Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Let op die (geslags-)gaping in STEM-vakke
Outeur: Tashnica Sylvester
Gepubliseer: 12/02/2020

Op Dinsdag (11 Februarie) het ons die Internasionale Dag van Vroue en Jong Meisies in Wetenskap gevier. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf Dr Tashnica Sylvester van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe dat ons die geleentheid moet aangryp om volle en gelyke toegang tot en deelname aan wetenskap vir vroue en jong meisies te bevorder.

  • Lees die volledige artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Let op die (geslags-)gaping in STEM-vakke​ 

Geslagsgelykheid en ons samelewing se siening van jong meisies en vroue weeg die afgelope paar maande swaar op die gewetes van Suid-Afrikaners. Die waarde wat ons kultuur aan vroue heg en ons ingesteldheid jeens vroue is uitgedaag. Hierdie herwaardering van ons toewyding en verbintenis tot die bemagtiging van jong meisies en vroue strek ook sover as die sogenaamde STEM-vakgebiede (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde).

Volgens 'n verslag wat in 2018 deur UNESCO se Instituut vir Statistiek (UIS) uitgereik is, verteenwoordig vroue in STEM-vakgebiede minder as 30% van navorsers wêreldwyd. Dit dui op 'n groot behoefte aan dringende aandag en groot beleggings in vroue om in die STEM-vakgebiede te studeer en 'n bydrae te lewer. Hoewel die aantal vrouestudente en vroulike gegradueerdes in hoër onderwys die afgelope dekade bestendig toegeneem het, is vroue steeds in die minderheid in STEM-navorsingsberoepe. Dieselfde UIS-verslag dui aan dat 45% van die totale aantal navorsers in Suid-Afrika in 2015 vroue was, maar dat leierskap-, outoritêre en magsposisies steeds deur mans oorheers is.

Die gebrek aan geslagsvriendelike beleidsraamwerke, insluitende die voorsiening van versorgingsgeriewe vir kinders in die werkplek of die vestiging van programme om hertoetrede tot loopbane te fasiliteer, is van die groot bydraende oorsake dat vroulike wetenskaplikes die wetenskapberoep vaarwel roep, wat uiteindelik die geslagsgaping net verder vergroot. Wat dit verder vererger, is die feit dat potensiële werkgewers bereid is om manlike kandidate 'n hoër salaris vir die pos van laboratoriumbestuurder aan te bied as vir 'n vroulike aansoeker met presies dieselfde kwalifikasies, soos Corinne Moss-Racusin en haar medeskrywers in 'n artikel wat in 2012 in die Proceedings of the National Academy of Sciences verskyn het, bewys het.

Dit volg ondanks 'n onlangse verslag deur McKinsey (2018), getiteld “Delivering Through Diversity", wat die verband tussen diversiteit (hier gedefinieer as “'n groter gedeelte vroue en 'n meer gemengde etniese en kulturele samestelling in die leierskap van groot maatskappye") en die suksesvolle prestasie van 'n maatskappy danksy doeltreffende leierskap, produktiwiteit en waardeskepping uitlig. Toe die Amerikaanse Vereniging van Universiteitsvroue in 2015 probeer vasstel het waarom Amerikaanse vroue ingenieurswese vaarwel geroep het, is die verskille nie tussen die vroue self gevind nie, maar in die werksomgewings. Vroue wat hul loopbane verlaat het, het minder opleidings- en ontwikkelingsgeleenthede gehad, minder ondersteuning van medewerkers en opsieners geniet en minder ondersteuning vir die balanseertoertjie wat hulle tussen werk en hul nie-werkende rol moes uitvoer, gekry as ander vroue wat in die beroep gebly het.

Net so beïnvloed kulturele stereotipes en individuele faktore vroue se besluit om 'n loopbaan in die wetenskap te volg. In Suid-Afrika kan die tekort aan loopbaanondersteuning, soos vroulike mentors, netwerke en professionele groeigeleenthede, tesame met kulturele en maatskaplike verwagtinge, jonger vroue ontmoedig om 'n loopbaan in die wetenskap te volg. Dit word verder vererger deurdat geslagsensitiewe bevorderingsbeleide nie ingestel word nie, diskriminerende kulture en mikro-aggressie in die werkplek nie aangespreek word en aannames oor die rol van vroue in STEM, en in die breë samelewing, nie heroorweeg word nie. 'n Kultuur van gelykheid met gelyke waarde en vergoeding vir alle werknemers stel almal in staat om bevorder te word en dus sal almal in alle waarskynlikheid meer presteer, groei en innoverend wees.

