Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US en Fort Hare oorbrug verlede met geskiedkundige kunsuitstalling
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/03/2020

In 'n geskiedkundige skuif het die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap hande gevat om saam te werk aan die From the Vault-kunsuitstalling wat kunsversamelings wat die twee universiteite oor die afgelope eeu oopgebou het, ten toon stel.

Kuns speel al vir eeue 'n integrale rol om deur die grense van tyd te breek, lewens te verander en mense tot aksie aan te spoor. Die From the Vault-uitstalling wat tans by die Universiteit Stellenbosch Museum te siene is, strewe nie net daarna om mense te roer nie, maar ook om bo die verlede uit te styg en om 'n nuwe toekoms vir twee universiteite wat eens op 'n tyd gedurende Suid-Afrika se verlede van segregasie aan teenoorgestelde pole gestaan het, te rig.

Die 130 kunswerke, wat oor vyf vertrekke op drie vlakke van die US Museum versprei is, is nog nooit vantevore saam gesien nie.

DSC_0109.JPG DSC_0389.JPG

Volgens die kurators van die uitstalling, Mike Tigere Mavura en Gcotyelwa Mashiqa, is die From the Vault-uitstalling 'n belangrike bewys van hoe kuns gebruik kan word om nuwe gesprekke te skep en mense te wys hoeveel ons gemeen het, ondanks die verskille wat ons in die samelewing skep.

“Ten einde die uitstalling saam te stel, moes ons oor die geskiedenis van die twee instellings, wat albei oor 100 jaar strek, hul posisie, waardes en politiek nadink. Nog belangriker, ons moes besin oor hoe om kuns en kunswerke van beide versamelings te gebruik om 'n gesprek te skep wat bo die verlede uitstyg en 'n pad vorentoe vir die toekoms aandui," sê Mavura.

Die From the Vault-uitstalling maak ook deel uit van die Stellenbosch Triennale – 'n geesteskind van die Stellenbosse Opelugbeeldhoutrust wat Stellenbosch 'n primêre bestemming vir multidissiplinêre kuns in Afrika wil maak.

Afgesien van die From the Vault-uitstalling, is daar nog vyf ander uitstallings aan die gang as deel van die Triennale in die Stellenbosch-streek wat almal tot 30 April 2020 sal duur.

Volgens Khanyisile Mbongwa, hoofkurator van die Stellenbosch Triennale, is al die uitstallings daarop gemik om die aandag op kreatiwiteit in Afrika te vestig en om nuwe gesprekke aan die gang te sit.

“Deur die Triennale bring ons werk van regoor die hele vasteland na die meessuidelike punt as 'n kruispunt van tyd – waar die verlede, huidige en toekoms in gesprek met mekaar is. Afrika-skeppings konfronteer ons met die moontlikhede van 'n herlewing deur kuns as 'n lens, 'n rigtingkorrigeerder, 'n stimulus rondom nuuskierigheid en verbeelding te gebruik."

DSC_0244.JPG DSC_0355.JPG

Die Rektor en Visekansellier van die US, prof Wim de Villiers, glo ook 'n herlewing is besig om deur hierdie samewerking te gebeur en dat 'n “betekenisvolle vennootskap" tussen die US en Fort Hare gevorm is.

Hy het by die amptelike bekendstelling van die From the Vault-uitstalling gesê dit sou maklik gewees het om op die verskille tussen die twee universiteite te fokus, maar in plaas daarvan het hierdie kunsuitstalling eerder “die verbintenisse gesoek" en die twee universiteite in staat gestel om dít wat hulle gemeen het, te verken.

“Ons kunsversamelings wat oor die dekades opgebou is, weerspieël ons verskillende reise. Dit sou dus maklik gewees het om te doen wat voor die hand liggend is en op ons verskille te fokus. Maar die kurators het hierdie strik vermy. Hulle het eerder die lyne wat verdeel, vervaag, die raakpunte gesoek en ons laat sien dat ons saam beter is."

De Villiers se eweknie by Fort Hare, prof Sakhela Buhlungu, het by die bekenstelling verduidelik dat die uitstalling tot stand gekom het as 'n manier vir twee van Afrika se gevestigde ou universiteite om n brug tussen hul eeufeeste te bou. Fort Hare het in 2016 sy honderdste bestaansjaar gevier en die US in 2018. “Kuns doen waarvoor baie voorheen bang was – dit bring ons byeen, dit laat ons 'n gesprek met mekaar voer," het hy gesê.

Vir meer inligting oor die Stellenbosch Triennale en die From the Vault-uitstalling, besoek https://stellenboschtriennale.com/.​