Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Post-apartheid SA se gewapende magte “verlore in oorgang en transformasie”
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 10/03/2020

In 1994 het die Suid-Afrikaanse Weermag saamgesmelt met die gewapende magte van anti-apartheidsorganisasies soos die African National Congress se Umkhonto we Sizwe, wat die nuutgeskepte Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF) tot stand gebring het. Hoewel die weermag oor die jare verander het om meer belyn te wees met die demokratiese waardes van die land en aangepas het by 'n nuwe sekuriteits-, politieke en sosiale omgewing, staar dit vele nuwe uitdagings in die gesig. Onder hulle is die vermoë om suksesvol te reageer op 'n veranderde missie-fokus, wat op sy beurt die mag se verkryging, voorbereiding, indiensneming en volhoubaarheid raak.

Dit is die mening van prof. Lindy Heinecken, die land se leidende sosioloog oor die militêre magte, wat meer as 30 jaar se ondervinding in onderrig en navorsing oor militêre magte saamgevat het in 'n boek getitel South Africa's Post-Apartheid Military – Lost in transition and transformation.

Heinecken is gebaseer in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie aan die Universiteit van Stellenbosch, wat een van die min sosiologie-departemente in Suid-Afrika is wat navorsing doen oor militêre sosiologie. Haar werk in hierdie navorsingsveld het aan haar sertifisering besorg van die ISA 

se Vereniging vir Toegepaste en Kliniese Sosiologie as 'n geregistreerde Gesertifiseerde Sosiologiese Praktisyn. Sy dien in die Raad van die Interuniversitêre Seminaar oor Gewapende Magte en die Gemeenskap (VSA) en is President van die Internasionale Sosiologiese Vereniging (ISA) se Navorsingskomitee oor Gewapende Magte en Konflik-resolusie.

Benewens haar eie navorsing put Heinecken vir hierdie boek uit onderhoude met sleutel-akademici en politici wat fokus op verdedigingskwessies, asook militêre praktisyns. 

“Terwyl die nuutgevormde gewapende magte gefokus het daarop om hulself in lyn te bring met die land se demokratiese waardes is daar nie gefokus op die transformering van die magte self nie. Die transformasie wat plaasgevind het was politieke, sosiale en kulturele transformasie, eerder as organisatoriese transformasie," sê Heinecken.

“Op hierdie stadium is dit regtig belangrik dat die gewapende magte begin kyk na organisatoriese transformasie, aangesien die bedreiging wat Suid-Afrika vandag beleef 'n heel ander tipe bedreiging is. Die SANDF  is opgelei in oorlogkunde en nie vir die rolle wat hulle vandag moet speel of die funksies wat hulle moet vervul wat betref die handhawing van vrede, humanitêre bystand-ontplooiing, en handhawing van openbare reg en orde nie. Dit is ook nie gestruktureer om die toename in terroriste-bedreigings wat ons in lande oor die wêreld heen sien, te hanteer nie."

'n Voorbeeld, en 'n onderwerp wat Heinecken aanspreek in haar werk, is die onlangse ontplooiing van die weermag in die Kaapse Vlakte om toenemende bendegeweld in hierdie woongebiede aan te spreek.

“Ons het gesien wat gebeur wanneer die magte interaksie het met die gemeenskap. Die interaksie was konfronterend en op 'n outoritêre wyse wat nie vertroue bou nie."

Dit is egter nie verrassend nie, aangesien dit presies is wat verwag word van hoe soldate binne die weermag bedreigings moet hanteer tydens oorlogvoering.

“Om jou gewapende magte te gebruik om interne sosiale probleme soos bendes en toenemende misdaad aan te spreek is 'n laaste uitweg, want ons moet eers kyk na ander opsies om hierdie soort kwessies aan te spreek. Ons kan dit nie hanteer as 'n sekuriteitsprobleem nie, want daar is dieperliggende sosiale probleme wat lei tot 'n bendekultuur. Die gewapende magte kan 'n situasie genoegsaam stabiliseer om gemeenskappe te help om maatskaplike samehorigheid te herbou ten einde hierdie kwessies aan te spreek, maar daar is altyd die vrees dat, deur die weermag voortdurend en op lang termyn te gebruik, dit kan lei tot hermilitarisering van die gemeenskap, wat beteken dat meer en meer van jou hulpbronne in die weermag gepomp word pleks van dit te gebruik om sosio-ekonomiese kwessies aan te spreek," verduidelik Heinecken.