Daar is wêreldwyd 'n besef dat geslagsvooroordele nie net ongelykheid tussen die geslagte in die hand werk nie, maar ook kennisvervaardiging beïnvloed. Om vroue en jong meisies se deelname in die wetenskap te bevorder, beteken dat ingesteldhede moet verander om geslagsvooroordele en stereotipes wat jong meisies se verwagtinge en professionele doelwitte beperk, te beveg. Dit beklemtoon die belangrikheid van deelname aan wetenskapskakeling of -uitreikaksies. Hoogs sigbare wetenskaplikes word al hoe meer as invloedryke leiers in STEM bestempel, met 'n spesiale rol om wetenskap deel van die samelewing se hoofstroom te maak.

In 'n onlangse studie wat in die South African Journal of Science (2017) verskyn het, ondersoek Marina Joubert en Lars Guenther die sigbaarste wetenskaplikes in Suid-Afrika. Hulle bevinding is dat terwyl net 8% van alle Suid-Afrikaners wit is, is 78% van die mees sigbare wetenskaplikes tans wit, en hiervan is 63% mans. Hierdie syfers ondersteun die opvatting dat die wetenskap in Suid-Afrika 'n domein is wat vir wit mans bedoel is.

Dit is duidelik dat ons die sigbaarheid van vroue in STEM in Suid-Afrika moet verhoog ten einde jong vroue en jong meisies te inspireer en te bemagtig om hierdie (STEM-)rolle op te neem. Dit beteken platforms moet geskep word om bekwame en ontluikende vroue in die wetenskap te vier en om plaaslik en internasionaal in oop en samewerkende gesprekke te tree. Deur organisasies soos die Vereniging van Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap en Ingenieurswese, Black Women in Science en die Organisasie vir Vroue in Wetenskap in die Ontwikkelende Wêreld te ondersteun en aan jaarlikse geleenthede soos die Nasionale Navorsingstigting se Wetenskapweek deel te neem, vestig ons nie net die jeug nie, maar ook die internasionale gemeenskap se aandag op die uitstekende werk wat Suid-Afrika se vroulike navorsers doen.  

Terwyl ons op 11 Februarie die Internasionale Dag van Vroue en Jong Meisies in Wetenskap gevier het, moet ons erkenning gee aan die kritiese rol wat vroue en jong meisies in wetenskap en tegnologie speel. Ons moet ook die geleentheid aangryp om volle en gelyke toegang tot en deelname aan wetenskap vir vroue en jong meisies te bevorder. Hul bydraes wat rasse-, kulturele en geslagsdeelname aan STEM diversifiseer, lei tot verbeterde innovasie, ontwikkeling en kulturele vooruitgang. Wetenskapverwante vakgebiede speel 'n sentrale rol in die ontwikkeling van die agenda vir volhoubare ontwikkeling en daarmee saam ook ekonomiese groei. Die huidige onderverteenwoordiging van vroue in STEM in leierskapposisies lei egter tot 'n verlies aan idees en insigte, wat weer ons nywerheids-, ekonomiese en ontwikkelingspotensiaal belemmer.

Ons moet voortdurende daaraan werk om jong meisies aan te moedig om nie net loopbane in die wetenskap te volg nie, maar om innoveerders in hul eie gemeenskappe te word. Net so moet ons ook daarna streef om jong seuns op te voed oor geslagsgelykheid.

Volgens Accenture (2017) is die geheim van innovasie 'n kultuur van gelykheid in die werkplek. Vroue bring vaardighede na die werkplek wat nie net produktiwiteit verhoog nie, maar ook innovasie en impak bevorder. Indien instellings, hetsy openbaar, privaat of akademies, nie net wil oorleef nie, maar wil floreer, moet hulle meer doen om “gelyk te word".

Foto: Vroue-navorser in 'n laboratorium. Krediet: Pixabay.

*Dr Tashnica Sylvester is 'n postdoktorale navorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en is ook 'n lid van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap en Ingenieurswese.