Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
studente ontwerp konsepverpakking vir Politics of Nature™ bordspeletjie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 17/03/2020

'n Deense PhD-student se projek waarmee hy poog om die idees van die Franse filosoof Latour in 'n borspeletjie vas te vang, het onlangs die derdejaarstudente in Visuele Kommunikasie en Ontwerp aan die Universiteit Stellenbosch  tot die vroeë oggendure besig gehou. 

Dit was hulle taak om met konsepverpakkingsidees vir die Politics of Nature (PoN) board game na vore te kom. Dit is 'n gewigtige bordspeletjie wat gebruik word om nuwe maniere te ondersoek waarvolgens demokratiese bestuur geïmplementeer kan word terwyl daar terselfdertyd aandag gegee word aan dwingende gemeenskaps- en omgewingsuitdagings.

Die Politics of Nature is oorspronklik bedink deur Jakob Raffn en sy medewerker, Frederik Lassen. Jakob is tans 'n PhD-student in landboustelsels en -volhoubaarheid aan Aarhus Universiteit in Denemarke. Die doel van PoN is die verkenningsproses van hoe om Latour se politieke filosofie, the Politics of Nature in die praktyk te kan toepas.

Volgens Jakob het Kaapstad se waterkrisis van 2018 hom genoop om kragte saam te snoer met dr. Charon Büchner-Marais, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch Waterinstituut (SUWI) en medestigter van die Stellenbosch River Collaborative.

“Ek het gehoop dat die krisis my die geleentheid sou bied om te eksperimenteer met hierdie nuwe aanslag ten opsigte van bestuur," verduidelik jakob.

Dít het weer gelei tot samewerking met Corbin Raymond, 'n dosent in die Departement Visuele Kunste. In Maart 2019, onder die vaandel van SUWI en onder die leiding van Corbin, het visuele kunste-student Nadia Stroh, 'n plaaslike weergawe van die Politics of Nature speletjie ontwerp wat deur al die belangegroepe by die Eersterivieropvangsgebied gespeel is.

Hierdie jaar het Corbin en Jakob weer die derdejaarstudente betrek om 'n konsepverpakking vir die speletjie te ontwerp. Hierdie proses het onder andere bestaan uit inligtingsessies, die fisiese speel van die speletjie self, asook individuele besprekings- en terugvoersessies.

Jakob sê hierdie interaksie met die kunsstudente vorm deel van sy projek “om wetenskap te laat saakmaak":  “Daar is mense wat hulself nie 'n ander wêreld kan voorstel nie. In hierdie speletjie kombineer ons 'n klomp dissiplines ten einde mense die gereedskap te gee waarmee hul hulself 'n nuwe, alledaagse  wêreld kan indink, sowel as dit te bou. Ons kan dit nie doen met die gereedskap wat tans tot ons beskikking is nie."

Volgens Corbin het die ontwerpprojek, studente waardevolle geleentheid tot direkte interaksie met die individu agter die idee gegee. Hulle het ook die geleentheid gehad om saam met hom te werk en uiteindelik vorendag te kom met ontwerpidees vir 'n produk wat werklik bestaan.

Foto's: Wiida Fourie-Basson