Nog 'n probleem in hierdie soort situasies, sê Heinecken, is dat die SANDF minder as 300 troepe op die grond het in die Kaapse Vlakte en dat hulle nie gewoond daaraan is om burgerlike polisiëringsdienste uit te voer nie.

“Die rede hiervoor is dat die SANDF nie gestruktureer, goed befonds of opgelei is om hierdie spesifieke funksies uit te voer nie. Soos interne kwesbaarhede in Suid-Afrika toeneem, sal daar 'n groeiende vraag wees na die interne ontplooiing van die weermag om polisie-onbevoegdheid aan te vul," sê Heinecken.

“Ontoereikende publieke debat oor hierdie kwessies en beperkte begrip van die SANDF is hoekom ek dink hierdie boek op die regte tyd kom. Dit spreek aan hoe ons ons weermag meer effektief kan aanwend wat betref die sekuriteit-bedreigings wat ons intern en ekstern ervaar."

Terwyl meer akademies van aard, is Heinecken se boek geskryf op so 'n manier dat akademici, beleidmakers en militêre praktisyns maklik met die inhoud kan omgaan.

Ander hoofstukke in die boek handel oor die nuwe sekuriteit-omgewing waarin die gewapende magte optree, die uitdagings wat vredesoperasies opgelewer het, die hersiening van burgerlike beheer oor die weermag, die bestuur van diversiteit en verteenwoordiging binne die weermag, die probleme wat militêre veterane ervaar om weer in die gemeenskap geïntegreer te word en die vind van winsgewende werk, geslagsgelykheid en opname in die hoofstroom, menslike hulpbronne en arbeidsverhoudinge, die uitdagings van die weermag wat betref die hantering van militêre vakbonde, sowel as MIV/Vigs en die uitwerking hiervan op die weermag in terme van sy operasionele effektiwiteit.

Wat die kwessie van geslagsgelykheid en opname in die hoofstroom betref, sê Heinecken: “Geslagsgelykheid bly steeds 'n omstrede kwessie in die militêre magte soos dit poog om met feminisme te worstel. Die manier waarop geslagsgelykheid aangespreek is, is deur die geloof dat gelyke geleenthede gelyke regte beteken. Met die opkoms van die jongste hoofstroom-denkrigtings oor geslag gaan dit egter nie net oor gelykheid nie, maar ook oor die aanvaarding van verskille en akkommodering van die verskillende vaardighede en talente wat vroue na die organisasie bring. Dit was tot dusver egter baie moeiliker om te bereik aangesien daar vertraagde erkenning was dat die betrokkenheid van vroue by gewapende magte meer voordelig is, veral tydens vredesoperasies."

Heinecken voeg by dat haar navorsing getoon het dat “die tyd gekom het om werklik moeilike besluite te neem oor die toekoms van die militêre magte". 

“Ons is op die punt waar politici, die weermag self en die burgerlike gemeenskap betrokke moet raak by die kwessies wat die weermag in die gesig staar. Ons leef nie in 'n tyd van oorlog nie, maar ons het beslis nie vrede en sekuriteit nie. In 'n toenemende onstabiele wêreld moet ons besluit watter soort weermag ons benodig vir die sekuriteit-bedreigings wat ons in die gesig staar."

Heinecken se boek kos R300 en is beskikbaar by die Protea Boekwinkel, die Book Lounge in Kaapstad, enige tak van Exclusive Books en die meeste ander groter boekwinkels.

Prof Heinecken-5.jpg 

Foto: Prof Lindy Heinecken, die land se leidende sosioloog oor gewapende magte, het 30 jaar se ondervinding van onderrig en navorsing oor die weermag saamgevat in 'n boek getitel “South Africa's Post-Apartheid Military – Lost in transition and transformation." (Anton Jordaan, SSFD)