdie aanbevelings word gedoen met die huidige stand van sake in gedagte. Die huidige bedreiging van die COVID-19-pandemie in Suid-Afrika sal waarskynlik verander/vererger, en die moontlikheid of gebeurlikheid van 'n inperking in die Wes-Kaap is nie uitgesluit nie. In geval van 'n inperking sal die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie bygewerkte kommunikasie uitreik.
 
Raadpleeg asseblief die ingeslote dokumente (of klik op die skakels hieronder) vir vollediger riglyne en vereistes van die Universiteit Stellenbosch se:

Ons besef dat u navorsing nou moontlik aan etlike bykomende onsekerhede onderworpe is – veral omdat internasionale samewerking en menslike interaksie die grondslag van verskeie navorsingsprojekte by ons instelling uitmaak. Ons het opregte waardering vir alle maatreëls wat ons navorsingsgemeenskap reeds getref of voorberei het.
 
Let asseblief daarop dat dit navorsingsprojekleiers se verantwoordelikheid is om kontak te bewerkstellig met hulle finansiers, navorsingsvennote en -medewerkers, nagraadse studente, nadoktorale genote, navorsingsdeelnemers, institusionele hekwagters en ander belanghebbendes om projekspesifieke gebeurlikheidsmaatreëls in te stel. In die gees van wat ons graag wil bereik, naamlik om die verspreiding van die virus te stuit, is projekleiers voorts daarvoor verantwoordelik om mense so ver moontlik van mekaar weg te hou. Waar bystand, advies of fasilitering vereis word, sal my kantoor en die personeellede van die Afdeling Navorsingsontwikkeling die nodige steun verleen.
 
Ons moedig aktief navorsing aan wat die COVID-19-pandemie die hoof kan help bied (onder die kategorie “noodnavorsing"). Daarom sal ons die administrasie en goedkeuring van sulke navorsing probeer versnel ter wille van wetenskaplike en openbaregesondheidsvoordeel, in pas met ander instellings.
 
Ons herinner u ook graag aan u voortgesette plig teenoor die nagraadse studente en nadoktorale genote in u navorsingsgroep. Moedig almal asseblief aan om produktief te bly, aan te hou om die navorsingsonderwerp te bestudeer, en kontak met u te behou. Hulle kan moontlik dié tyd benut om bestaande data te ontleed, literatuurstudies te onderneem en tesishoofstukke en artikels te skryf.
 
Daarbenewens versoek ons vriendelik dat u die Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie, dr Therina Theron, direk kontak (ttheron@sun.ac.za) om enige algemene navorsingsverwante kwessies uit te lig wat na u mening die aandag verg van die Navorsingsgebeurlikheidskomitee, wat tans as 'n subkomitee van die Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting (IKSV) funksioneer. Dít sal ons risiko's en uitdagings waarvan ons dalk nog nie bewus is nie vroegtydig help identifiseer en beperk.
 
Indien enige navorsingsdeelnemers en -personeel of studente tekens of simptome ontwikkel wat op COVID-19 dui, volg asseblief die aanbevole institusionele protokol en kontak die volgende instansies:

Die blitslyn van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS): 0800 029 999 (nommer beskikbaar van 08:00 tot 16:00 Maandae tot Vrydae)

Kampusgesondheidsdiens:

  • Stellenbosch-kampus 021 808 3496/3494
  • Tygerberg-kampus 021 938 9590

Noodnommer ná ure: 076 431 0305
Provinsiale hulplyn: 021 928 4102

 
In soverre dit op NEK-goedgekeurde navorsingstudies betrekking het, moet die betrokke NEK ook in kennis gestel word. Besoek asseblief gereeld die US se toegewyde COVID-19-webblad vir institusionele nuus en inligting oor die gesondheidsprotokolle en -riglyne wat met die pandemie verband hou.

Personeellede en studente word aangeraai om hulle van die volgende dokumente te vergewis:

 
Vriendelike groete
 
Prof Eugene Cloete
Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie