Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19: US stel belangrike voorsorgmaatreëls in
Outeur: Prof Wim de Villiers: Rector and Vice-Chancellor / Prof Wim de Villiers​: Rektor en Visekanselier
Gepubliseer: 13/03/2020

15 Maart 2020:

COVID-19: Lesings

Lesings by die Universiteit Stellenbosch gaan voort gedurende die samesprekings tussen die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Rektore van universiteite en Universiteite Suid-Afrika (USAf). Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch vergarder more-oggend on volgende stappe te bespreek. Alternatiewe opsies vir lesings word oorweeg om die minste moontlike ontwrigting van akademiese aktiwiteite te fasiliteer. Verdere inligting sal op die COVID-19-webblad op die US se webtuiste gepubliseer word.

13 Maart 2020

COVID-19: US stel belangrike voorsorgmaatreëls in  

Beste Personeel en Studente

Te midde van toenemende kommer oor die nasionale en internasionale verspreiding van COVID-19, het ek 'n aantal belangrike besluite geneem om die moontlike plaaslike uitwerking van die huidige pandemie (soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie op 11 Maart 2020 verklaar) te temper.

Ons is maar al te bewus van die beduidende impak wat hierdie besluite op ons as 'n Universiteitsgemeenskap sou kon hê, maar ek wil julle verseker dat die besluite nie ligtelik geneem is nie. Neem asb kennis dat waar spesifieke tydperke of datums hieronder aangedui word, dit op die huidige situasie van toepassing is. Soos ons reeds gesien het, kan die omstandighede baie vinnig verander, wat aanpasbaarheid sal noodsaak. Die Universiteit Stellenbosch het 'n maand gelede 'n Gebeurlikheidskomitee saamgestel om ons hantering van COVID-19 te koördineer. Die komitee vergader weekliks om die situasie te herevalueer en verwante besluite te heroorweeg.

Maart/April-gradeplegtighede en inhuldiging van die Kanselier 
Die Maart/April-gradeplegtighede is afgestel, terwyl die formele inhuldigingseremonie van ons nuwe Kanselier, regter Edwin Cameron – wat sedert Januarie 2020 dié amp beklee – uitgestel is. Alle graduandi sal 'n skrywe van die Registrateur se kantoor ontvang. Gaste wat vir die inhuldiging uitgenooi is, sal oor die uitstel ingelig word.

Konferensies
Alle konferensies wat in die tydperk to 30 Junie 2020 op US-kampusse geskeduleer is, moet tot nadere kennisgewing afgestel word.

Gebeurlikheidsplan vir akademiese program
Die Dekane en Bestuurders van alle US-fakulteite het aangedui dat  hulle maatreëls sal kan instel om die akademiese program deur middel van die US se aanlyn-platform voort te sit indien hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika opdrag kry om te sluit. Meer inligting oor die gebeurlikheidsplan vir die akademiese program sal bekendgemaak word namate die situasie ontvou. Vir nou gaan die akademiese program gewoonweg voort.

Reis
Die Universiteit het 'n tydelike verbod op alle internasionale reise vir personeel en studente geplaas. Hierdie verbod geld ook vir internasionale gaste wat die Universiteit wil besoek. Die reisverbod sal tot 30 Junie 2020 geld. Personeel en studente wat tans oorsee is, sal hulself vir 'n tydperk van 14 dae in kwarantyn moet plaas wanneer hulle terugkeer.

Hoewel die Universiteit nie personeel en studente kan verbied om in hul private hoedanigheid te reis nie, doen ons 'n dringende beroep op mense om asb verantwoordelike besluite ten opsigte van internasionale reisplanne te neem. Daar sal van jou verwag word om met jou terugkeer vir 14 dae in self-kwarantyn te bly. Om die risiko van die verspreiding van COVID-19 te beperk, sal personeel en studente wat wel die virus tydens private reise opdoen, nie toegelaat word om na hul werk, lesings of koshuise terug te keer alvorens hulle nie medies geskik is om dit te doen nie. 

Webblad spesiaal vir COVID-19
'n Toegewyde coronavirus-webblad is ontwikkel. Besoek asb hierdie webblad gereeld, aangesien die jongste inligting en operasionele reëlings hier bekendgemaak sal word.

Gebeurlikheidskomitee
Die US se Gebeurlikheidskomitee, onder die voorsitterskap van prof Eugene Cloete, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, sluit onder meer in dr Viljoen van der Walt, die US se Direkteur: Risikobestuur en Kampussekuriteit en verskeie vakkundiges van die Infeksiesiektes-sentrum (ISS) en die Afdeling Mediese Virologie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise (SACEMA) en die US se Kampusgesondheid. Die komitee hou die situasie baie fyn dop en sal inligting bekendmaak soos dit nodig raak.  

Ons doen 'n beroep op die Universiteitsgemeenskap om in hierdie tyd sosiaal verantwoordelik op te tree. Om die verspreiding van die siekte te voorkom, doen ons 'n beroep op personeel en studente om die riglyne wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie verskaf is, te volg. Dit sluit in:​

  • Was jou hande gereeld deeglik met seep en water. Indien jy bekommerd is, oorweeg dit om 'n handreiniger aan te skaf vir wanneer jy buite rondbeweeg (met 'n minimum alkohol-inhoud van 70%).
  • Bedek jou mond met 'n sneesdoekie, stuk materiaal of jou elmboog wanneer jy hoes of nies. Probeer om nie oppervlaktes met jou ekskresies te besmet nie.
  • Dit word ook sterk aanbeveel dat jy teen griep (die 2020-entstof sal binnekort beskikbaar wees) en teen pneumokokkus-siektes (indien vir jou aangedui) ingeënt word. Dit sal die las op die gesondheidstelsel verlig, jou vermoë om te kan werk beskerm, en dit kan dalk voorkom dat jy as 'n moontlike COVID-19-geval geïndentifiseer word. Die belangrikste is dat dit ongeag van COVID-19 siektes sou kon voorkom.  

Neem asb kennis van die volgende belangrike telefoonnommers:

  • Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se hulplyn: 0800 029 999. Personeel is van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 16:00 aan diens.
  • Kampusgesondheid: Stellenbosch-kampus 021 808 3496/3494; Tygerberg-kampus 021 938 9590
  • Kampusgesondheid se noodnommer ná ure: 076 431 0305

Dit is uiters belangrik dat ons as Universiteitsgemeenskap alles in ons vermoë doen om die verspreiding van COVID-19 te voorkom. Julle samewerking gedurende hierdie moeilike tyd vir ons almal word opreg waardeer.

Vriendelike groete
Prof Wim de Villiers

Rektor en Visekanselier ​