Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe universiteite twyfelagtige navorsingspraktyke kan bekamp
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/03/2020

Wat kan universiteite doen om navorsingsintegriteit te bevorder en wetenskaplikes te help om twyfelagtige navorsingspraktyke te vermy?

Dít was die vraag wat prof Lex Bouter van die Departement Epidemiologie en Biostatistiek by die Mediese Sentrum aan die Universiteit Amsterdam en die Departement Filosofie aan die Vrije Universiteit Woensdag (11 Maart) probeer beantwoord het. Hy het die eerste Stellenbosch Forum-lesing van 2020 in die Wilcocks-gebou op die Universiteit Stellenbosch (US) se Stellenbosch-kampus gelewer.

Bouter het in sy praatjie gesê navorsingsintegriteit is die gedrag van navorsers in terme van wat hulle doen om geldigheid te bevorder of te belemmer of om vertroue in die wetenskap en tussen wetenskaplikes te versterk.

Hy het gesê indien universiteite en navorsingsinstellings ernstig is oor navorsingsintegriteit, “moet hulle goeie gedragskodes, riglyne en standaardbedryfsprosedures in plek hê wat vir hul plaaslike kontekste ontwikkel en aangepas is."

Bouter het universiteite aangemoedig om goeie metodologiese en statistiese ondersteuning aan wetenskaplikes te bied “omdat baie twyfelagtige navorsingspraktyke en groot foute in die wetenskap met slegte metodes te doen het. Die wetenskap is nie maklik nie en mense het hulp nodig. "

Hy het bygevoeg dat doktorale studente, opkomende navorsers en senior akademiese personeel voldoende mentorskap en opleiding oor navorsingsintegriteit benodig.

“Dit is ook belangrik om 'n stelsel van interne oudits te hê – iets wat dikwels op akademiese vlak geïgnoreer word. Ons hou nie van oudits in die wetenskap nie, maar dit is 'n goeie gewoonte om 'n vriendelike vorm van oudit te hê."

Bouter het ook die kwessie van fluitjieblasery oor twyfelagtige navorsingspraktyke aangeraak en gesê as daar bewerings oor wangedrag van navorsers is, moet billike prosesse gevolg word om sulke aantygings te hanteer ten einde fluitjieblasers en die wetenskaplikes wat beskuldig word te beskerm.

Hy het benadruk hoe belangrik dit is om ʼn oop navorsingsklimaat en -kultuur te bevorder waar daar oor foute en maniere om dit in die toekoms te vermy, gepraat kan word.

Bouter het gesê universiteite moet afsien van verkeerde vorms van aansporings om navorsers te beloon. “Ons moenie net op publikasies en aanhalings fokus nie."

As hulpmiddel vir universiteite om twyfelagtige navorsingspraktyke te bekamp, het Bouter na die 2019 Hong Kong-beginsels oor navorsingsintegriteit verwys wat onder meer die belangrikheid van die beoordeling van navorsingspraktyke, die waardering van volledige verslagdoening oor navorsingsbevindinge, die beloning van deursigtige wetenskaplike praktyke en die erkenning van 'n wye verskeidenheid navorsingsaktiwiteite beklemtoon.

Foto: Navorsers in ʼn laboratorium. Krediet: Pixabay.