Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor, personeel, alumni en vriende van die US pak Kaapstad Fietstoer
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 03/03/2020

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), en 'n span van 60 fietsryers neem op Sondag 8 Maart 2020 deel aan die grootste tydhou-fietswedren ter wêreld - die Kaapstad Fietstoer.

Die span, wat bestaan uit studente, personeellede, alumni en vriende van die Universiteit, samel geld in vir die studente-gedrewe #Move4Food-veldtog wat daarop gemik is om voedselnood onder studente op US-kampusse te verlig.

Deel van die span is studente van die US se Tygerbergkampus wat al voorheen twee keer grense oorgesteek het met 'n ambisieuse fietsrit van 902 km vanaf Vioolsdrift aan die Namibiese grens tot by die Suid-Afrikaanse grens aan Kaap Agulhus om geld vir mede-Maties in te samel via die Nkululeko-fonds..

“Ons sien uit na die fietstoer. Dit is 'n fantastiese manier om deur pragtige Kaapstad te toer en 'n wonderlike groep om dit saam mee te doen. Om alles te kroon maak dit my kinderlik opgewonde om die fietsrit op 'n enkelspoedfiets aan te pak — terwyl ons nodige fondse vir mede-studente insamel," sê Breda Reed, wat hierdie groep mediese studente lei.

Chris Norton, US-alumnus en eienaar van die BMT-fietswinkel op Stellenbosch, is ook deel van die #Move4Food-span, en word vergesel van sy BMT-resiesspan wat almal vanuit die omliggende gemeenskappe in Stellenbosch kom. “Ons span verstaan gemeenskapsondersteuning baie goed! Daarom ondersteun ons vir Move4Food," sê Norton.


Vir prof Wim de Villiers, wat aan sy vyfde Kaapstad Fietstoer in sy hoedanigheid as rektor van die US deelneem, is Sondag se wedren ook 'n familie-aangeleentheid — sy dogter Gera en seun Braam pak saam met hom die 109 km-rit aan.

“Ek voel geëerd om deel te wees van 'n span Maties wat omgee. Ons studente het talle uitdagings op ons kampusse, maar om honger te wees moet nie een daarvan wees nie. Dit beïnvloed nie net hul akademiese uitslae nie, maar ook hul menswaardigheid. Soos een van ons fondswerwers onlangs gesê het: 'Ons wil ontslae raak van hierdie hindernisse. Die berg is steeds daar, maar dit is makliker om te klim.'''

Hy voeg by: "Ek wil almal aanmoedig om ons top fietsryers wat fondse vir #Move4Food insamel finansieel op GivenGain te ondersteun. Hulle het hard geoefen ter voorbereiding van die groot wedren om te verseker geen Matie gooi tou op in die akademiese wedloop weens 'n gebrek aan kos nie."

Ondersteuners word uitgenooi om by die US se gasvryheidstent by die eindpunt in Groenpunt 'n draai te maak, waar die nuwe US-kanselier, regter Edwin Cameron, ook sal wees.

  • Vir meer inligting, kontak vir Siya Ndlovu per e-pos by ndlovus@sun.ac.za of by tel: 021 808 4456.

Wil jy 'n finansiële bydrae maak?

Fotograaf: Stefan Els