Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Shanice se geheim vir sukses is: Benut geleenthede!
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 18/03/2020

Die voormalige Skool vir Rekeningkunde-student, Shanice Davids, is 'n sprekende voorbeeld van wat bereik kan word ondanks 'n mens se minderbevoorregte agtergrond indien jy jou geleenthede ten volle benut.

Haar deursettingsvermoë en uitnemendheid het haar nie net 'n honneursgraad in bestuursrekeningkunde in 2019 besorg nie; dit het ook die weg gebaan dat sy as leerlingrekenmeester by LDP Inc, 'n rekenmeestersfirma op Stellenbosch, kon inskryf. Sy sal as 'n internasionale geoktrooieerde bestuursrekenmeester erken word wanneer sy haar leerkontrak oor drie jaar voltooi.

Dit is opwindende tye vir die 22-jarige van Kurland, 'n gemeenskap buite Plettenbergbaai, waar armoede, werkloosheid, huishoudelike geweld en gesondheidskwessies soos tuberkulose alledaagse verskynsels is.

“Dit was nie altyd maklik nie," sê Davids. “Ek het arm grootgeword en gesukkel. My biologiese pa is oorlede toe ek in graad een was. My ma en ouma was albei huishulpe. Daar was nege van ons in my ouma se huis waar ek gewoon het totdat ek 16 was – my ma, my ouma, my tante en oom, 'n neef, ek en my drie susters en later my stiefpa. Soms was daar ook ander loseerders en familielede wat daar kom woon het. Dit het beteken dat ek nie altyd my persoonlike ruimte of privaatheid gehad het nie.

“Ons het gevalle van huishoudelike geweld in die huis gehad en sommige familielede het drank misbruik. Dit het my vasbeslote gemaak om nie dieselfde foute te maak nie, want alkohol kan mense en gesinne se lewens verwoes."

Maar danksy 'n organisasie sonder winsoogmerk, Born in Africa (BIA), wat verbind is tot die langtermyn- opvoedkundige ontwikkeling van minderbevoorregte kinders in die Bitou Distriksmunisipaliteit, het haar lewe 'n ander koers ingeslaan.

BIA, wat in 2003 in België en Suid-Afrika gestig is, bied opvoedkundige en sosiale ondersteuning met behulp van beurse en mentors aan skoolgaande kinders en jong volwassenes tussen die ouderdomme van ses en 25 jaar.

“Die Born in Africa-inisiatief is baie betrokke by ons gemeenskap," sê Davids. “Vandat ek begin skoolgaan het, was ek bewus van die organisasie. In graad drie het hulle my onderwyser genader om leerlinge aan te beveel wat by hul program kon inskakel. En dis hoe my reis saam met hulle begin het."

Isabelle Brink, die algemene koördineerder by BIA, vertel verder. “Ons het Shanice in ons program aanvaar omdat sy aan ons keuringskriteria voldoen het – motivering en houding op skool, uitstekende skoolresultate en sy het ons assesseringstoetse in Afrikaans, lees en wiskunde geslaag. Op laerskool het ons hoofsaaklik op die emosionele en sosiale deel van haar lewe gefokus. Haar worsteling met haarself, vriende, familie en dinge wat by die huis aangaan, is met haar mentor bespreek en Born in Africa het gehelp en ondersteun waar ons kon. Sy het ook elke jaar nuwe skooldrag, 'n skooltas en skryfbehoeftes ontvang. Sy was deel van ons lewensvaardigheidskampe en -uitstappies.

“Shanice het goed presteer op laerskool, wat daartoe gelei het dat sy 'n beurs van Born in Africa gekry het om die Hoërskool Wittedrift by te woon en ook in die koshuis te bly. Die beurs het alle skool- en boekegeld, vervoer na en van die huis en koshuisgeld gedek.

“In graad elf het die akademiese koördineerder van Born in Africa verskeie gesprekke met Shanice gevoer oor haar loopbaanopsies en belangstellings. Dit was duidelik dat sy 'n rekenmeester wou word en met haar uitstekende skooluitslae was dit nie vir ons moeilik om haar by die Universiteit Stellenbosch in te skryf nie.

“Vandat sy deur die Universiteit Stellenbosch toegelaat is, het ons haar emosioneel en finansieel ondersteun. Ons het vir studenteverblyf, 'n maandelikse toelaag en haar universiteitsgeld betaal."

Dit is aan die US waar prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, en sy vrou Louise, as die peetouers van Davids aangewys is. Peetouers is inderwaarheid weldoeners wat tersiêre opleiding vir jongmense in die BIA-program moontlik maak. Die Brinks, saam met ander medepeetouers, het gehelp om die koste te dek vir Davids se BCom Finansiële Rekeningkunde-studies wat sy in 2018 voltooi het. Hulle het ook haar honeursstudie gedeeltelik befonds.

Sy is BIA dankbaar vir die pad wat hulle sedert haar negende verjaarsdag met haar gestap het. Die jare lange finansiering het 'n groot las van haar skouers gehaal. Haar mentors en peetouers het lewenslange vriende geword, sê sy.

Sy glimlag. “Ek het anderdag hier in die kantoor by LDP gesit en nadink oor waar ek vandaan kom en waar ek my nou bevind. Ek kan nog steeds nie glo dat ek op die een of ander manier daarin geslaag het om hierdie hoogtes te bereik nie!"

Maar dan vervaag haar glimlag. “Ek wens my ouma was hier om te sien wat ek bereik. Sy is oorlede in my eerste jaar op Stellenbosch. Ons was baie geheg aan mekaar. Ek kon my drome met haar deel en sy het my altyd, sonder uitsondering, aangemoedig."