Die Universiteit Stellenbosch (US) verwag dat hibriede leer studente teen 2025 altesame 25% van die totale studenteliggaam sal uitmaak. Volgens die US se inskrywingstatistieke van Junie 2018 is 11% van die instelling se studente reeds HL-studente.
Gemengde leer (blended learning) aan die US het oor die afgelope vyf jaar so ver gevorder dat die tyd nou aangebreek het om hibriede leer (hybrid learning of HL) verder uit te brei om universiteitstudies toeganklik te maak vir mense vir wie dit nooit beskore was om aan 'n universiteit te studeer nie. Met die inwerkingstelling van hibriede leer skaar die US hom by van die voorste internasionale universiteite wat ook hierdie tipe leer aanbied.
Prof Arnold Schoonwinkel, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, is opgewonde oor die toekoms van hibriede leer. Hierdie tipe leer is geskik vir mense wat reeds werk, nie klasse kan bywoon nie, maar steeds hul vaardighede wil opskerp. Vir sulke mense is die geleentheidskoste dikwels te groot om weer voltyds te studeer.
Hibriede leer is 'n metode van akademiese programaanbieding bestaande uit kort kontaksessies van 'n week of twee tussen die dosent en studente, gekombineer met aanlyn leer, virtuele klasaanbiedings, asook aanlynskakeling met dosente en medestudente. Gemengde leer, daarenteen, is klasaanbiedings wat gekombineer word met tegnologiegebruik op 'n pedagogies verantwoordbare manier. Gemendegeleertegnieke word dus gebruik vir beide studente wat voltyds en inwonend aan 'n universiteit studeer en vir studente in die werkplek wat deeltyds studeer. In beide metodes doen studente hul eie werk aanlyn of het hulle aanlyn toegang tot bykomende akademiese hulpbronne. Die US se HL-aanbiedingsmodel werk maksimaal in sinergie met die voltydse akademiese aanbiedings, sodat HL-studente ook by toeganklike gedigitaliseerde akademiese materiaal kan baat.
“Oor die afgelope vyf jaar is daar aansienlike vordering gemaak om die nuutste tegnologie by die US se leeromgewing en -ervaring in te werk. Dit volg ná 'n US Raadsprojek wat sowat ses jaar gelede begin is om informasie- en kommunikasietegnologieë te ondersoek en maniere te vind waarby Leer en Onderrig voordeel uit tegnologiese ontwikkeling kan trek," sê Schoonwinkel.
Van die transformerende aksies wat uit die raadsprojek gevloei het, is:
- Die totstandkoming van die hipermoderne Jannie Mouton-leersentrum met elektroniese klaskamers
- Nuwe netwerke en vinniger WiFi-beskikbaarheid vir studente;
- Die ontwikkeling van gemengde leer
- Aanskaffing van nuwe programmatuur vir studente-inligtingstelsels (SUNStudent).
- Die ontwikkeling van nuwe kursusse om dosente en studente op te lei in inligtingstegnologiegebruik vir onderrig en leer.
Om die aantal HL-studente te laat groei, is dit noodsaaklik dat die HL-akademiese programme ook moet uitbrei. Schoonwinkel sê daar sal nog 21 HL-programme van minstens een akademiese jaar en 120 krediete elk by die HL-program aanbieding gevoeg word. “Die verwagting is dat gemiddeld 250 studente vir elke program sal registreer."
Voorbeelde van HL-programme wat tans ontwikkel word, is:
- Nagraadse diploma in Strategiese Menslikehulpbronnebestuur (EBW)
- Biologie 124 module, asook 'n Honneurs in Bio-informatika (Natuurwetenskappe)
- MPhil in Kankerwetenskapnavorsing (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe)
- Nagraadse module oor die gedrag van strukture in brande (Ingenieurswese)
- Nagraadse diploma in Bos- en Houtwetenskappe (AgriWetenskappe)
“Die US het 'n uitstekende graadsukseskoers vir sy voltydse akademiese programme. Die HL-student se ervaring en sukseskoers moet voortbou op hierdie kenmerk van US. Beperkings op die US se fisiese infrastruktuur en ander hulpbronne maak dit baie moeilik om veel meer studente as tans op die tradisionele manier toegang te gee," sê Schoonwinkel.
Volgens hom kombineer die HL-strategie die sterk punte van die US om studentegetalle kostedoeltreffend te laat groei.
“Hibriede leer is 'n groot verandering vir ons en dit gaan die volgende groot golf by die US wees. Op die lange duur kan HL die gunstelingwyse word waarop mense wil studeer. Dit gaan ook 'n transformerende uitwerking op mense in die werkplek wat nie andersins toegang tot 'n universiteit kon kry nie, hê. Dit is welbekend dat die Vierde Industriële Revolusie baie mense gaan noodsaak om heropgelei te word."
In die Leer en Onderrig (L&O) Jaarverslag van 2019 wat onlangs voor die US Senaat en die US Raad gedien het, word genoem dat HL 'n uitkoms bied aan kontemporêre studente wat verkies om aanlyn te leer en 'n vryheid van keuse wil hê. Daar is 'n wêreldwye tendens dat almal nie meer noodwendig 'n volledige graad of diploma wil hê nie. Baie voornemende studente soek toegang tot kleiner kenniseenhede in die vorm van modules en kortkursusse. HL bied US die geleentheid om tot 'n groter mate op hierdie behoefte in te speel – ook vir internasionale studente.
Toenemende internettoegang en verbeterde sagteware verbreed mense se toegang tot studiegeleenthede, veral vir studente in onderontwikkelde lande. Afrika het die grootste en vinniggroeiende jeugpopulasie wat onderwys benodig, lui die L&O Jaarverslag verder. Volgens Schoonwinkel is die US 'n goeie posisie om 'n beduidende sosiale impak op ons vasteland te hê.
Huidige HL aanbiedings en ingeskrewe studente per module (Junie 2018)
Fakulteit | Program/Module | Aantal studente ingeskryf |
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe | Magister in Bedryfsadministrasie (deeltyds) | 3 431 |
| Baccalaureus in Publieke Administrasie Honneurs | 2 034 |
| Nagraadse diploma in sakebestuur en administrasie | 1 527 |
| Nagraadse diploma in MIV / VIGS-bestuur | 1 349 |
| Diploma in Openbare Aanspreeklikheid | 377 |
| Magister in Publieke Administrasie | 234 |
Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe | Nagraadse diploma in Verpleegkunde | 2 298 |
| Magister in Openbare Gesondheid / Voeding | 210 |
| Magister in Verpleegkunde | 104 |
| Baccalaureus in Verpleegkunde Honneurs | 26 |
Onderwys | Baccalaureus in Opvoedkunde Honneurs | 749 |
AgriWetenskappe | Magister in Voedsel- en Voedingswetenskappe | 69 |
Fakulteite | Totale studente-inskryfwings | Totale voltydse ekwivalent (VTE) studente | Hibriede leer VTE studente | Hibriede leer studente as 'n % van al die VTE studente |
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe | 8 927 | 7 026 | 1 451.1 | 20.7% |
Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe | 4 588 | 3 021 | 1 133.4 | 37.5% |
Onderwys | 1 854 | 1 604 | 74.9 | 4.7% |
AgriWetenskappe | 2 190 | 1 494 | 6.9 | 0.46% |
Totaal | 31 765 | 24 710 | 2 666.3 | 10.8% |